Ons het die afgelope week verhuis. Alles wat ons besit, is in bokse gepak.
Dis ’n vreemde ding om alles so in bokse te sien. Dit dwing jou om ’n bietjie te dink oor dit wat jy deur die jare versamel het.
Vaal en vervelig
Soos dit nou maar is wanneer ’n mens inpak, begin jy met dié dinge wat jy die minste gebruik. Gou het ek agtergekom dat dit alles is wat mooi is: die skilderye teen die mure, die strooikussings, die fotorame, die ornamente. Alles wat, nou ja, nie gebruikswaarde het nie.
LEES OOK: Wanneer woede jou baas word
Maar toe dit eers ingepak is, het ons huis eensklaps nie meer na ons huis gelyk nie. Ek het besef hoeveel waarde die dinge wat “slegs” mooi, of dalk “bloot” sentimenteel is tot jou lewe voeg. Want alles wat oorgebly het, was vaal en vervelig.
’n Bos blomme
Iewers, in die loop van die week, het iemand vir my ’n bos proteas en ander fynbos gegee. Watter soort tydsberekening is dit nou! het ek heimlik gedink. Presies wat moet ek nóú met ’n bos blomme maak?
Met ’n groot gesukkel het ek iewers ’n blompot uitgegrawe, die blomme daarin gesit en dit op ’n tafeltjie in die kombuis neergesit.
Toe gebeur dit: Elke keer wat ek daarna kyk, het dit my herinner aan alles wat mooi is. Die fluweelagtige, dofpienk blare van die susaras, met die donker kol in die middel. Die fyn, heldergroen blare van die loof. Die kanariegeel van die speldekussings. Die diep, donkerrooi van die fyn blommetjies.
Dit alles het my help onthou dat, hoewel al my mooigoed in bruin bokse weggebêre is, daar steeds mooi dinge om my is. En terwyl ek in die kombuis vaal bokse volgepak het, het die geure en kleure van die pot vol blomme my laat glimlag.
God in die mooi
Ek het opnuut besef dat God self in die alledaagse mooi skuil. In dié dinge wat ons nie altyd as noodsaaklik of as bruikbaar beskou nie, dit wat ons heel eerste inpak omdat ons dit kwansuis nie nodig het nie.
Ja, God maak Hom sigbaar in die mooi om ons. As ons tog net ons oë oopmaak, sal ons Hom raaksien.
My bos proteas sal nooit ’n boks haal of ons nuwe huis sien nie, maar dit is vir seker goed vir my siel. Dit is maar ’n vlietende oomblik lank in my lewe teenwoordig, maar dit het vir my die lelies van die veld geword. Die herinnering daaraan dat ek nie besorg moet wees nie omdat my Vader vir my sorg.
Dit het ook my brandende doringbos geword, wat my daaraan herinner dat God altyd by my is, dat ek my deurentyd op heilige grond bevind.
En ek het aan Filippense 4:8 gedink, waar Paulus skryf: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Alles wat mooi is, is deur God geskep. Al besit dit, na ons menslike oordeel, geen funksionaliteit nie. Dis belangrik dat ons lank genoeg daarby vertoef dat dit ons gedagtes kan rig op ’n God wat ons liefhet.
Mag jy ook hierdie week iets moois vind waarop jy jou gedagtes kan rig wanneer die lewe deurmekaar en besig raak. Mag dit wat mooi is jou stil maak en jou oë na Bo rig. En mag jy God sien in die mooi van die alledaagse.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.