Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Brief #2 aan my vriendin wat haar nie wil laat inent nie

DEUR SIMONE GAUCHE

My liewe vriendin

Jy sê jy het navorsing oor entstowwe gedoen – maar weet jy hoe werk die mens se immuniteitstelsel? Weet jy wat is m-RNA en hoe werk T-selle? Het jy ’n graad in immunologie of virologie? Weet jy wat ’n goeie mediese bron is? Wys my jou statistieke en bronne dat ons ons s’n daarmee kan vergelyk. Waar is jou navorsing gepubliseer?

Indien jou bron sê die inenting kan jou DNS verander, is dit vir seker nie ’n geloofwaardige bron nie. Die entstof bly nie in jou liggaam nie, maar word afgebreek en uitgeskei. Dit entstof stimuleer bloot jou eie immuniteitstelsel, sodat dit die koronavirus tydens infeksie kan herken en vernietig. Die Covid-19-inenting of -toets kan jou ook nie Covid-19 gee nie.

Jy sê jy is oorweldig deur al die uiteenlopende menings en die duisternis inligting. Ek weet dis ’n moeilike situasie. Daar is baie waninligting en fopnuus wat die ronde doen. Ek weet ook dat as ’n mens nie weet wat om te doen nie, dit soms makliker is om eenvoudig niks te doen nie. Maar in hierdie geval kan dit jou lewe kos, of ’n geliefde se lewe.

LEES OOK: Brief #1 aan my vriendin wat haar nie wil laat inent nie

Jy sê “nee” vir inenting – en ek verstaan dit nie. Want op dié manier sê jy “ja” vir ’n asemhalingsbuis, ventilasie, steroïede, antivirale middels en uiteindelik dialise. Inenting sou jou ’n baie beter kans op oorlewing gegee het.

Jy sê \’n inentingspaspoort skend jou menseregte, maar kinders het al jare lank inentingspaspoorte. En dis algemene kennis dat inentings teen byvoorbeeld geelkoors ’n voorvereiste is as jy na sekere lande wil reis. ’n Inentingspaspoort is niks nuuts nie.

En wat sê jy oor ander mense se regte? Wat van die weerlose mense wat weens verswakte immuniteit nie ingeënt mag word nie? Is hulle nie op beskerming geregtig nie?

Jy sê die entstowwe is te vinnig ontwikkel en daarom vertrou jy dit nie. Maar die entstowwe is eintlik oor die verloop van baie jare ontwikkel. Alles wat ons oor jare heen oor virusse geleer het, het hiertoe bygedra. Dis soos wanneer jy jou selfoon opgradeer: Ou tegnologie word verbeter en lei tot nuwe tegnologie. Die wêreld se vooraanstaande wetenskaplikes en verskeie lande se hulpbronne is bymekaargevoeg en met mekaar gedeel om die entstowwe te produseer. Dis alles eintlik baie indrukwekkend.

Jy sê jy het reeds Covid-19 gehad en daarom wil jy nie ingeënt word nie. Besef jy dat as jy ’n ander variant van die virus as die Delta-variant gehad het daar slegs ’n 50% kans is dat die vorige infeksie jou gaan beskerm? Weet jy dat die entstof jou teen meer variante beskerm? Weet jy dat dit jou langer beskerm?

Jy sê Covid-19 veroorsaak nie regtig so baie sterftes nie. Maar jy hou glad nie rekening met hoeveel stremming dit op ons gesondheidsorg plaas en hoeveel mense op ’n indirekte wyse as gevolg van Covid-19 sterf nie. Jy vergeet van diegene wat siek word en nie sterf nie. Daar is mense wat steeds simptome ervaar maande ná die infeksie met die koronavirus. Daar is diegene wat vir die res van hul lewe met die chroniese nagevolge van die infeksie wat hulle opgedoen het, sal moet saamleef.

Jy sê jy is jonk en Covid-19 hou min risiko vir jou in. Die sterftesyfer aan Covid-19 is vergelykbaar met die sterftesyfer aan kanker. As jy ’n laerisiko-inenting teen kanker kon kry, selfs al is jy jonk, sou jy dit neem?

LEES OOK: Die onsigbare las van Covid: Was dit mý skuld?

Jy sê jy praat net die waarheid – maar jou waarheid en my waarheid verskil van mekaar. Ek wil nie in ’n argument betrokke raak nie. Ek wil my waarheid met jou deel, omdat ek jou liefhet. Ek het jou lief, asook die gemeenskap waarin ons leef. Ek wil jou nie in my hospitaal – siek, afgetakel en spyt – teëkom nie. Ek wil nie sien hoe jy sukkel om asem te haal nie. Ek wil nie hoor hoe jou familie my vertel hoe hard, en tevergeefs, hulle probeer het om jou om te praat om ingeënt te word nie.

Jy sê jy is moeg vir maskers dra en hande was. Jy mis aanraking, drukkies en samekomste. Wel, ek ook. Ons almal verlang na die dae wat was. Kom ons probeer om dinge weer na normaal te laat terugkeer.

Ek is jammer as my liefde soms na woede of frustrasie geklink het, maar ek is bekommerd oor jou. En ek is bekommerd oor ons almal.

Dis wat ek vir jou wil sê. Oor een ding moet jy nooit twyfel nie: Ek is lief vir jou en ek het jou nodig. 

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.