DEUR LAUREN JACOBS
Dis moeilik om te glo die 32-jarige Protea-kolwer Tazmin Brits moes sowat 12 jaar gelede ná ’n motorongeluk weer leer loop. Veral as jy haar eenhand-vangskoot teen Engeland tydens die T20-Wêreldbeker vroeër vanjaar op Nuweland in Kaapstad gesien het.
Boonop het die ongeluk plaasgevind nadat sy in 2007 die goue medalje vir spiesgooi in die Junior Wêreldkampioenskap gewen het. Sy was stewig op pad na die 2012-Olimpiese Spele in Londen. Maar die ellendige motorongeluk tussen Potchefstroom en Klerksdorp het alles verander. “Ek het my bekken op vier plekke gebreek. En verskeie organe in my liggaam, onder meer my blaas, het gebars. Ek was ongeveer drie maande lank in die hospitaal. Ek moes ’n bedpan gebruik en elke drie uur omgedraai word. En ek moes weer leer loop. Dit het maande lange intensiewe rehabilitasie geverg.” Daarna het Tazmin as kelnerin gewerk, en as groentepakker by Spar in Klerksdorp. Alles om die pot aan die kook te hou. Sy moes vergeet van haar groot liefde vir atletiek. Maar op ’n dag het dié atletiese vrou ’n tweede kans gekry om weer haar staal as sportvrou te wys.
‘God het my koers verander’
Die krieketafrigter Francois van der Merwe het op ’n dag by ’n kuierplek ingestap waar Tazmin en haar vriendinne ’n drankie geniet het. Dit was tydens ’n laagtepunt in haar lewe. Sy vertel: “Francois was op soek na meisies om ’n paar krieketwedstryde te speel. Een van my vriendinne het gesê dat ek op skool krieket gespeel het. Maar ek het gesê ek het al my toerusting verkoop.” Francois het nie so maklik opgegee nie: “Bring net jou tekkies.” Tazmin vertel: “Ek het baie teësinnig toegegee en gesê ek sal ’n paar wedstryde speel. Maar een ding het tot ’n ander gelei – en gou het ek op provinsiale vlak begin speel. Ek is toe gekies om die nasionale opkomende span in ’n driehoekige reeks teen Australië en Engeland te verteenwoordig, en is boonop as kaptein aangewys. “Intussen het ek ook weer my hand aan spiesgooi gewaag, met die hoop om ’n terugkeer tot atletiek te maak. Dit het egter nie so goed gegaan nie. In Junie daardie jaar het die oproep gekom dat ek vir die Proteas gekies is, en ek het gevoel dit was God se manier om my van koers te laat verander. En hier is ek vandag …”
En hoe het sy nie haar teenwoordigheid laat geld nie! By die onlangse T20-Wêreldbeker in Suid-Afrika het Tazmin uitstekend gekolf en briljant veldwerk gedoen. Sy is in die halfeindstryd teen Engeland as speler van die wedstryd gekroon.
Tazmin onthou die atmosfeer op Nuweland daardie dag: “Ek het my spanmaats gevra of die skare vooraf na ’n manswedstryd gekyk het. Was hulle regtig hier om óns te sien speel? Ek het later na video’s van die wedstryd gekyk – en dit wás iets besonders.”
Die krieketkoors het hoog geloop en die bywoningsrekord vir vrouekrieket in Suid-Afrika is reeds in die aanvangswedstryd oortref, toe die Proteas teen Sri Lanka gespeel het.
‘God het ’n reuseverskil in my lewe gemaak’
Tazmin was nog altyd uitgesproke en openhartig oor haar geloof. Toe sy as speler van die wedstryd ná daardie kragmeting teen Engeland aangewys is, het Tazmin God verheerlik en Hom vir haar prestasie geloof.
Wanneer sy van haar geloofsreis praat, word sy emosioneel: “Ek het nog altyd in God geglo. Ek het van kleins af saam met my gesin kerk toe gegaan, maar ek het Hom nooit regtig geken nie. Totdat ek vier jaar gelede gedoop is. Ek het een oggend wakker geword en net gevoel ek moet gedoop word.
“Ons pastoor het my gevra waarom, en my antwoord was dat ek gevoel het God het daaroor met my gepraat.
“As jy ’n beroepskrieketspeler is, toer jy baie. En daarom is dit moeilik om ’n bepaalde gemeente se dienste gereeld by te woon. Maar ek praat baie met God, en ek lees my Bybel. Ek het ook ander gelowiges wat my op my geloofspad help.
Ek glo ook dat wanneer dinge nie reg loop nie, dit nie beteken God het nie opgedaag nie. Dit beteken dalk dat die duiwel aan die werk is – maar God is ook daar.
“Ek glo ook daaraan om oor alles dankbaar te wees. Al word ek uitgehaal sonder dat ek ’n lopie aangeteken het, bly ek steeds dankbaar.”
Maar, erken Tazmin, sy verstaan nie altyd God se weë nie. “My pa is aan Covid-19 oorlede. Dit was baie moeilik, en ’n groot skok. Ek weet wel God was nog altyd by my.”
‘My doel is nie slegs om krieket te speel nie’
Om ander jong meisies te inspireer lê Tazmin na aan die hart. “Krieket, en vrouesport in die algemeen, het oor die afgelope twintig jaar soveel verbeter. Nou kry vrouespelers kontrakte, ons speel voor groot skares. Hiervoor het ons ’n lang pad gestap. Maar as ons nie jong meisies aanmoedig om hiermee voort te gaan nie, sal dit alles tevergeefs wees. “Dis daarom belangrik om jong meisies aan te moedig; soms is dit belangriker as die spel self. As professionele sportmense is dit ons plig om dit te doen. Baie spelers reken hulle doen genoeg omdat hulle reeds krieket speel. Maar deur, byvoorbeeld, ná ’n wedstryd met ’n jong meisie te praat, maak dalk ’n groot verskil. Jy kan haar laat glo dat sy ook haar drome kan verwesenlik.” Ná die T20-Wêreldbeker het Tazmin krieketwedstryde by skole bygewoon en plekke besoek waar meisies krieket speel. Van die groot lesse wat sy met die jonges deel, is die werklikheid dat mense dikwels gee om te ontvang. Tazmin glo daaraan om terug te gee aan die gemeenskap. Dit verbeter almal se lewe. Wanneer Tazmin vandag op alles terugkyk, na al die swaarkry en die opstaan, is sy daarvan oortuig dat haar doel in die lewe nie bloot is om ’n krieketspeler te wees nie. “Ek wil ook ander inspireer, en hulle met my getuienis aanraak.”
- Klik hier om na ’n potgooi van Tazmin en Lauren Jacobs te luister.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.