Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Boervrou se gebedsboekie getuig: God is die Voorsiener

“As die Here destyds vir ons gesê het dit gaan hier oor ’n tien jaar-tydperk so bitter min reën, sou ons alles verkoop en in die dorp gaan werk het. Of dalk op ’n ander plek gaan boer het. Of ons plaas verhuur het.

“Maar die Here wil nie hê dat ons in die toekoms sien nie; Hy wil hê ons moet in alle omstandighede en te alle tye van Hom afhanklik wees. By sy voete wees.”

Só getuig Linkie Agenbag (49) oor die pad wat sy en haar mense die afgelope klomp droogtejare met die Here gestap het. Hulle plaas Hoogrus is in die Boesmanland, iewers tussen Springbok en Pofadder.

Die laaste keer dat hul plaas goeie reën ontvang het, was op 20 Januarie 2016. Toe het daar 42 mm geval. En die laaste keer wat daar meer as 50 mm reën geval het, was 17 jaar gelede, op 7 Februarie 2009.

Maar ten spyte van dié statistiek het Linkie by die Here se voete bly sit, en veral vir drie dinge gebid. Al drie dié smeekbedes is tydens die afgelope Paasnaweek verhoor.

Eerstens het sy gebid dat albei haar kinders, Lenice (19) en Andrew (17), op die plaas sal wees wanneer daar goeie reën val. Daar is ’n gat op die plaas waarin ’n boom staan, en Linkie het voorts gebid dat dié gat met kosbare reënwater gevul sal word. Daarby het sy ook gebid dat Hoogrus goeie reën sal ontvang voordat haar matriekseun volgende jaar (2027) op die plaas kom boer.

En op 2 en 3 April vanjaar is daar toe tussen 22 mm en 49 mm op die plaas gemeet. En dit terwyl haar en haar man Adri se kinders al twee tuis was. Hulle is verder geseën toe daar op 11 April nog 55 mm reën geval het. “Ons kan nie hieroor stilbly nie,” het Linkie per stempos uit die Boesmanland laat weet, “die Here is ons enigste Voorsiener!”

Die wonderlike storie van die bul

Dié boervrou het ’n gebedsboekie. Sy sê dis haar manier om te verseker dat sy nooit vergeet wat die Here vir hulle gedoen het nie. Nadat sy dit gou geraadpleeg het, vertel sy van nóg ’n wonderbaarlike gebedsverhoring: “In Februarie 2021 het ons ons beeste Kalahari toe verskuif omdat ons nie genoeg weiding gehad het nie. Ons het ook ’n bul nodig gehad, maar dié het R15 000 gekos. Dis geld wat ons nie gehad het nie.

“Maar die Here het uiteindelik daardie bul drie keer vir ons gefinansier …”

LEES OOK: ‘Dis moeilik om oor te begin, maar ons is planmakers,’ sê dié Karooboere

Eers het haar ma besluit dat sy die bul vir hulle wil koop, en sy het die geld in hulle rekening betaal. Daarna het die eienaar van ’n stuk grond wat hulle huur laat weet dat hulle nie daardie maand die R15 000 huurgeld hoef te betaal nie. En toe, les bes, het die eienaar van die bul gesê hulle hoef nie vir die bul te betaal nie; hulle kon hom leen vir solank dit nodig was.

“As ek so deur my gebedsboekie kyk,” sê Linkie, “is dit verstommend wat die Here alles vermag het.”

Die afgelope tien jaar was ’n besonder moeilike tyd. Linkie vertel: “Die swaarste was om my man so moedeloos te sien, so met die geboë skouers. Hy is baie hardwerkend en gooi nooit tou op nie.

“Ons het egter nooit hoop verloor nie. Jy kan nie ’n boer wees as jy nie hoop het nie. Jy moet ’n anker hê, en dit moet die Here wees.

“Ons het deur dit alles nader en nader aan die Here gegroei. En wat het meer ewigheidswaarde – dat ons in ons geloof gegroei het, of dat die veld mooi groen was?

“God wil ons soms by die laagtepunte hê sodat ons Hom kan hoor. Wanneer ek by die Here gesit het, het ek besef dat my omstandighede nie noodwendig verander het nie, maar dat alles in mý wel verander het.

“Die beeld wat my bybly is dié van ons op ’n oop see: Ons trap water, en dan gee die Here vir ons ’n boei. Wanneer ons nie meer kon nie het die Here op ’n wonderlike manier gesorg. Dan het Hy nóg ’n boei gegooi.

“Die Here is goed! En ek wil dit weer sê: Hy is ons enigste Voorsiener.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF