Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Covid-19: “Ek gaan nie jok nie, dit gaan moeilik,” sê radiografis

DEUR JACOBIE M HELENA

“Ek probeer net fisies en emosioneel oorleef.”

Só sê Chantelle Britz, radiografis by Intervare Tygervallei BRP Radioloë, oor die effek wat die koronavirus-pandemie op die gesondheidswerkers in die voorste linie het.

Chantelle vertel dat dit baie moeilik op grondvlak gaan.

Chantelle vertel meer: “Ek gaan nie vir jou jok nie, dit gaan baie moeilik. Ek het nog nooit so gevoel nie. Eintlik weet ek nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Ek is so bekommerd. Ek is bekommerd oor die mense wat so siek is. En ek is bekommerd oor my huisgesin. ’n Mens glo maar dat die maatreëls wat in plek is voldoende sal wees. Byvoorbeeld die kamer, waar ek die  X-strale neem, moet na elke pasiënt drie maal gereinig word,” sê sy. 

Maar ten spyte van die uitsonderlike omstandighede waarin die gesondheidswerkers moet werk, kan Chantelle nie uitgepraat raak oor hoe God in haar lewe teenwoordig is nie. Sy erken dat stiltetyd in dié uitdagende tyd ʼn luuksheid is. Sy brei uit: “Ek kry nie tyd vir stiltetyd nie. Maar hoe ongelooflik is God nie. Ek ervaar hoe God absoluut ʼn open channel na Hom vir my oopmaak. Normaalweg sal ek na die Here soek en soek. Soms selfs vas om God se stem te hoor. Maar hier openbaar die Here homself aan my. Elke dag. Heeltyd. God is daar wanneer ek op pad werk toe is en wanneer ek ’n X-straal neem. As die woorde nie wil kom nie, dan gee die Here vir my woorde. Die Here connect anders met my in dié tyd,” getuig Chantelle.   

Chantelle spoor gelowiges aan om die druk wat die pandemie op hulle plaas, af te haal. “Dis okay om nie okay te wees nie. Dis okay om in hierdie tyd net te oorleef. Die Here ken jou hart. Al wat jy moet doen is om net by Jesus se voete te sit,” sê sy.  

Lees ook: ‘Dis scary om te dink ons kan dalk nie oorleef nie’

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF