Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Daar is werklik engele om ons,’ vertel skrywer ná haar dogtertjie se dood

14 Mei 2021

Alle ouers vrees dit. Met haar het dit gebeur. Die vryskutjoernalis, skakelpraktisyn en fotograaf Ansja Ferreira van Bloemfontein se negejarige dogter Larissa het in 2017 in ’n gru-motorongeluk gesterf. Ansja se boek La – ’n reis na die lig beskryf haar reis sedertdien. Hierin probeer sy sin maak van die gebeure.

DEUR ENGELA DUVENAGE

Ansja is daarvan oortuig dat ’n gelukkige en vervulde lewe ná erge trauma en verlies wel moontlik is. En dat dit te danke is aan ’n spirituele benadering, en die genesende krag van musiek, die natuur, die onderbewussyn en kreatiwiteit.

LEES OOK: Pediater met breingewas skryf kinderboek vir sy kleuter voor hy sterf

“Erge trauma en seerkry het in my geval tot ’n spirituele ontwaking gelei,” vertel sy. “Alle eer kom die Skepper toe, wat mense en engele geskape het. My pad was dalk eensaam, maar ek was nooit alleen nie. My Skepper was deurentyd by my en het sy engele gestuur om my te help.

As my storie een mens kan oortuig dat God bestaan, dan was alles wat ek deurgemaak het die moeite werd. Die Skepper werk op ’n misterieuse wyse.”

“Ek hoop my boek sal mense wat dieselfde deurmaak, laat besef dat hulle nie alleen is nie. Dat daar oral engele om ons is, al sien ons hulle nie altyd nie,” sê Ansja. Foto verskaf

Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek geskryf?

Ek het ná die ongeluk dagboek gehou van my gevoelens. Ek het alles neergeskryf. In 2018 het ek ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding prof Henning Pieterse en dr Francois Smith aangepak.

Die brokkies wat ek neergeskryf het, het mettertyd in ’n volwaardige manuskrip ontwikkel.

Pas ná die ongeluk het ek na boeke oor die dood van ’n kind en trauma gesoek. Die meeste het my kwaad gemaak, of my verwar, of niks gehelp nie. Ek het gesoek na een wat sou troos – en op die ou end het ek dit self geskryf.

Nadat Ansja se dogtertjie gesterf het, het sy na boeke oor die dood van ’n kind en trauma gesoek. “Die meeste het my kwaad gemaak, of my verwar, of niks gehelp nie. Ek het gesoek na een wat sou troos – en op die ou end het ek dit self geskryf,” sê Ansja.

Hoe hoop jy sal dit mense se hart raak?

Ek hoop dit sal mense wat dieselfde deurmaak, laat besef dat hulle nie alleen is nie. Dat daar oral engele om ons is, al sien ons hulle nie altyd nie. Daar is ’n groter werklikheid wat ons nie kan sien nie.

Ek hoop dit help mense om dinge uit ’n ander perspektief te beskou. Mense wat waarde uit die boek behoort te kry, sluit in: diegene wat belangstel in onderwerpe soos engele, drome en die onderbewussyn, in  trauma, in die veerkragtigheid van die menslike gees en hoe om ná terugslae op te staan, in aandagtigheid, in dood en die lewe, in rou en genesing. Hier is ook lesse oor die lewe en die dood, die skepping, die werking van die menslike bewussyn en die onderbewuste, hoe die wetenskap en verskillende gelowe se onderskeie sienings toenemend nader aan mekaar kom, buite-liggaamlike en nabydood-ervarings.

Die boek lig ook die waarde uit van musiek, joga, Thai-massering, meditasie en tyd in die natuur (aandagtigheid) tydens trauma.

Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?

Sommige mense gaan bloot die storie lees, terwyl ander gaan besin oor wat daarin geskryf staan. Die dood van ’n kind is een van die pynlikste gebeure wat ’n volwassene kan ervaar, en word gekoppel aan ingewikkelde traumatiese rou-reaksies.

Die soeke na betekenis is veral vir sulke ouers belangrik. ’n Begrip van hoe die dood by die lewe inpas, is moeilik. Geloof is vir sommiges ’n bron van troos, maar ander met godsdienstige oortuigings voel dat God hulle verraai het.

Ouers wat ’n kind verloor het, voel dikwels asof hulle die enigstes is wat dit al oorgekom het. Om te kan identifiseer met iemand wat dieselfde ellende deurgemaak het, kan hulle minder geïsoleerd laat voel.

Vertel van een stukkie hoop in die boek. 

Daar is ’n groter prentjie – en alles is liefde. Ons is almal een. Ons menslike sintuie is beperk. Ons sien die wêreld deur die liggaam waarin ons leef, maar ons is meer as dit. Dinge sal wel eendag sin maak.

Daar is groot seëninge op ons gesin uitgestort, ondanks die pyn en trauma. Ons is intussen ook geseën met drie dogtertjies in die gesin – twee pragtige kleindogters en ’n pleegdogter. Ons pleegkind se Tswana-naam beteken “lig”.

LEES OOK: VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Ons hele gesin het geestelik gegroei, alhoewel ons almal steeds baie na Larissa verlang.

Ek het antwoorde gekry toe ek dit die minste verwag het. Ek is nou dankbaar vir die wyse waarop my ervarings wysheid en diepte in my wese gekerf het.

Ek weet nou ek is hier om te dien, lief te hê, te skyn, te skep, ’n verskil te maak en met die hoogste Lig te verbind.

Die Skepper is die bron van alle lig en energie, suiwer liefde en vrede. Dié Lig is oneindig groter en kragtiger as al die laste, duisternis en lyding. Die Skepper is in alles wat daar is.

Hierdie geheime word gewoonlik eers aan mense bekend wanneer hul liggaam dood is en die transformasie plaasgevind het. Byna alle geloofsgroepe probeer om die doel van die lewe te vind – en uiteindelik bereik byna almal dieselfde gevolgtrekking: Die betekenis van die lewe is liefde.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Ek het geleer om meer kreatief te skryf. Voorheen het ek as joernalis baie meer logies te werk gegaan.

Die skryfproses was ook vir my ’n soort terapie. Dit het gehelp om my diepste gevoelens te verwoord en het my deur die rouproses gelei.

LEES OOK: ‘My kind, my kind, hoekom?’

Watter terugvoer het jy al ontvang?

 ’n Dame het vertel dat sy ná die dood van haar 16-jarige seun, wat op die rugbyveld ná ’n asma-aanval gesterf het, heelwat boeke oor die dood van ’n kind gelees het. Dié boeke het haar egter net verwar, en haar kwaad of hartseer gemaak. Sy sê my boek is die enigste leesstof wat haar nog ooit getroos en beter laat voel het.

Vertel meer oor die omslag.

Dis ontwerp deur Hanli Deysel (Protea Boekhuis se uitlegkunstenaar en voorbladontwerper) en is geskoei op die John Collier-skildery, “The Land Baby”. Ek het kort ná die ongeluk ’n liedjie daaroor geskryf met die naam “Landkind”* nadat ek die skildery op die internet gesien het. Die dogtertjie daarin lyk presies soos Larissa.

Ek het nog altyd van die see en meerminne gehou. Die meermin en die dogtertjie leef in verlange na mekaar, maar hulle kan mekaar nie bereik nie. Hulle verkeer in twee wêrelde, in die see en op land.

Ansja se boek word deur Protea Boekhuis uitgegee en kos R240. Die boek is by alle groot boekwinkels beskikbaar en kan ook deur proteabooks.com bestel word.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF