“God kán wonderwerke doen.”
Dié wete dra die 11-jarige akteur Johannes Jordaan met hom saam. Want, as drie weke oue babatjie is hy deur vroue, wat gehoorsaam was aan God, van ’n gewisse dood gered.
Ilse Jordaan, Johannes se aanneemma, vertel in die ateljee waar LiG: God se krag in my krisis opgeneem word hoe God dié blondekop seuntjie op ’n wonderbaarlike manier gered het.
“My ma werk vir die organisasie Shiloh en iemand het haar kom vertel van die klein babatjie wat in ’n plakkerskamp gewoon het. Die vrou was bekommerd, want sy ma was nie in staat om na hom om te sien nie,” vertel Ilse.
Ilse, ’n visuele kunstenaar van Brackenfell, onthou hoe haar ma Delene Kleyn later die aand baie onrustig was oor die baba. Uiteindelik het sy mede-kollegas van Shiloh, ’n organisasie wat opheffingswerk in minderbevoorregte gemeenskappe doen, gestuur om te gaan ondersoek instel. Met aankoms het hulle gesien Johannes is ontwater en baie siek. Hulle het hom na die hospitaal gehaas. Volgens Ilse het die dokter gesê as hulle hom ’n bietjie later gebring het, sou hy dit nie gemaak het nie.
Klein Johannes was ook die vervulling van ’n profesie wat Ilse, wat toe reeds twee dogters gehad het, ontvang het. Die profesie was duidelik dat sy en haar man uiteindelik drie kinders gaan hê, vertel Ilse. Haar man was egter seker dat hulle twee dogters meer as genoeg was.
Ilse het toe gebid dat God haar man se hart sal verander omdat sy ervaar het klein Johannes is húlle seuntjie. Haar man het toe inderdaad van plan verander toe hy klein Johannes later by sy pleegma vir die eerste keer sien. Vandag is Johannes al meer as 11 jaar deel van die Jordaan-gesin.
Johannes se boodskap aan ander aanneem-kinders is: “Weet net dat jou pappa nie hier op die aarde is nie, maar in die hemel.”Johannes was die jongste akteur in die Racheltjie de Beer-fliek en het ook in die reeks Nêrens, Noord-Kaap ’n rol vertolk.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.