Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘As 6-jarige het ek al ’n oefenprogrammetjie uitgewerk’

Elizabeth Coetzee se negatiewe liggaamsbeeld het reeds as klein dogtertjie begin.

Sy onthou: “As sesjarige dogtertjie wat skaars kon skryf sou ek vir my ’n oefenprogrammetjie in gebroke skrif uitwerk.”

In haar tienerjare het sy steeds gedink sy moet iets doen om aanvaarbaar te lyk. “Toe ek 15 was wou ek aansluit by die gim, maar my ma kon dit nie bekostig nie. Toe sê die eienaar ek kan begin om aerobics aan te bied. Ek het toe ’n kursus gedoen en later klasse gegee om daar te kon oefen,” vertel Elizabeth wat vandag in Brackenfell woon.

Volgens Elizabeth was sy as kind regtig “maer en fyn”, maar sy onthou hoe sy gedink het sy lyk nie soos die ander meisies in die gimnasium nie. “Ek het toe bulimie ontwikkel. Dit was ’n geval van ek eet nóú hierdie sjokolodade of sjokoladekoek en dink dadelik aan wat gaan gebeur as ek nie dit verbrand nie. Ek het nie die kennis gehad van hoe om jou kalorieë te beperk of hoe om gebalanseerd te eet nie.”

Daarna het Elizabeth bulimie vir ooreet-steurnis (binge eating) verruil. Sy onthou hoe sy dan deur die dag absoluut niks geëet het nie en dan in die nag skelm gaan eet het. En toe sy voel dis nie meer voldoende nie het sy begin dieetpille drink. “Daar was net nooit ’n balans nie. Ek kon nooit iets eet en nie skuldig voel nie,” vertel dié pragtige vrou gemaklik voor die kamera in die ateljee waar LiG: God se krag in my krisis opgeneem word.

Ongelukkig het daar toe boonop iets gebeur wat Elizabeth in erge depressie laat verval het. Sy was 18 toe haar ouer kêrel haar een aand verkrag het. Sy vertel hoe sy daarna net harder geoefen het, maar dit wou nie die depressie of negatiewe beeld van haarself “wegneem” nie. “Ek het gedink ek sal minder depressief voel as ek beter lyk,” vertel Elizabeth.

Sy het later anti-depressante begin drink maar steeds, vertel sy, was haar denke oor kos nooit onder beheer nie. “Wanneer dinge moeilik was of ek baie gestres het, het ek geëet.” Boonop het haar depressie na die geboorte van haar eerste kind weer opgevlam.

Tot daar ’n keerpunt in 2014 gekom het. “Ek het reeds in 2013 my hart vir die Here gegee. Die jaar daarna was ek so moedeloos oor my ongesonde denke dat ek begin het om na hulp te soek.”

Na ’n lang pad na genesing help Elizabeth vandag ander vroue wat met ’n ongesonde liggaamsbeeld en steurnisse sukkel.

“Ek sal vroue altyd na God teruglei, want ons kan nie ons gees van ons liggaam skei nie. Maar nie almal is reg om daar te begin nie. Almal het nie ’n verhouding met God nie,” sê Elizabeth.

Haar wenke is eenvoudig en prakties. “As ’n ma met vier klein kinders in die aand eers 18:00 by die huis kom gaan ek nie voorstel sy moet dan gim toe gaan nie. Dan sal ek haar eerder aanmoedig om 20 minute, drie dae per week byvoorbeeld in die motorhuis tou te spring.

“Aan die begin gaan dit nie oor wat jy doen nie, maar dit gaan oor of jy gaan opdaag vir jouself. Gaan jy die selfdissipline kweek om op te daag, sonder enige verskonings?”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF