Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

21 vakansie-aktiwiteite vir verveelde kinders

Vakansie-aktiwiteite vir verveelde kinders

Is jy ook dikwels raadop met verveelde kinders? Dit is tog nie jou skuld dat dit skoolvakansie is nie, of dat dit buite reën of ysig koud is nie. Hier is kreatiewe, innoverende en maklike maniere om jou kinders besig te hou. 

Binne-aktiwiteite vir verveelde kinders

Eendeweer of te koud om buite te speel? Skakel die televisie af en probeer een van hierdie binne-aktiwiteite (of klik hier vir maniere om gehaltetyd met jou kind deur te bring):

Binne-aktiwiteit 1 | Malvalekker-kettie

Vakansie-aktiwiteite Malvalekker-kettie

Maak ’n malvalekker-kettie van ’n ronde plastiekglasie en ’n ballon. Doen dit só: Sny die onderste deel van die glasie af. Maak ’n knoop in die ballon, sny dit in die helfte en trek die deel met die knoop oor die bakkie. Plaas mini-malvalekkers (of pom-poms) binne-in die bakkie, daar waar die ballon se knoop is. Trek die ballon terug … en laat waai! 

• Gee aan elke kind sosatiestokkies, rekkies, ’n plastieklepel en ’n paar malvalekkers – en laat hulle ’n kettie bou! Kyk wie se malvalekker trek die verste. (Waarskuwing: Hierdie ketties skiet regtig! Wees dus versigtig.)

Binne-aktiwiteit 2 | Modelle met lekkers en tandestokkies

Vakansie-aktiwiteite Modelle-met-lekkers-en-tandestokkies

Laat verveelde kinders modelle met tandestokkies en Jellie Tots bou. Gee hulle allerlei uitdagings daarby, byvoorbeeld: Kyk of jy ’n tafel, stoel of speelding kan ontwerp. 

Of blinddoek die kinders en laat hulle bou.

Binne-aktiwiteit 3 | Ballon-tennis vir woelige, verveelde kinders

Vakansie-aktiwiteite Ballontennis

Het jou kinders te veel energie vir ketties en bouwerkies? Skuif dan die stoele weg en laat hulle ballon-tennis speel. Maak eenvoudige spane van papierborde en plastieklepels en gebruik ballonne as balle. Of laat hulle handtennis met die ballonne speel.

Binne-aktiwiteit 4 | Papierbal-geveg

Hou ’n sneeubalgeveg binnenshuis as die koue julle nie wil laat buitentoe gaan nie. Gee die kinders ou koerante of enige ander soort papier, laat hulle dit opfrommel en mekaar daarmee gooi. 

(Dankie tog! Hierdie aktiwiteit verg min voorbereiding en weinig toesig.)

Buite-aktiwiteite vir verveelde kinders

Maak die meeste van die sonnige wintersdae met die volgende aktiwiteite:

Buite-aktiwiteit 1 | Aktiwiteitsbaan

Teken ’n aktiwiteitsbaan met bordkryt op die tuinpaadjie of stoep. Teken enige aantal vorms – na gelang van jou kinders se onderskeie ouderdomme – met instruksies soos die volgende: spring; raak aan jou tone; hardloop terug na die begin; doen ’n hasie-sprong. Laat die kinders elke keer na ’n ander vorm hardloop wanneer jy jou hande klap of ’n sekere woord uitroep. 

Wenk: Julle kan hierdie aktiwiteit ver­skeie kere doen; pas die speletjie elke keer net effens aan.

Buite-aktiwiteit 2 | Blindemol

Speel dié lekker variasie op die tradisionele blindemol: Een kind moet geblinddoek ’n eenvoudige hindernisbaan voltooi, terwyl ’n maat instruksies skree of hom/haar aan die arm lei. Pas dit aan na gelang van jou kinders se onderskeie vermoëns. ’n Paar kinders kan dit tegelyk doen – sorg net dat elke geblinddoekte speler ’n maat het.

Buite-aktiwiteit 2 | Slymklei

Verveelde kinders Slymklei

Mielieblom en water maak ’n heerlike slymerige(!) soort klei waarmee jong kinders baie lekker kan speel. Laat die kinders self die water bietjie vir bietjie by die mielieblom gooi, totdat dit die gewenste tekstuur het. 

Wenk: Laat die kinders oor ’n groot bak speel. Indien jy dit ná die tyd in die son los om droog te word, kan jy dit die volgende dag weer gebruik.

Buite-aktiwiteit 3 | Geheuespeletjie

Verveelde kinders Geheuespeletjie

Maak ’n geheuespeletjie wat verveelde kinders op die gras kan speel. Plak prentjies op skoon papierborde, en sorg dat daar twee eenderse weergawes van elke prentjie is. Draai die borde om en pak dit in rye op die gras uit. Elke kind kry kans om twee borde om te draai. As die twee prentjies van mekaar verskil, is dit ’n volgende maat se beurt. Wanneer dieselfde prentjie op die twee omgedraaide papierborde verkry word, wen daardie kind die stel. 

Wenk: Hierdie speletjie werk veral goed by voorskoolse kinders. Jy kan dit vir ouer kinders aanpas deur letters, syfers of woorde te gebruik in plaas van prentjies.

