Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Aktiwiteite vir kinders wat sê: “Mamma, ek is verveeld!”

Blindemol

Raad-op met verveelde kinders? Hier is aktiwiteite vir kinders van elke ouderdom en vir elke smaak!

Binne-pret met dié aktiwiteite vir kinders

Skakel die televisie af en probeer een van hierdie binne-aktiwiteite.

  • Gee vir elke kind sosatiestokkies, rekkies, ’n plastieklepel en ’n paar malvalekkers en laat hulle ’n katapult bou. Kyk wie se malvalekker die verste kan skiet.
  • Of maak ’n malvalekker-kettie van ’n ronde plastiekglasie en ’n ballon. Sny die onderste deel van die glasie af. Maak ’n knoop in die ballon, sny dit in die helfte en trek die helfte met die knoop oor die bakkie. Plaas mini malvalekkers (of pom-poms) binne-in die bakkie (waar die ballon se knoop is), trek die ballon terug en laat waai! (Wenk: Hierdie ketties kan regtig skiet!)
  • Laat kinders modelle met tandestokkies en jellietots bou. Stel sekere uitdagings (kyk of jy ’n tafel, stoel of speelding kan ontwerp) of blinddoek die kinders en laat hulle sό bou.
  • Het jou kinders te veel energie? Skuif die stoele weg en laat hulle ballon-tennis speel. Maak eenvoudige spane van papierborde en plastiek lepels en gebruik ballonne as balle. Of laat die kinders handtennis met die ballonne speel.
  • Hou ’n sneeubalgeveg wanneer die koue weer julle dwing om binne te speel. Gee vir die kinders ou koerant- of ander papier, laat hulle dit opfrommel en mekaar daarmee gooi. (Wenk: Hierdie aktiwiteit verg min voorbereiding en toesig.)

Buite-pret met dié aktiwiteite vir kinders

Maak die meeste van jou agtertuin met die volgende aktiwiteite:

  • Buite aktiwiteite vir kinders
    Teken ’n aktiwiteitsbaan met bordkryt op die tuinpaadjie of stoep. Teken enige aantal vorms (na gelang van jou kinders se ouderdomme) met instruksies soos die volgende: spring, raak aan jou tone, hardloop terug na die begin of doen ’n hasie sprong. Laat kinders elke keer na ’n ander vorm hardloop wanneer jy jou hande klap of ’n sekere woord uitroep. (Wenk: Julle kan hierdie aktiwiteit verskeie kere speel, pas net elke keer die speletjie effens aan.)
  • Speel dié lekker variasie op die tradisionele blindemol: een kind moet geblinddoek ’n eenvoudige hindernisbaan voltooi, terwyl sy maat instruksies skree of hom aan die arm lei. (Pas dit aan na gelang van jou kinders se vermoёns.) ’n Paar kinders kan dit gelyk doen, sorg net dat elke kind wat geblinddoek is, ’n maat het.
  • Mielieblom en water maak ’n heerlike slym waarmee jong kinders baie lekker speel. Laat die kinders self die water bietjie vir bietjie bygooi totdat dit die regte dikte is. (Wenk: Laat die kinders oor ’n groot bak speel. Indien jy dit in die son los om uit te droog, kan jy dit weer die volgende dag gebruik.)
  • Gebruik ou blikkies om rolbal te speel. Pak dit in ’n piramiede en laat die kinders dit met ’n bal of boontjiesakkie probeer omgooi. Wanneer hulle sukses behaal, kan hulle een tree terug gee en weer probeer.
  • Maak ’n geheuespeletjie wat kinders op die gras kan speel. Plak prentjies op skoon papierborde, daar moet twee van elke prentjies wees. Skommel die borde, draai om en pak in rye op die gras. Elke kind kry kans om twee borde om te draai. As die twee borde verskil, word dit weer omgedraai. As dit dieselfde is, kry daardie kind die stel. (Wenk: Hierdie speletjie werk veral goed met voorskoolse kinders. Vir ouer kinders kan jy dit aanpas deur letters, syfers of woorde te gebruik.)

