Amor Vittone word vanjaar vyftig. En ongeag die seer van die verlede, fokus hierdie bedrywige enkelma op haar twee talentvolle en sportiewe kinders, op haar eie kreatiwiteit en op haar sakebelange. LiG was bevoorreg om haar storie uit haar eie mond te hoor.
DEUR DEONETTE DE KOCK
Op amper-vyftig is Amor steeds ’n sprankelende, pragtige vrou. Lief vir die lewe, vir haar kinders, Jordan (18) en Kylie (16), en haar werk.
Amor en haar kinders (uit haar huwelik met die Springbok-legende Joost van der Westhuizen) woon nou al 17 jaar in dieselfde huis in die noorde van Johannesburg. Hulle het ’n lekker tuin, oulike hondjies en baie liefde vir mekaar.
Amor vertel: “Hoewel ek graag in ’n kleiner opset sou wou leef, is die boedel ná vyf jaar nog nie afgehandel nie. Ek moet baie hard werk om die huis te onderhou en brood op die tafel te sit.
“Ek het destyds my huwelik met Joost verlief en naïef ingegaan en ons is binne gemeenskap van goedere getroud. Dis my eie skuld. Die ander party wat hier betrokke is se advokate reageer nie op my navrae nie. Ek hét al gevra dat ons om ’n tafel gaan sit en dinge uitpraat, maar hulle wil niks daarvan weet nie. Ek wil niks hê nie; ek wil net hê my kinders moet kry wat hulle toekom.
“Daarom het ek ’n week gelede ’n nuwe senior advokaat aangestel om hierdie saak af te handel sodat ek met my lewe kan voortgaan.”
Die kinders mis hul pa baie. “Suid-Afrikaners onthou Joost veral as ’n wêreldbekende sportman, die legendariese skrumskakel wat later siek geword het. Terwyl sy kinders hom veral onthou as ’n man in ’n rolstoel. Saam met al die lelike dinge wat in die media oor hom gesê is.
“En hulle onthou ’n ma wat baie huil.
“Ek is met twee wonderlike kinders geseën. Kylie is by my en Jordan speel tans sokker in Spanje”
Amor – wat ook ’n aktrise, ’n voormalige danskampioen en ’n sangeres is – bedryf ’n kreatiewe blog onder haar eie naam waar sy haar AV Collection bemark. Dit sluit haar eie klerereeks, parfuum, skoonheidsprodukte, juweliersware en handsakke in. Die klerereeks is in November 2021 van stapel gestuur, en dié onderneming begin nou goed vaar.
“Ek sê dankie aan my Skepper vir die geleentheid om dit te kan doen. Ek is lief vir Hom en ek is positief oor die toekoms. My kinders is groot en dis nou my tyd om my kreatiwiteit uit te leef.
“Dis wel swaar om te aanvaar dat hulle nou nie meer hul mamma se hand so nodig het nie …”
‘Ek het amper my geloof weggegooi’
Amor sê sy wens soms sy was geduldiger en het meer tyd saam met haar kinders deurgebring. In plaas daarvan om voortdurend die dramas wat met Joost verband hou te probeer ontleed. In plaas van die gevegte met die media.
“Dit was alles so onnodig. Ek het baie gehuil, ek wou moed opgee. Ek wou baiekeer met my kar in ’n muur in ry, totdat die Here aan my gesê het dat ek twee kinders het na wie ek moet omsien.
“Dis moeilik om deur sulke storms te gaan, om dinge oor jouself te lees wat regtig nie die waarheid is nie. Ek kan dít nog met ’n knippie sout neem – maar wat my kinders betref … Ek sal vir hulle baklei, ek sal dit in die hof gaan doen as dit moet.
“Maar ek glo die Here het ’n tyd en ’n plek met alles, en dat die waarheid sal seëvier. Gelukkig het ek baie ondersteuning op Facebook en Instagram. En my ouers, my rolmodelle, ondersteun my en help altyd waar hulle kan.”
LEES OOK: Tatjana Schoenmaker: ‘Ek moes eers leer dit gaan nie oor myself nie, maar oor my Skepper’
Haar geloofsreis het nie altyd voor die wind verloop nie. Sy vertel: “In ’n stadium het ek my geloof amper weggegooi. Ek het gedink daar is niemand wat na my kyk nie. Ek was alleen, ek het gewonder hoekom alles met my gebeur. Op ’n keer het ek dinge teen ’n muur gesmyt dat dit breek, ek het geskree. Ek het ’n glas wyn afgesluk en gedink dis nie vinnig genoeg nie. Ek het geslaap om weg te kom van al die geraas in my kop.
“Maar gaandeweg het die vrede gekom …
“Uiteindelik het my geloofspad ná die seer tyd met Joost my baie sterker gemaak. Ek moes deur alles gaan om ’n beter mens te word. Nou waardeer ek die lewe opnuut.”
’n Sokkerspeler en ’n perderuiter
Amor vertel dat Jordan en Kylie nie juis in uitgaan belangstel nie. Hulle is baie dapper, sê sy, al twee het ’n sterk persoonlikheid en is baie sportief.
“Ek het kinders met ’n pragtige hart, hulle is verantwoordelik, hulle weet wat hulle in die lewe wil hê.”
Jordan leef na aan die Here, sê sy ma. Hy vertel hoe die Here dikwels met hom praat. Hy is tans in Spanje waar hy op sy sokkerloopbaan fokus, terwyl Kylie haar op ruiterkuns toespits.
Die sportgene kry hulle van sowel hul pa as hul ma. Amor het op hoërskool Suid-Afrikaanse kleure vir verspring verwerf. En sy was sewe agtereenvolgende jare ’n Suid-Afrikaanse danskampioen.
Amor vertel oor Jordan: “Hy mag as gevolg van sy kogleêre inplanting nie kontaksport beoefen nie. Sokker is sy passie.
Sy talent is onlangs deur ’n Britse sportagent raakgesien en hy is twee weke lank na die Valencia Development Academy in Spanje gestuur om sokker te speel. Daarna het die klub besluit om hom vir ’n proeftydperk by hulle te hou.
“Jordan wil nie terugkom huis toe nie. Hy is mal oor Spanje. Ek mis hom baie en huil lang trane. Maar eintlik is dit trane van vreugde oor ’n kind wat sy gehoor op drie verloor het en op tien jaar ’n kogleêre inplanting moes ondergaan. Dit wys jou hoe ’n kind met ’n gestremdheid steeds kan uitblink.”
Hy oefen ongeveer ses ure per dag saam met sy span. “Hy sê altyd vir my: ‘Mom, it’s 80% of what you want; 20% is talent. I want to play soccer and I want to be the best goalkeeper in the world. I want to buy Kylie a horse. And look after Kylie, you, Nonno (sy oupa) and Nonna (sy ouma). I want to give you what daddy promised and never gave us. Therefore I am going to work very hard.’”
Elke laatmiddag studeer hy aanlyn saam met sy tutor in Suid-Afrika. Amor sê sy praat letterlik elke dag met die afrigters. En sy hanteer al Jordan se administratiewe sake.
Amor vertel oor Kylie: “Sy is doelgerig, sy weet wat sy uit die lewe wil hê, sy laat haar nie onderkry nie. Sy is baie onafhanklik.
“Sy is baie lief vir perdry en oefen vier tot vyf uur per dag. Naweke is daar gewoonlik perdespringkompetisies. Kylie gaan elke dag stalle toe, en daar praat, voer en was sy die perde.
“Buiten haar eie perd, hanteer sy ook ander perde. Sy ry hulle en rig hulle af. Só verdien sy haar eie geld. Sy vaar uitstekend in die perdespringkompetisies. Sy het byvoorbeeld verlede jaar by die grootste Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen, ’n kompetisie wat die stempel dra van die Fédération Equestre Internationale (FEI) wat die wêreldbeheerliggaam vir perdespring is.
Kylie het Proteakleure verwerf toe sy maar 13 was, en daardie einste jaar was sy vierde by die wêreldbyeenkoms. Haar kop staan België, Nederland en Spanje toe om daar te gaan perdry. Sy wil eendag by die Olimpiese Spele meeding.
“Sy is ook baie lief vir fotografie,” vertel haar ma. “En veral vir portretstudies van perd-en-ruiter.”
“Ek en my kinders het ’n baie hegte verhouding, daar is baie liefde tussen ons. Jordan sal my soms met ’n bos blomme bederf, en Kylie met iets van Woolworths of ’n Body Shop.”
Amor en Kylie praat amper elke aand met Jordan deur middel van ’n video- of ’n stemoproep. Hy keer eers Juniemaand terug. Maar indien hy ’n kontrak daar losslaan, sal dié terugkeer van korte duur wees. “Net so drie weke om sy visum in orde te kry, en dan is dit weer Spanje toe.”
‘’n Goeie, Christelike man’
Daar is tans niemand spesiaals in Amor se lewe nie. “As die liefde na my toe kom, sal dit great wees. Ek sal ’n goeie, Christelike man verkies, iemand met goeie waardes.”
Sy lag. “Hy moet natuurlik vir my mooi wees; daar moet darem vlinders in my maag wees as ek hom sien. Ek is al vyf jaar alleen, en lank voor dit het ek en Joost glad nie by mekaar uitgekom nie.
“En omdat ek nog die verlede het om af te handel, weerhou dit my ook daarvan om iemand anders op ’n spirituele vlak te ontmoet.”
Die seerkry het haar sterk gemaak. Sy is weer “die ou Amor”. Die kreatiewe Amor, die vrou wat baie dinge aanpak, wat iets in die lewe wil bereik.
En al is daar nog baie rofies wat soms afgeruk word, is sy positief en vol moed. Die Here het te midde van al die storms ’n pad met haar gestap. Hy het haar na kalmer waters geneem waar sy weer haar kreatiwiteit teruggekry het.
“Ek dink daaraan om ’n album met geestelike musiek op te neem,” verklap sy. “Omdat ek hierdie jaar vyftig word, wil ek nuut begin. Ek is só geseënd, en ek wil dankie sê aan my ouers, en die Here, wat my deur moeilike tye gedra het. My toekoms lyk blinker as ooit. Nou wil ek net voluit lewe, vir die Here en vir my kinders.”