17 Februarie 2021
Ons almal het bekommernisse, en soms is dit goed om dit van jou hart af te kry. Maar wat bereik jy as jy aanhoudend daaroor kla?
DEUR ZERELDA ESTERHUIZEN
Holly Furtick, ’n bekende in die Elevation-kerk in die VSA, sê sy het ’n toets vir haarself aangelê om vas te stel hoe dikwels sy kla. Sy het ’n bandjie om haar arm gesit – en elke keer as sy begin kla, het sy dit na die ander arm verskuif. Teen die einde van die week was die bandjie stukkend.
LEES OOK: Nuwe rubriek: Die 1 Korintiërs 13-mamma
Sy sê: “Ons kla so baie! Dis te warm; dis te koud. Ek wens die seisoen wil draai; ek haat hierdie maskers. My kinders het nie maniere nie; hier is niks in die huis om te eet nie.
“En so kla ons lustig voort.
“Ek het geleer dat ’n mens nie by iemand moet kla wat niks aan jou probleem kan doen nie. As jou geiser stukkend is, kla by die persoon wat iets daaraan kan doen.”
Holly sê: “Ons bly in ’n wêreld waar dit gans te maklik is om te kla. Ons wêreld het nie ’n tekort aan menings nie; ons kort wel beter voorbeelde.”
Hoor maar vir Paulus: Hy het selfs in moeilike omstandighede nie gekla nie. Hy het op vreugde bly fokus, ten spyte van sy gevangenskap. In ’n Engelse vertaling van sy brief aan die Filippense, wat hy uit die tronk skryf, word die woord “rejoice” 16 keer aangetref. In die Afrikaanse vertalings kom die woorde “blydskap” en “bly wees” in vele vorme só voor.
Holly se raad
- Wees dankbaar vir wat jy het.
- Moenie op ander mense se foute fokus nie. Konsentreer op jouself en werk aan jouself.
- Sê: “Ek is jammer!”
- Wees lief – met dade.
- Los dit wat jy nie kan regmaak nie.
- Onthou jou lewe praat duideliker as wat jou stem ooit kan.
Lees in Deel 2 van dié artikel, wat op 18 Februarie op www.lig.co.za gelaai sal word, meer oor hoe om positiewe gedrag aan te leer.