Buite-aktiwiteit 4 | Kegelbal

Gebruik ou blikkies om kegelbal te speel. Pak dit in ’n piramide en laat die kinders dit met ’n bal of boontjiesakkie probeer omgooi. Wanneer jou kinders sukses behaal, kan hulle een tree terug gee en weer probeer.

Bybelse pret vir verveelde kinders

Dié aktiwiteite werk lekker wanneer Mamma die dag kan saamspeel.

Bybelse aktiwiteit 1 | Verf klippe

Verveelde kinders Klipverf

Verf gladde klippe in verskillende kleure en skryf jul gesin se gebedsversoeke of die vrug van die Gees se verskillende gestaltes daarop. Julle kan dié klippe daarna tydens Bybelstudie gebruik. 

Bybelse aktiwiteit 2 | Bybelse skattejag

Hou ’n Bybelse skattejag in die tuin. Vra jou kinders om die volgende te gaan soek:
• iets wat jou daaraan herinner dat sonde alles lelik maak 
• iets wat jou daaraan herinner dat God ons hart weer skoon was 
• iets roois wat jou aan Jesus se kruisdood herinner 
• twee stokkies wat jy in die vorm van ’n kruis kan pak 
• iets moois wat wys dat God elke dag skep en alles nuut maak 
• Soek ook voorwerpe (klippies of blare) waarmee julle ’n mooi hart kan pak. Leer Johannes 3:16 en 1 Johannes 4:19.

Bybelse aktiwiteit 3 | Die skaapwagter

Lees die verhaal van die goeie herder – en jaag dan skape aan. Doen dit só: Plaas ’n klomp opgeblaasde ballonne (die skape) in die middel van die vertrek en gee aan elke kind ’n opgerolde koerant (’n herderstaf). Kies vir elke kind ’n hoek van die vertrek wat sy of haar kraal is. Hulle moet probeer om soveel skape moontlik met die staf na sy of haar eie kraal aan te jaag.

Bybelse aktiwiteit 4 | Geheime boodskap

Bybelse aktiwiteit Geheime boodskap

Ontdek ’n geheime boodskap uit die Bybel: Skryf ’n Bybelteks met wit kryt op ’n stuk papier en laat jou kinders met verskillende kleure waterverf daaroor verf om dit te ontsyfer.

Vingerpret vir kinders

Verveelde kinders Plak 'n gesig

1. Gee aan elke kind ’n stuk papier waarop die buitelyne van ’n gesig geteken of gedruk is. Asook ’n klompie tydskrifte. Die kinders moet dan byvoorbeeld oë, monde, neuse en hare uit die tydskrif knip en die gesigte daarmee voltooi. 

2. Plak ’n prentjie uit ’n tydskrif in die middel van ’n skoon vel papier. Die kinders moet nou die prent verder teken. 

Wenk: Gebruik ’n onvolledige prent, soos die voorkant van ’n motor of ’n mens of dier se gesig.

3. Laat die kinders hul hande en voete op ’n groot A2 of A1-prent afteken, met die voete onder en die hande in die middel van die prent. Teken nou ’n lyf wat die hande en voete met mekaar verbind. Dit sal kompleet lyk asof jou getekende mannetjie in die ruimte sweef! 

4. Versier ’n prentjie met oorskietknopies. Gebruik die knopies om bome se bloeisels te maak, of sommer om ’n patroon op ’n skilpad of slak se dop te maak.

Verveelde kinders Kuns met knope

Aktiwiteite vir ouer kinders

Dit is nie aldag maklik om ouer kinders kreatief besig te hou nie. Probeer die volgende:

1. Maak ’n albaster-doolhof uit ’n vlak boks en strooitjies en enigiets anders wat jy vir die baan wil gebruik. Ander buise of boksies kan gebruik word om die baan moeiliker te maak of om hellings te vorm. Die speletjie is: Kan iemand ’n albaster deur die doolhof beweeg deur bloot die boks van kant tot kant te beweeg?

2. Vingerbrei kan kinders ure lank besig hou! Kyk hier vir volledige aanwysings. 

Wenk: Dit werk baie lekker op die lang pad.

3. Maak ’n weefbord uit ’n stuk laaghout en spykers. Die kinders kies self die vorm wat hulle wil weef. Dan teken jy of hulle dit op die hout na en kap die spykers al op die rand in. Weef nou met verskillende kleure wol tussen die spykers deur om ’n prent te vorm.  

4. Origami is ’n kunsvorm met eindelose moontlikhede. Kyk hier vir die aanwysings om ’n eenvoudige pop te maak. Maak sommer ’n hele familie! Of klik hier vir verdere projekte.

Beste items om byderhand te hou vir verveelde kinders

Die volgende items is maklik bekombaar, goedkoop en kan vir baie pret sorg. Belê vroegtydig in een of meer van die volgende en haal dit uit jou towerhoed wanneer die nood (of die weer of die kinders) druk:

• ’n pakkie ballonne 
• hoepels 
• een of meer plastiekballe 
• borrels wat geblaas kan word 
• speelklei 
• leë boeke met nuwe kokipenne, kryte of gekleurde penne 
• papier en karton van verskillende kleure en teksture 
• leë bokse van verskillende groottes (vra by jou plaaslike supermark) 

Projekfoto’s deur Mariska Senekal geneem.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF