“Ons kon net nie teruggaan na om ons lewe om onsself te bou nie.”
Dié lewensveranderende besluit van drie vriendinne van Pretoria het gekom nadat Sulitzha van der Walt (43) se broer op ’n jong ouderdom aan kolonkanker gesterf het.
Grové Schoombee (35) is op 27 September 2021 oorlede kort nadat sy tweede kind gebore is.
Volgens dié vriendinne was die groot inspirasiefaktor hoe Grové geleef het vanaf sy diagnose tot sy sterfdatum. “Hoe meer hy gestroop was van die dinge in die wêreld wat ons so besig hou, hoe nader het hy aan die Here beweeg en hoe meer was Jesus sy bron van krag,” onthou Sulitzha, ’n ma van drie.
Die vriendinne het hierna besluit om te fokus op dít wat volgens hulle die mees weerlose in ons samelewing is – babas. Hulle het ’n huis bekom en só het Daybreak-babahuis sy deure in Junie 2023 geopen. Vandag bring hulle lig in weerlose kinders se donker omstandighede.
Marli Swanepoel (44), ’n dokter met drie aangenome kinders, vertel: “Een van die babas in ons huis is deur haar ma aan kinderhandelaars vir dwelmgeld verkoop. Die twee weke oue premature babatjie is deur die polisie gered en na Daybreak gebring. Sy het onder 3 kg geweeg. Vandag is sy ’n vet, borrelende dogtertjie wat vir ons almal baie vreugde bring.”
En dié vreugde is ook deel van die vriendinne se daaglikse wapenrusting omdat die nood vir kinders in ons land so oorweldigend is. “Deel van wat ons doen is om álles met die vreugde van God aan te pak. Ons probeer ook fokus op die verskil wat ons maak en nie die reuse-nood daar buite nie,” sê Alfreda Jonker (41), ’n prokureur met vier kinders.
Die vriendinne is baie dankbaar vir wat hulle, en hulle kinders, geleer het sedert hulle met dié reis begin het. “Soos wat Daybreak ’n plek van lig is in dié babas se donker omstandighede het dit mý kom leer ons dien ’n God van hoop wat alles kom herstel op sý manier en sý tyd,” sê Marli.
“Ons kinders het geleer dat om te gee die Here se plan is, en om te gee van jouself jou vir altyd verander,” vertel Alfreda.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.