Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Bou só jou kind se selfbeeld

Ouers wil bitter graag hê dat hul kinders die lewe vol selfvertroue en waagmoed aanpak. Hoe behoort ons oor selfbeeld te dink, en hoe kan ouers hul kinders hiermee help?

Ouers wil bitter graag hê dat hul kinders die lewe vol selfvertroue en waagmoed aanpak. Maar sulke ouers, en hul kinders, kry gemengde boodskappe oor wat presies ’n gesonde selfbeeld behels. Hoe behoort ons dan oor selfbeeld te dink, en hoe kan ouers hul kinders hiermee help?

Selfbeeld kan omskryf word as ’n bepaalde persoon se algehele selfwaarde, jou mening oor jouself. Hierdie selfbeeld, of selfkonsep, kan positief of negatief wees, of iewers tussenin. 

Verskeie faktore speel ’n rol by selfbeeld en selfbeeldontwikkeling. In baie gevalle word ’n mens se selfbeeld beïnvloed deur wat ander van jou dink, of wat jy ervaar (of dink) wat ander van jou dink. 

Dit gebeur maklik dat jong kinders hulle meet aan hul maats se standaarde, of aan sosiale media of aan ander menings uit hul omgewing. ’n Mededingende omgewing en oordrewe klem op prestasie het dikwels ’n negatiewe invloed op kinders se selfbeeld. 

Hoekom is selfbeeld so belangrik? 

Caitlin Vinson, ’n sielkundige in Faerie Glen, Pretoria, verduidelik waarom ’n gesonde selfbeeld so belangrik is: “Ons selfbeeld beïnvloed ons beskouing van die wêreld en ons interaksie met ander. Dit het ’n reuse-invloed op ons algemene welstand en ontwikkeling. Kinders met ’n gesonde selfbeeld toon meer selfvertroue en pak uitdagings met groter veerkragtigheid aan. 

“Voorts lei dit tot gesonde verhoudings en verlaagde vlakke van angstigheid en depressie. Kinders met ’n gesonde selfbeeld is meer geneig om goeie besluite te neem, en wat in ooreenstemming is met hul waardes en doelwitte. 

“’n Gesonde selfbeeld het dus ’n positiewe én langdurige impak op alle aspekte van ’n mens se ontwikkeling.” 

’n Bybelse perspektief 

’n Belangrike aspek van selfbeeld of eiewaarde is die standaarde waaraan ons onsself meet. Die standaarde wat ons kies, het ’n direkte invloed op die prentjie wat ons van onsself het, en dit bepaal grootliks of hierdie beeld positief of negatief is. 

Kinders word deesdae groot met al wat leef wat hul suksesse en hul idees van sukses op ’n verskeidenheid sosiale platforms uitbasuin, en in baie gevalle word dít dan die riglyne wat die kinders gebruik om hul eie sukses (of gebrek daaraan) te meet. 

Cyndie Claypool de Neve, skrywer van God-confident kids, verduidelik waarom ’n Bybelse perspektief hierop so belangrik is: “Ouers probeer dikwels hul kinders se selfbeeld ’n hupstoot gee deur hulle te vertel dat hulle die beste, slimste, mooiste en sterkste is. Indien hulle nie selfvertroue het nie, só reken dié ouers, moet ons hulle help om in hulleself te glo. 

“Die woorde ‘selfvertroue’, ‘selfagting’ en ‘selfbewus’ deel almal die voorvoegsel ‘self’. Dit gaan dus primêr oor my. Selfvertroue word dan dikwels gegrond op hoe ek oor my eie talente, voorkoms en vermoëns voel. 

“Christene, aan die ander kant, glo egter dat ons nie die laaste sê oor onsself het nie. Kinders moet nie geleer word om allereers in hulleself te glo nie; daar is slegs Een wie se mening saakmaak, dié van ons Skepper en Vader. 

“Wanneer ons bloot op onsself en ons eie mening staatmaak, grawe ons ons fondament in die sand. Die eerste terugslag sal ons huis laat inmekaarsak. Wanneer ons egter ons vertroue op God vestig, die Een wat ons vir ’n spesifieke doel geskape het, is ons onstuitbaar.” 

Nederigheid en ’n gesonde selfbeeld 

Vir Christene beteken Cyndie se waarnemings, onder meer, dat ons ons goeie én ons slegte eienskappe moet omarm, omdat God albei in sy Groot Plan wil gebruik. Nederigheid en ’n vaste vertroue op God is al twee noodsaaklik vir ’n gesonde selfbeeld. 

Caitlin borduur hierop voort: “’n Gesonde selfbeeld beteken dat ons ons eiewaarde sal erken, sowel as ander mense se waarde, omdat ons deur ’n groot God gemaak is. Terwyl ons steeds nederig voor God se almag staan. Hierdie nederigheid maak ons dankbaar en dit help ons om te fokus op diens aan God en aan mekaar, eerder as op selfverheffing. 

“Daarby bring ons geloof in God se vergifnis en vernuwing heling en hoop mee, en dit omskep ons swakpunte in groeigeleenthede en in kanse om te ontwikkel. God se kinders kan vas en seker weet dat Hy ons onvoorwaardelik liefhet, en ons kan aanvaar dat ons daarom ook onsself kan liefhê.” 

Hoe kan ek my kind help? 

Ouers kan baie doen om ’n gesonde selfbeeld by hul kinders te vestig, een wat op Bybelse waardes gegrondves is. Caitlin sê: “Onthou dat God ook die Vader van jou kinders is, en dat Hy hulle selfs liewer het as wat jy hulle het. Moet dus nooit ophou bid vir jou kinders nie. Vra God om hulle te help om hulleself deur sy oë te sien. Bid dat hulle God as hul Vader sal soek en aanvaar.” 

Wenke wat werk 

  • Wys liefde en aanvaarding, ongeag jou kinders se prestasies of gedrag. Kinders moet weet dat hulle geliefd is omdat hulle is wat hulle is. Prys hul pogings, selfs (en veral) wanneer hulle nie suksesvol is nie. 
  • Moedig jou kinders aan, en fokus op hul sterkpunte, terwyl julle terselfdertyd swakpunte as leergeleenthede beskou. Byvoorbeeld: “Ek verstaan jy voel asof jy nie vinnig genoeg kan hardloop nie, maar ek is só trots op jou omdat jy deelgeneem het en jou maats aangemoedig het. Hulle is gelukkig om so ’n goeie maatjie te hê.” Moedig hulle aan om nuwe dinge te probeer en gesels saam oor dit wat hulle daaruit kon leer. 
  • Leer jou kinders vaardighede aan (én ’n woordeskat) waarmee hulle mislukkings en uitdagings kan hanteer. Ouers reken soms dat hulle hul eie mislukkings vir hul kinders moet wegsteek, maar dis belang-rik om te besef dat kinders baie uit die ouers se hantering daarvan kan leer. Wys vir jou kinders hoe jy ’n plan maak wanneer die kos aanbrand, of wanneer jy iets belangriks by die huis vergeet het. Sê iets soos: “Enige outjie maak soms ’n foutjie!” Of: “Aanhouer wen!” Sodat jou kinders dit volgende keer kan onthou wanneer hulle voor ’n uitdaging te staan kom. 
  • Moedig onafhanklikheid aan. Gee jou kinders die geleentheid om verantwoordelikheid te aanvaar om sekere besluite te neem, selfs wanneer dit dalk beteken dat hulle met ’n besónder kleurvolle uitrusting (of Spidermankostuum) die huis verlaat omdat hulle dit self gekies het. 
  • Waak daarteen om jou kind met ander kinders te vergelyk. En maak hulle daarvan bewus as hulle dit self doen. Kinders moet van jongs af weet dat hulle uniek is, en dat almal swak- én sterkpunte het. Leer jou kinders om verskoning te vra as hulle iets verkeerds gedoen het. Leer hulle om ander te vergewe, eerder as om op daardie mense se swakpunte te fokus. 
  • Moenie jou kinders, en ander mense, kritiseer nie. Leer jou kinders om met sagte oë en ’n hart vol empatie na ander en na hulleself te kyk.

Gebruik die volgende riglyne om jou kinders aan te moedig, en hulle sodoende te help om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel: 

  • Foute bied leergeleenthede. Vra altyd: “Wat kan ons hieruit leer?” 
  • Sê dinge soos: “Ek is so trots op jou omdat jy probeer het! Ek kan sien hoeveel moeite jy gedoen het.” 
  • Ook: “Jy maak beslis vordering, en dit is belangrik. Jy kan trots wees op wat jy tot dusver reggekry het.” 
  • En, baie belangrik: “Ek is lief vir jou net soos jy is.” 
  • Asook: “Jy het baie sterkpunte. Kom ons fokus daarop.”

Loer gerus op ons gesinsblad vir verdere artikels oor ouerskap en raad vir gesinne.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF