Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Blinde vertroue

As jy reeds lank in jou huis woon, ken jy die huis se binnewerke goed. Wanneer  jy die lig afskakel, kan jy vol selfvertroue rondbeweeg. Want jy weet waar die meubels staan en jy ken elke skerp hoekie van elke tafel.

Alles goed en wel … totdat iemand ’n vreemde voorwerp op jou vertroude roete plaas. Dan struikel die niksvermoedende jy bitter gou!

Ons het onlangs verhuis nadat ons byna tien jaar lank in ons ou huis gewoon het. Eensklaps voel alles vreemd. As ek die ligte afskakel, voel dit asof ek verdwaal het. Ek moet my selfoonliggie aanskakel om my deur die onbekende duisternis te lei.

LEES OOK:God is in die mooi om ons

Asof ons in die donkerte rondtas

Dit alles het my laat dink aan Paulus en sy bekering. Lukas beskryf dit só: “Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ’n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Hy het gevra: ‘Wie is U, Here?” En Hy antwoord: ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’  Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring” (Hand 9:3-6).

Soms is God se lig so verblindend dat dit voel asof ons in die donkerte rondtas. Die intensiteit van God se lig verblind ons so erg dat ons daardie oomblikke van intense geestelike helderheid as donkerte beleef.

Só mislei jou oë jou. Dit het tot gevolg dat ons teen die lig wil baklei. 

Niemand wil graag in die donkerte voortsukkel nie, en ons hou nie daarvan om hulpeloos te voel nie. Dan kies ons om eerder in ons eie donkerte te bly as om dit in die onsekerheid van God se lig te waag.

Want ons wil sien. Ons wil vol selfvertroue op ’n pad loop wat duidelik uitgemerk is. Ons wil op onsself vertrou, ons eie kop volg, ons eie wil nastreef, ons eie besluite neem.

Ons wil weet waarheen ons gaan en gereed wees om op eie houtjie daar uit te kom. Ons wil nie gelei word nie.

Hoe stiksienig kan ’n mens nie wees nie!

Nuwe oë ná die donker

Namate ons aan die donkerte gewoond raak, besef ons dat daar wel lig is. Die buitelyne van die voorwerpe om ons word sigbaar, en gou sien ons baie beter. 

God verlig ons hart, maar ons oë moet eers daaraan gewoond raak. 

Lukas skryf verder oor die gebeure nadat Paulus so skielik verblind is: “Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: ‘Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.’ En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop” (Hand 9:17-18).

Wanneer Jesus sê: “Volg my!” klink dit na ’n goeie idee – totdat ons besef Hy lei ons die donker binne. Daar waar ons moet rondvoel om te kan vorentoe gaan. Hierdie gevoel kan ons bang maak, ons selfs afskrik. Maar dis juis in die donker waar ons moet leer om op die Heilige Gees se leiding te vertrou. 

En net soos in Paulus se lewe kom daar, ná die donker, nuwe oë wat beter sien. Jou lewe ná jou aanvanklike blindheid is altyd nuut. Nou kan jy ook nie meer terugkeer na hoe dit eens was nie. Jy is ’n nuwe mens nadat jy God se lig gesien het.

Bid saam met my: “Here, leer ons om U te vertrou wanneer u lig ons verblind, wanneer dit voel asof die donker ons oorweldig. Leer ons om in afhanklikheid van U te leef, sodat die skille van ons oë kan afval en ons met nuwe oë na U en na die wêreld kan kyk.” 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.