Bybelse aktiwiteite

Die volgende aktiwiteite werk lekker wanneer ma die dag kan saamspeel.

  • Hou ’n Bybelse skattejag in die tuin. Vra jou kinders om die volgende te gaan soek: iets wat jou daaraan herinner dat sonde alles lelik maak, iets wat jou daaraan herinner dat God ons harte weer skoon was, iets rooi wat jou aan Jesus se kruisdood herinner, twee stokkies wat jy in die vorm van ’n kruis kan pak en iets mooi wat wys dat God elke dag skep en alles nuut maak. Soek ook voorwerpe (klippies of blare) waarmee julle ’n mooi hart kan pak. Leer Johannes 3:16 en 1 Johannes 4:19.
  • Verf klippe
    Verf gladde klippe in verskillende kleure en skryf julle gesin se gebedsversoeke of die Vrugte van die Gees daarop. Julle kan die klippe tydens Bybelstudie gebruik.
  • Lees die verhaal van die Goeie Herder en jaag dan skape aan. Plaas ’n klomp opgeblaasde ballonne (die skape) in die middel van die vertrek en gee aan elke kind ’n opgerolde koerant (’n herderstaf). Kies vir elke kind ’n hoek van die vertrek wat sy kraal is. Elkeen moet kyk hoeveel skape hy na sy kraal kan aanjaag met die staf.
  • Ontdek ’n geheime boodskap uit die Bybel: skryf ’n Bybelteks met wit kryt op ’n papier en laat jou kinders met verskillende kleure waterverf daaroor verf om dit te ontsyfer.

Vingerpret

  • Gee vir elke kind ’n papier waarop die buitelyne van ’n gesig geteken of gedruk is saam met ’n paar tydskrifte. Kinders moet oё, monde, neuse, hare ensovoorts uit die tydskrif knip en die gesigte daarmee voltooi.
  • Plak ’n prentjie uit ’n tydskrif in die middel van ’n skoon vel papier. Kinders moet die prent verder teken. (Wenk: Gebruik ’n onvolledige prent, soos die voorkant van ’n motor of ’n mens of dier se gesig.)
  • Laat kinders hulle hande en voete op ’n groot A2 of A1 prent afteken. (Die voete onder en die hande in die middel van die prent.) Teken ’n lyf wat die hande en voete verbind – dit sal amper lyk asof jou mannetjie in die ruimte sweef!
  • Versier ’n prentjie met oorskiet knopies. Gebruik knopies om bome se bloeisels te maak of sommer om ’n patroon op jou skilpad of slak se dop te maak.

Aktiwiteite vir ouer kinders

Dis nie aldag maklik om ouer kinders kreatief besig te hou nie. Probeer die volgende:

  • Maak ’n albaster doolhof uit ’n vlak kartonboks, strooitjies en enigiets anders wat jy in jou baan wil gebruik. Ander buise of boksies kan gebruik word om jou baan moeiliker te maak of hellings te vorm. Kan iemand ’n albaster deur jou doolhof beweeg deur net die boks van kant tot kant te beweeg?
  • Vingerbrei kan kinders vir ure besig hou! Kyk hier vir volledige instruksies.
  • Maak ’n weefbord uit ’n stuk laaghout en spykers. Kinders kies self die vorm wat hulle wil weef, teken dit op die hout na en kap dan die spykers al op die rand in. Weef nou met verskillende kleure wol tussen die spykers deur om ’n prent te vorm.
  • Origami is kunsvorm met eindelose moontlikhede. Klik hier vir instruksies om ’n eenvoudige pop te maak. Maak sommer ’n hele familie! Of klik hier vir nog projekte.

Hier is nog aktiwiteite vir verveelde kinders.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF