Julia en Gert Hattingh sou binnekort kon aftree. Maar ná twee hewige droogtes en die Covid-19-pandemie moes hulle weer voor begin. “Solank ons planne nie opraak nie, en ons in volle vertroue van ons Heer se genade leef, sal ons oukei wees,” vertel hulle.
DEUR CONETTE LE ROUX
“Wanneer ons ander mense van ons ouderdom sien, het hulle reeds afgetree. En ons moet weer voor begin.”
Julia Hattingh (61) en haar man Gert (62) sit in hul plaashuis op Kalkfontein, sowat 66 km van Leeu Gamka in Fraserburg se rigting. Die laaste groot droogte het hulle op hul knieë gedwing, vertel dié derdegeslag-boere.
“Sedert 2014 het daar sewe jaar lank bitter min reën geval,” vertel Gert. Hy hou getrou boek van die reënval, dié kosbare seëning wat so skaars in hierdie wêreld is.
Maar die afgelope jaar het taamlik reën gebring. Die vlaktes se stof het plek gemaak vir welkome Karoobossies.
Wanneer jou skape honger is …
Dié twee Karoomense vertel hoe hulle destyds in 1991, sommer met die intrapslag, met Kalkfontein se droogtes gekonfronteer is. As jong egpaar wat elk ’n vaste betrekking op Beaufort-Wes beklee het – Gert as polisieman en Julia by Saambou – het hulle plaas toe gekom nadat Gert se pa afgetree het. “Uiteindelik moes ons drie jaar lank wag vir die reën om te kom,” vertel Julia. “Ons het amper terug dorp toe getrek.”
Die afgelope klomp droë jare het hulle weer laat wonder of hulle nie maar moet terugkeer dorp toe nie. Die ergste, vertel Julia, was die honger diere. “Ek het naderhand nie meer op die plaas gaan stap nie. Want die skape hardloop agter my aan, en hulle blêr – hulle is honger.”
Dié tragiese situasie was nog erger vir Gert, sê Julia. “Hy is so lief vir hierdie stuk grond …”
Gert vertel: “Wanneer ek soggens by die diere kom, vol hoop dat die vorige dag se voer hulle nuwe krag gegee het, en daar lê nóg skaap dood, was ek moedeloos. Die ander diere kyk vir my, maar ek het nie meer om te gee nie. Ook nie vir die volgende paar dae nie.”
LEES OOK: ‘Ek staan nie net hier vir roosterkoek braai nie,’ sê tannie Poppie van Laingsburg
Julia vertel hulle het dikwels platsak dorp toe gery wanneer hulle weet hulle móét voer koop. Hoe hulle daarvoor sou betaal, was duister. “Op een so ’n dag het ek net by my ma in Beaufort-Wes gaan sit. Toe ontvang ek ’n SMS: Iemand het R5 000 in my bankrekening inbetaal. Dit was my skoonsussie wat my ingelegde olywe en beet en boontjies en wát nog met verloop van tyd in die Kaap verkoop het. En juis op dié dag die geld inbetaal het. So het God vir ons gesorg.”
Diefstal en die rondloperleeu
Benewens die droogtes, is veediefstal ’n ernstige kwessie. “Sedert 2015 is 212 van ons skaap gesteel. En die meeste ooie was dragtig.”
Hiervoor moet Sylvester, Suid-Afrika se bekendste rondloperleeu, waarskynlik die skuld kry. Ná sy ontsnapping uit die Karoo Nasionale Park is Sylvester uiteindelik in Kalkfontein se berge vasgetrek. “Net daarna het die veediefstal begin. Daar was ’n klomp besoekers op die plaas wat na Sylvester gesoek het …”
In daardie tyd het die skaap in die Nuweveldberge gewei, vertel Gert. Maar die veediewe het ’n slim roete van die ander kant, Noord-Kaap se kant, gevind.
“Ons skaap loop deesdae na aan die huis om diefstal te voorkom en ongediertes te beheer.”
‘Ek wil nêrens anders bly nie’
Voerskenkings en bederfpakkies vir boervroue het ook ’n groot verskil gemaak en hulle weer hoop gegee. “Maar dis soms moeilik om te ontvang as dit lekkerder is om te gee,” lag Julia – met ’n pakkie konfyttertjies in die hand vir haar LiG-kuiergaste.
“’n Mens kom by ’n punt waar jy moedeloos is. Maar elke keer, nadat ek by ma in die dorp was en ek ry weer by die plaashek in, dink ek: Ek wil nêrens anders bly nie.”
Hulle het wel aan die alternatief gedink. “Maar as ons die plaas verkoop, hoe lank gaan die geld hou? Gaan ons gelukkig wees en vrede hê? Wat gaan ons doen om ’n lewe te maak?”
Julia, wat ook op ’n plaas in die omgewing grootgeword het, vertel hoe moeilik dit vir haar pa was om sy plaas te verkoop. “My pa se gesondheid was nie meer goed nie, en om te kon aftree, moes hy op 80-jarige ouderdom die plaas verkoop. Dit was vir hom ’n groot aanpassing om op die dorp te gaan bly, en vir seker nie sy eerste keuse nie.”
‘Solank ons planne nie opraak nie’
“Ek voel dat solank ons planne nie opraak nie en ons in volle vertroue van ons Heer se genade leef, ons oukei sal wees,” sê Julia. “Karoomense is planmakers.”
Midde-in die droogte was Julia elke dag met ’n plan gewapen. “As ek soggens opstaan en ek voel hoe die moedeloosheid aankom, dan kry ek iets om te doen. Ek pak ’n stoor reg, of ek hou my besig in die kombuis.”
Behalwe vir die olywe, beet, boontjies, vyekonfyt en meer wat in Kalkfontein-botteltjies hul pad na vele padstalle vind, bak Julia ook vir tuisnywerhede.
Gert kon tydens die afgelope wintervakansie vir die eerste keer in jare weer jagters op die plaas ontvang. Hy vertel: “Hulle kon nou wel net springbokke skiet, maar ons plan is om later weer ander wild in te koop.”
Omdat veeboerdery so riskant is, het die Hattinghs reeds in 2014 ’n verdere plan gemaak: “Ons het ’n stuk grond verkoop en ’n drieslaapkamer-gastehuis op die plaas gebou,” sê Julia. “Maar toe kom die droogte, en later het Covid-19 ons getref.”
Dié gastehuis staan neffens ’n olyfboord. En duskant die windpomp baljaar ’n klompie merino’s.
’n Strandhuis in die berg
Die berge op die plaas word nou vir die Hattinghs se jongste inkomsteplan benut. Familielede het finansieel gehelp en Gert en twee mans het eiehandig ’n “strandhuis in die berg” gebou. Dié tweeslaapkamerhuisie teen die hange van die Nuweveldberge bied Karoolandskap op sy beste: klippe, koppies, bossies, blommetjies, aalwyne, wildsbokke. En helder sterrebeelde in die nag.
Hoewel die berghuis slegs 13 km van die opstal is, duur dit sowat ’n uur om met jou motor op die smal bergpaadjie tot by dié huis te ry.
Gert sê die smal paadjie teen die berg op was ’n reuse-uitdaging vir die bouers, en om later die meubels bo te kry.
“Ons is mal oor die huisie!” sê Julia. “Ek en Gert gaan soms vir ’n naweek daarheen om te ontspan. As jy by jou huis is, werk jy mos die hele tyd.”
’n Veilige hawe
Tydens ons gesprek het Marzane, een van die Hattinghs se dogters, en haar sewejarige seun Dawie kom kuier ná ’n besige skoolkwartaal.
Marzane, ’n drama-onderwyser by Hoërskool Swartland in Malmesbury, vertel hoe die stilte, ruimte en natuurskoon haar altyd tot rus bring. “Ek gaan draf en stap altyd op die plaas. Ek neem ook die pragtige berge af – maar ’n foto kan tog nie daaraan reg laat geskied nie.”
Later vertel Julia hulle het vier dogters – twee is haar en Gert se eie, en twee het hul dogters geword nadat haar sussie in 2002 tragies gesterf het.
Om vir familie en vriende ’n veilige hawe te skep, is baie belangrik vir hulle, sê die Hattinghs. Ook die voorreg om hier op hul 2 995 hektaar-Karoogrond werklik gelukkig te wees.
Gert sê: “Om op ’n Karooplaas finansieel te oorleef, is werklik moeilik. Maar ons rustige lewe, die veiligheid, die vrede vir ons siel, kan geen geld koop nie. Dit maak elke dag die moeite werd.
“In ons 31 jaar op die plaas het ons swaarkry beleef, en ons het goeie jare gehad. Maar, bowenal, het ons die groot genade van ons hemelse Vader dag na dag beleef. Aftree is nou wel nie ’n opsie nie, maar om elke dag voluit te leef en gelukkig in jouself te wees – dís hoe ons wil leef.”
- Vir meer inligting oor die gastehuis en berghuis op Kalkfontein Gasteplaas, besoek http://kalkfonteingasteplaas.co.za/
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.