Die Bybel bemoedig ons met hierdie woorde:
“Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want
daaruit is die oorspronge van die lewe”
– (Spreuke 4:23, 1953-vertaling)
Hiervan is ek oortuig: Die moeder is die hart van die gesin.
Kyk, Pappa is pret. Pappa is sterk. Pappa is streng … Maar Mamma is die gom wat almal bymekaar hou. Sy verteenwoordig emosionele veiligheid, en Pappa fisiese veiligheid.
Nee, dit beteken nie dat pappas nié emosioneel betrokke is of dat mammas nie ook fisies beskerm nie. Kyk dan net wat doen ’n mamma-kiewiet as iemand haar kuiken bedreig! En hou gerus ’n nuwe pappa se gesig dop wanneer hy sy kind vir die eerste keer vashou.
Moeders is die bewakers van hulle kinders se hart. Moeders kyk anders na hulle kinders as ander mense. Moeders evalueer die gesiggies; hulle lees die ogies.
Hulle hoor die woorde wat hulle kinders praat, maar is eerder ingestel op die intonasie en die emosie. Moeders hoor die onuitgesproke woorde van die hart.
Kinders is gou om hulle moeder se ingesteldheid te eien en te gebruik (selfs te misbruik). Ons lag dikwels oor die telefoongesprekke wat ons kinders wat op universiteit is met ons het. Met hulle pa praat hulle oor die avonture, die lag en die pret. Met die ma gaan die gesprek oor behoeftes, oor die druk wat daar op hulle is, al die eise. En die min geld en die gróót honger.
Natuurlik sal Mamma met Pappa praat – en só vir die nodige voorsiening voorbrand maak!
Is dit nie hartseer nie dat hierdie kosbare mense, hierdie moeders, wat so fyn op ander se hart ingestel is, dikwels so weinig oor hulle eie hart se toestand waak? Die meeste moeders dra swaar aan vrees en skuld, omdat hulle reken dat hulle nie goed genoeg is nie. Dat hulle nie genoeg vir hulle kinders doen nie. En oor die jare heen versamel hulle ’n klómp bewyse wat hulle vrese bevestig …
Baiekeer is hierdie skuldgevoelens verborge. Om die vrese hardop uit te spreek, is vir hulle onmoontlik. Want sê nou net iemand anders beaam dit?
Onthou, liewe ma:
- ’n Moeder se eerste prioriteit is om Jesus te dien – nié om ’n goeie ma te wees nie! As dit andersom is, gaan ek altyd die doel mis.
- ’n Deel van my verhouding met Jesus is om my hart teen leuens te bewaar. Ek moet alles meet teen die waarheid wat Jesus gee. As Jesus iets sê, en ek stem nie met Hom saam nie, is ek besig “om in trots te wandel”. Kom ons stem saam met Hom oor wie ons is, sodat ons in sy genade kan leef. (Jak 4:6 lui só: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”)
- My man is my bondgenoot in hierdie proses. Hy word minder deur emosie beïnvloed as ek. En hy kan dikwels beter onderskeide tref as ek. Ek, die vrou, die ma, raak soms verstrengel in gevoel eerder as waarheid.
Die gevolg van gehoorsaamheid is lewe! Jesus se lewe sal my eie hart deurspoel en my vry maak om die beste ma vir my kinders te wees en die beste vrou vir my man te wees. In ’n bewaakte hart groei daar goeie vrugte tot eer van God en tot die opbou van die mense rondom my.
Vra jou man om vir jou te bid. En om jou te seën in jou roeping as vrou en moeder. En dank Jesus vir hierdie kosbare roeping!
God se waarheid
Jy is die beste ma vir jou kinders, want God het jou spesiaal vir hulle uitgekies.