Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God het m‎y seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi

 DEUR CONETTE LE ROUX; HOOFFOTO: MURRAY LOUW

“Die oomblikke van seksuele mishandeling was vir my, en natuurlik vir haar, die ergste. Dit is heel laaste onthul, en dit het die grootste probleme in haar verhoudings en dag-tot-dag-lewe veroorsaak. Sy het my ’n ietsie daarvan vertel – en dan eers gestop. Later nog ’n bietjie …

“Dit was soms vir my só seer om daarna te luister dat ek ná die tyd by my man gaan huil het. Ek kon nie glo dat ’n mens sulke dinge aan jou kind kan doen nie.”

Dié oomblikke waarin Landi – die oudste dogter van die sogenaamde “Huis van Gruwels” in Springs – die sluier gelig het op die mees intieme besonderhede van wat alles met haar gebeur het, was vir Mariette Kroukamp die ontstellendste.

’n Gebroke 19-jarige

Mariette en haar man Rudi het Landi deel van hul huisgesin gemaak nadat hulle in 2017 as haar pleegouers aangewys is. Voor dit was Landi in ’n huis van veiligheid.

Landi (middel agter) by die Kroukamp-gesin. Foto verskaf

Die algemene publiek het ná 20 Mei 2014, toe Landi en haar sibbe uit hul grootwordhuis verwyder is, ’n kykie gekry in die skokkende omstandighede waarin dié kinders grootgeword het. Dit het opslae in die media gemaak. Die kinders se pa, wat Landi-hulle jare lank in hul huis toegesluit het, is die “Springs-monster” genoem.

Toe Mariette die 19-jarige Landi in haar huisgesin innooi, moes sy eensklaps ’n gebroke mens emosioneel ondersteun. Dít was vir Mariette die moeilikste, omdat sy geweet het watter reuseverantwoordelikheid dit is.

“Ek onthou die eerste keer toe ek destyds berading gedoen het – dit was vir iemand anders – hoe ek besef het dat dit wat ek nou vir dié mens gaan sê, die krag het om te maak of te breek. Ek het besef ek moet regtig seker wees wat ek by die Here hoor voordat ek enigiets sê.”

‘Ek kon voel hoe vuil, hoe verneder, sy gevoel het’

Landi het stadig maar seker ook die ander gebeure, wat steeds by haar gespook het, met Mariette begin bespreek. “Die marteling was erg. Die pa het hulle dae lank sonder kos in ’n kas toegesluit. Die ma het haar met ’n naald op haar private dele geprik toe sy as klein dogtertjie haar broekie natgemaak het.

Mariette help haar kinders Mieke (11) en Riëtte (13) daagliks met tuisonderrig. Foto: Murray Louw

“Maar,” sê Mariette, “God het die seer uit mý verlede gebruik om Landi te help. My seer was nog vars in my geheue. Ek kon voel hoe vuil, hoe verneder, sy gevoel het. Jy voel mense oordeel jou en dink jy is goedkoop. Jy voel dat almal op jou neersien …”

Mariette sit op ’n rusbank in haar huis in Springs en vertel hoe sy as 11-jarige deur ’n seunsvriend gemolesteer is. Hy was vyf jaar ouer as sy. “Die molestering het later verkragting geword. Destyds was ek so skaam daaroor dat ek dit vir niemand vertel het nie; ek het gedink ek is aandadig daaraan.

“Intussen kon ek ‘normaal’ voortgaan met my lewe: Ek was hoofdogter op laerskool, ek het provinsiale netbal gespeel en akademies baie goed presteer.”

Sy onthou wel dat sy gesukkel het om liefde “diep” te voel. “Ek het gesukkel om te bepaal wanneer my gevoelens werklik is, en ek het liefde op die verkeerde plekke gaan soek.”

Later het sy die liefde van haar lewe ontmoet – en dit het jare lank goed gegaan. Maar ná tien jaar se getroude lewe het daar eensklaps iets gebeur wat byna haar huwelik gekelder het. “Dit was asof iemand skielik die ‘af-knoppie’ in ons huwelik gedruk het. In 2014, toe ek my lewe vir die Here gegee het, het ek begin ‘skoonmaak’. Ek het toe eers besef ek is destyds gemolesteer en verkrag.* Liefde en seks het vir my lelik geword.

“Dankie, Here, ek het toe gaan hulp soek! Ek het wonderlike vriende en beraders wat my gehelp het. Ook my man het my berading gegee, sonder dat hy dit geweet het. Hy het gevra dat ek hom elke stukkie detail vertel, dat ek openlik daaroor praat. Vandag spot ek daaroor en sê my man het sélf berading nodig gehad nadat hy gehoor het wat alles met my gebeur het, wat ek alles gedoen het!”

Daar het uiteindelik genesing vir hul huwelik gekom. “Die Bybel sê nie verniet die waarheid is seer maar maak vry nie. Bloot om die volle waarheid te onthul, bring reeds genesing.”

‘God het my gemors geneem …’

“Ek kon Landi toe help met die leuens wat s‎y van haarself geglo het. Ek kon haar vertel dit hoef nie so te wees nie. Maar ek moes ook verduidelik dat sy self die besluit moet neem om werklik eerlik te wees oor die leuens wat sy oor haarself glo, oor álles …”

Wanneer liefde ‘n keuse is

Mariette sê sy het ook gou besef ’n berader kan jou baie help, maar dat God die Enigste is wat jou siel gesond kan maak. “Ek kon Landi uiteindelik bloot begelei, maar die werklike genesingsproses was ’n saak tussen haar en God.

“Ek is vas daarvan oortuig dat God ’n liefdevolle Vader is wat nie daarop uit is om te soek waar Hy jou kan seermaak nie. Hy is wel op die uitkyk vir die seer wat Hy gesond wil maak. Jy moet dit net vir Hom gee.”

Mariette het onlangs haar en haar gesin se pad saam met Landi in ’n boek beskryf. Dis nie bedoel as ’n vervolg op Landi se eie boek nie (Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel, LAPA Uitgewers), maar ’n getuienis dat Romeine 8:28 die waarheid is. In een vertaling lui dit só: “God gebruik elke ding wat in ons lewe gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet werk alles tot ons beswil uit.”

“God het my gemors geneem en daarvan kompos gemaak. En Hy het die kompos gereed gehou vir die oomblik wanneer Hy Landi in ons lewe inbring, sodat dit met haar groeiproses kon help.”

*Mariette het eers as volwasse vrou tydens ’n vrouekamp besef sy is gemolesteer en verkrag. ’n Ander vrou het haar eie getuienis gelewer nadat sy jare gelede verkrag en gemolesteer is – dít het vir Mariette laat besef dat dit nie haar skuld was nie.

  • Klik hier om Mariette Kroukamp se boek Wanneer liefde ’n keuse is te koop.
  •  Stuur jóú storie van hoop of getuienis in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF