’n Christelike berader, wat sedert ’n ongeluk met erge pyn worstel, vertel hoe positiewe denke, vergifnis en die verwerking van trauma uit haar kinderdae haar gehelp het om gesond te word.
Moenie ’n selfhelpboek met lysies voorstelle wat jy kan oorweeg verwag as jy vir Hoop – Siekwees en gesondword (Naledi, R200) van Ciska Tait optel nie. Dis eintlik ’n roman – maar tog een waarin brokkies geloofsondersteuning en eksistensiële sielkunde verpak word tussen ’n aan-en-af liefdesverhaal deur.
Dit vertel die verhaal van Lisa Botha en haar fisiese en geestelike swaarkry na ’n ongeluk. Sy trek na die see, kry vir haar ’n werk by ’n supermark, en maak kennis met haar geskeide buurman Tiaan én die aantreklike dominee Botha. Die feit dat sy dieselfde van as die nuwe prediker deel sorg aanvanklik vir heelwat humoristiese verwarring in die gemeente. Dan gaan haar gesondheid egter weer agteruit. Danksy vriendskap, geloof en ondersteuning – en raad uit talle oorde – stap sy dié pad.
Die boek het ’n goeie skoot outobiografiese verwysings in, na aanleiding van Tait se eie lewensverhaal, in dié dat sy en die hoofkarakter Lisa dieselfde mediese probleme deel.
LEES OOK: ‘Gebruik die Blou Feetjie om met kinders oor die dood te praat,’ sê Lizette Rabe
Tait, wat in Prins Albert woon, was na ’n motorongeluk in ’n koma. Daarna moes sy talle operasies ondergaan, en het uitmergelende pyn ervaar. Sy was skaars 30 jaar oud toe sy op mediese pensioen geplaas is, en moes daarna talle ander mediese probleme oorkom. Weldra het sy verder studeer in pastorale bediening aan siekes, as ’n Christelike berader, en in logoterapie, onder meer deur Unisa. Sy sê sy geniet dit om siekes te besoek, en gebruik haar kennis om hul lewe te verbeter.
ENGELA DUVENAGE het aan skrywer Ciska Tait ’n paar vrae gevra:
* Hoe sou jy die boek in 25 woorde opsom?
Dis ’n geestelike reis van siekwees na gesond word, waar die sieke met kennis gevoed word om sy gedagtes te verander vir moontlike genesing.
* Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek, in hierdie spesifieke formaat, geskryf? Is ek reg dat die boek grootliks deur jou eie lewensverhaal geïnspireer is, maar dat jy dit as ’n liefdesverhaal verpak het?
Ek was hopeloos te jonk daarvoor toe ek op net 30 jaar oud in 1999 op mediese pensioen geplaas is ná ’n motorongeluk waarin ek my nek gebreek het. Om my omstandighede beter te verstaan het ek ook antwoorde gaan soek by drs HJ de Villiers en ST Potgieter as eksistensiële sielkundiges en hul boeke verslind. Hul formaat van inligting deurgee het my bygebly.
In 2013 het ek oorpyn begin kry, en ek het sleg gehoor. Vir maande lank kon dokters niks fout vind nie. ’n Jaar later het my kaak ook begin pyn, en ek het begin swaar praat. Weer terug by dokters en hulle stuur my na my ortopeed en neuroloog. Hulle kry niks fout nie. Ek is na ’n kaakspesialis. Hulle kry niks fout nie. Ek is na ’n tandarts. Niks fout nie.
Teen Junie 2017 was ek moedeloos van al die pyn en dokters wat my nie kan help nie. Ek kom sit toe voor my rekenaar en tik genesing in op die internet net om van iewers hulp vandaan te kry. En mag ek hier byvoeg: As Christen weet ek teen dié tyd al wat die Bybel oor genesing sê. Ek was egter toe reeds so platgeslaan dat ek meer wou weet, want ek het gevoel asof ek iets iewers mis.
So spring Louise Hay van Amerika (sy is ’n kankeroorwinnaar en bestuur Hayhouse) se kursus op en ek skryf daarvoor in. In die volgende agt weke het my lewe ten goede verander. Vir die eerste keer in my lewe sê iemand vir my hoe ’n groot rol denke in jou lewe speel en dat my negatiewe denke my siek kan maak. Ek leer om myself nie as slagoffer te sien nie. Ek leer ook hoe trauma in my kinderjare ’n groot invloed op my siekte kan hê. Ek leer myself liefhê, om my ouers te vergewe en om my denke as gereedskap in my genesingsproses te gebruik.
Ek pas dit wat sy my leer in my lewe toe en teen Desember 2017 is die meeste pyn weg, hoewel ek nog nie totaal pynvry is nie.
Daarna het ek besluit om die boek te skryf. Ek wou my kennis aan siekes oorda omdat daar hulp in is, sonder om vir hulle te preek of hulle só af te skrik. Die lesse daarin kom vanaf my eie worsteling, en vanuit kennis uit my studies. Ek het my eie beserings in die boek gebruik om reg te praat, en nie die leser te verwar nie.
Die lesse alleen was te min vir ’n boek. Om my kennis op ’n mooi skinkbord aan siekes oor te dra, het ek dit in ’n romanvorm geplaas sodat hulle lekker kon lees en leer. My dank aan Naledi wat dit in hierdie formaat gepubliseer het.
* Hoekom het jy besluit om dit so te doen, eerder as byvoorbeeld ’n outobiografie te skryf?
Om oor siekwees en lyding te praat is swaar en ek wou dit breek met ’n roman, half sagter maak. Verder wou ek nie net oor myself praat nie – ek is ’n hopeloos te private persoon. Ek wou net ’n voorbeeld wees om ander te help. Daarby was die hoofdoel om al die kennis in lesse aan die leser te bring.
* Hoe lank het jy aan die boek gewerk, en wat het jou laat besluit om dit aan te pak?
Ek het in Junie 2017 begin met die boek en teen Desember 2017 was ek klaar. Die jaar daarna het dit op die rak gelê en ek het gespaar vir ’n proefleser. Daarna het ek dit aan Naledi gestuur.
Ek was platgeslaan deur pyn en moes op meer as dokters staatmaak om te genees. Ek het vir jare na antwoorde gesoek en met trots gesê: Ek het hulle gevind, en dit het my genees. Daarom het ek besluit om so iets aan te pak, want ek wou my kennis met ander siekes deel. Ek wou ’n ietsie uit my ervaring met hulle deel om hulle te help.
* Wil jy mense daardeur laat beweeg, of laat besin?
Al was ek rustig tuis, was ek die afgelope 23 jaar gedurig in pyn en wou weet waarom. Wat doen ek verkeerd? Waarom raak ek nie gesond nie? Eers in 2017 na ’n kursus van Louise Hay is my denke verander en het die genesing gekom. Ek moes leer om te verander. So ja, ek wil hê mense moet besin. Ek bring vir hulle die kennis en ek wil hê dat hulle daaroor nadink en uithaal wat vir hulle kan werk.
Elkeen is geregtig op sy eie denke en dit is nie my wens om hulle te oorreed of oor te haal nie. Dan is dit geforseerd en nie tot enige hulp nie.
* Watter hoop bied die boek?
Hoop op kennis wat lei tot hoop op genesing.
* Wat is vir jou van die belangrikste boodskappe in die boek?
1) Dat God genees en dat ons verkeerd doen om Hom van siekte te beskuldig.
2) Dat ek gebore is vir ’n rede en God my nodig het om die groter prentjie te voltooi.
3) Dat ek my siekte skep met my negatiewe gedagtes.
* Wat het jy gedurende die skryfproses geleer?
Hoe maklik dit is om te genees, en hoe lekker dit is om dit met ander te deel deur lekker lag en kennis.
- Ciska Tait is ’n Christelike berader en kan by ciskatait@gmail.com gekontak word.