Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Daardie mense is meesters daarvan om hul prooi te vang’ – ná molestering word haar seer ’n skild vir ander

Die pad na herstel van diep trauma verloop selde in ’n reguit lyn, en vir die 44-jarige Annemarie Gillmer is dit niks minder nie as ’n daaglikse stryd om oorlewing. Nadat sy as kind jare lank deur haar perdryafrigter gemanipuleer en daarna gereeld verkrag is, het depressie haar herhaaldelik tot op die rand van selfdood gedryf. Sy het haar verhaal aan MARETHA BOTES vertel.

Annemarie erken dat sy nie glo sy sal ooit heeltemal van die trauma genees nie. Maar sy wil haar seer in ’n skild verander om sodoende ander weerloses te help beskerm. Daarom vertel sy haar storie. Op dié manier wil sy die weggesteekte werklikheid van seksuele voorbereiding (grooming) ontbloot, en wil sy ouers sowel as kinders daarvan bewus maak dat hierdie gevaar in die mees alledaagse plekke skuil.

Sy gesels met LiG vanuit haar studeerkamer in Durbanville, Kaapstad, waar sy knus teen die winterkoue skuil. Sy is omring deur die liefde van haar man en van hul twee kinders, onderskeidelik 16 and 21.

’n Daaglikse stryd met vertroue

“Ek verkeer vandag nog in ’n daaglikse stryd met vertroue. Dis vir my moeilik om ander mense te vertrou – maar die moeilikste is dat ek dikwels nie my eie oordeel vertrou nie. Ek moet soms vir my man vra: ‘Is dit die trauma wat praat, of is die situasie werklik gevaarlik?

“Dit gebeur veral wanneer ek aan my dogter dink.”

Annemarie sê sy het ingestem om oor dié onderwerp te praat omdat sy daarvan oortuig is dat veral ouers naïef is oor hoe maklik grooming en uiteindelik seksuele misbruik van kinders plaasvind.

LEES OOK: ‘God het m‎y seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi

Op die klein Noord-Kaapse dorpie waar sy grootgeword het, het almal mekaar geken. Dié man, ’n Springbokruiter, was ’n gesiene inwoner. Hoewel hy onlangs oorlede is, verkies Annemarie om nie sy naam te noem nie uit respek vir sy familie.

Sy vertel dat die misbruik reg onder haar ouers se neus gebeur het. Die oortreder het jare lank spesiaal moeite gedoen om eers ’n hegte vriendskap met hulle te smee voordat hy sy visier op haar, toe 11 jaar oud, gerig het.

“Hy het eers ’n huisvriend geword en almal se vertroue gewen. Op ’n dag het hy vir my ma-hulle gesê hy hou my al lank dop as ek ry, en hy reken ek het baie potensiaal. Hy sou my graag wou afrig.

“Natuurlik het ons ingestem, want dit was ’n reusegeleentheid en ’n groot voorreg.”

‘Niemand anders sal verstaan nie’

Op dié manier het hy baie subtiel, en oor ’n baie lang tydperk, die jong kind se vertroue gewen en haar laat glo dat hulle twee ’n spesiale vriendskap het wat “niemand anders sal verstaan nie”.

Dan sou hy haar vertel hoe volwasse sy vir haar ouderdom is; hy sou oor sy probleme by die werk met haar gesels. Of hy sou praat oor iets wat hom pla by sy vrou en in hul huwelik. Altyd met die waarskuwing dat dit net tussen hulle moet bly, “want ander mense sal nie verstaan nie”.

Ná ’n uithourit sou hy vir haar koeldrank bring. Op ’n dag – sy was toe 14 – het hy gesê hy het ongelukkig nie koeldrank nie, maar wel twee biere. En of sy dalk ’n slukkie bier wil hê.

Sy was ook 14 toe hy haar die eerste keer gesoen het.

Hy het haar stelselmatig van haar wêreld geïsoleer. “Ek het my heeltemal van my vriende onttrek, en later geen vriende in my ouderdomsgroep gehad nie. Van graad 8 tot graad 10 was ek nooit pouses saam met ander kinders nie. Ek het alleen onder ’n boom gesit, want hy het elke pouse by die skool verbygery en vir my gewaai.”

Dis juis hierdie soort dinge wat Annemarie hoop ouers sal raaksien. “As jou kind haar aan gewone tieneraktiwiteite onttrek, is dit ’n rooi lig. Én as sy ’n spesifieke volwassene se naam dikwels noem. As my ma vandag op alles sou terugkyk, sou dit vir haar ’n teken gewees het. Maar hulle het dit destyds misgekyk.

“Hulle moes gehoor het hoe infatuated ek met hom was. En in ’n mate hét hulle dit gehoor, maar hulle het gedink dis bloot ’n soort heldeverering.”

Die eerste keer wat hy “per ongeluk” aan haar geraak het, was toe sy 13 was. Hy het haar gehelp om ’n perd op te saal. “Sy hand het skrams oor my bors beweeg. Hy het onmiddellik jammer gesê en my laat voel dis oukei.

“Hy het my bederf met geskenke soos ’n nuwe saal vir my perd, allerlei toerusting, ’n CD met ‘ons spesiale liedjie’ daarop. Later het hy gesê hy kan nie wag dat ek 16 word sodat dit ’n openlike verhouding kan wees en hy sy vrou kan los en intiem met my kan wees nie.

“Jy is ’n kind, jy is weerloos. Jy weet dis nie reg nie, nie normaal nie. Maar hy het dit ook nie probeer normaliseer nie. Hy het gesê die wêreld sal nie verstaan nie, want ons is uniek.”

Die eerste verkragting

Toe Annemarie 16 was, het hy haar die eerste keer verkrag. En toe ’n hele paar keer daarna. Sy vertel: “Ek het agtergekom hoe anders hy ná hierdie voorvalle was. Daar was minder komplimente, en hy het baie veeleisend geword. Ek onthou een spesifieke dag toe ek vir hom gesê het: ‘Oom, kan ons asseblief net eers hiermee ophou?’

“Hy was buite homself van woede. Hy het gedreig om die perd wat hy vir my geleen en alles wat hy vir my gegee het van my af weg te neem. Hy het gesê hy sal my ouers en die hele perdrygemeenskap vertel hoe ondankbaar ek is.

“Jy moet verstaan dat my ouers baie betrokke was, toegewyd. My pa is ’n ingenieur met ’n graad in sielkunde; my ma is ’n onderwyseres. Hulle is mense met insig. En steeds het hierdie man dit reggekry om ons almal te kul.

“Daardie mense, die seksuele oortreders, die groomers, is absolute meesters daarvan om hul prooi te vang. En dis vir my só ’n belangrike boodskap: Hulle kies nie net die kind nie; die ouers word net soveel ge-groom.

“Hy het ’n vertrouensverhouding met ons almal gebou. My ma-hulle was dalk af en toe ’n bietjie ongemaklik omdat hy so gemaklik by my was. Maar dan sou hulle vir mekaar sê: ‘Nee, man, ons ken hom, hy sal nooit skade aanrig nie.’ My hart breek vir die ouers wat hulle in so ’n situasie bevind.”

Eers nadat Annemarie se ma eendag in die stalle gehoor het hoe die afrigter op haar skree, het hulle besluit om die lesse te staak. “Dit was nogal ’n skande,” vertel Annemarie, “want hoekom sou dié kind wat soveel talent het skielik ophou? My ma-hulle het toe nog nie geweet wat regtig aan die gang was nie, en ek het nie daaroor gepraat nie.”

Van skuldgevoelens na selfdoodpogings

Maar die skuldgevoelens het haar opgevreet. “Ek het myself in ’n baie negatiewe lig beskou. Ek het aan myself gedink as iemand wat losbandig is.

“Ek kom uit ’n Christen-huis, en dit was vir my vreeslik om te dink dat ek ’n getroude man verlei het. Dit was ’n aaklige etiket wat ek vir myself gegee het.

“En hy het dit versterk. Hy het vir my gesê ek het hóm verlei en dat hy nooit andersins in so ’n situasie sou beland het nie.”

Die groot krisis het gekom toe Annemarie in Potchefstroom gaan studeer het. Die depressie en angs het so erg geword dat sy besluit het om haar eie lewe te neem. Sy het ’n oordosis pille gedrink en haar polse gesny.

Haar kamermaat het haar só gekry. “Hiervan onthou ek baie min. Net die ambulans, en mense wat my probeer wakker hou. Die sielkundiges het met my begin werk. En ek het my storie vertel: Hoe ek myself haat, want ek is hierdie los girl; ek het ’n getroude man verlei.

“Vir die eerste keer het iemand vir my gesê dis ’n leuen. Die waarheid is dat ek die slagoffer van ’n misdaad is.”

Annemarie moes ’n bitter lang pad loop voordat sy dié nuwe waarheid kon aanvaar. Haar innerlike stryd het dekades lank geduur. Daar was mettertyd drie selfdoodpogings, waarvan die mees onlangse een in 2015 was.

Uiteindelik, in Desember 2021, het Annemarie gevoel sy is gereed om regstappe te neem. Maar toe word die mat onder haar uitgepluk: Dié man het in Julie 2022 skielik aan ’n hartaanval gesterf. “Dit was ’n enorme skok, dit het soos ’n klap in die gesig gevoel. En dit het opnuut trauma tot gevolg gehad. Dit het my laat voel dat hy my weer van alle beheer ontneem het.

“Vandag vind ek wel troos daarin dat hy niemand meer kan seermaak nie.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►