Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Deur die lens van ’n ekspat-vrou: ‘Ons gesin is nie altyd volledig om die etenstafel nie, maar ons is nie gebroke nie’

Ons is op 19 Maart 2005 getroud, en het uit die staanspoor gekies dat God die fondament vir ons huwelik sal wees. Op hierdie fondament het ons gebou. Maar die Here het ons op interessante maniere laat bou. Dit was in geen stadium ’n gewone huwelik nie.

Deur God geroep

My man Sollie het feitlik ’n dekade lank as konstruksiespesialis in Saoedi-Arabië gewerk. Hy is deur God daarheen geroep. Hy kon elke drie maande sowat twee weke lank huis toe kom.

Ná die amperse tien jaar was hy skaars terug in die land, of hy is deur sy vorige werkgewer opgeraap. Daar het groot projekte op hom gewag. Hy spesialiseer in petrochemiese- en ander pyplyn-projekte. Die werk was eers in Secunda, toe verderaan in Mpumalanga, en deesdae is dit in Milnerton, Kaapstad.

LEES OOK: Weduwee op 25: ‘Ek het later besef ek het Iemand nodig wat groter as my situasie is’

Toe hy in Secunda gewerk het, kon hy vir die eerste keer elke naweek huis toe kom. Nou kan hy net aan die einde van elke maand van die Kaap af huis toe kom – en dan net vir ’n kort rukkie.

‘Nee, ons raak nie daaraan gewoond nie’

Mense vra altyd: “Hoe doen julle dit?” Of hulle sê: “Ag, julle is seker al daaraan gewoond …”

As God jou geroep en ’n spesifieke opdrag aan jou toevertrou het, boonop sonder dat jy oor die nodige kwalifikasies daarvoor beskik, kan jy tog nie weier nie. Maar nee, ons sal dit nooit gewoond raak nie. Ons kweek wel gewoontes aan om dit doenbaar en volhoubaar te maak, vir solank die Here dit van ons vra.

En ons huwelik bly mooi en gesond, én anders. Ons fondament is immers stewig en eg. Vir ons is ’n huwelikskontrak meer as pen-op-papier; dit weerspieël die bloedverbond wat Jesus aan die kruis met ons aangegaan het.

Ja, die lens waardeur ek kyk is soms wasig, en dikwels vol spatsels wat die lewe daarop gemaak het. En daar is partykeer swaar, donker skadu’s van alleenwees. Maar getrouheid, lojaliteit, liefde en ’n nalatenskap wat ewigheidswaarde het, het nog altyd in ons lewe geseëvier. Allereers omdat ons God liefhet, maar ook omdat ons vir ons twee seuns ’n mooi voorbeeld wil stel.

In ’n wêreld waar “dit is te moeilik” die deur wawyd oopgemaak het vir “kom ons los dit eerder”, wil ons die voorbeeld uitleef van “dit is moeilik, maar met God by ons, standvastig en getrou, kan ons enigiets te bowe kom”.

Egskeidings verwoes nie net die fondament nie, maar ook die ganse gebou. Ek kyk, deur die lens van die Heilige Gees, met groot nederigheid en ’n diep afhanklikheid na my twee seuns, en ek sien genade op genade en guns op guns.

Nie perfeksie nie, maar wel God se bloudruk wat deur gehoorsaamheid en getrouheid in hul lewe eggo.

Alleen, maar nie gebroke nie

“Ek wil ook eendag liefhê soos Mamma en Pappa mekaar liefhet.” Dié woorde van ons tienerseun, wat sy pa sedert sy vyfde lewensjaar net elke drie maande gesien het, het my diep geraak. Hy kyk met soveel respek op na ’n vaderfiguur wat gekies het om lief te hê soos Jesus liefhet.

Paulus se woorde in Efesiërs 5:25 is my gebed vir my seuns: “Mans, wees lief vir julle vroue soos wat Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.” Ek is dankbaar dat my man gekies het om getrou en gehoorsaam te wees aan ’n gesag wat verder, hoër en dieper strek as die wêreld se gemak. Dit is oor dié nalatenskap vir ons twee seuns wat ek droom.

Dis ’n nalatenskap wat veel verder strek as bloot die lees van ’n testament, daardie getikte opsomming van ’n lewe wat geleef is en waartydens ’n klompie besittings versamel is. Die nalatenskap wat hulle gaan toekom, is om te onthou dat al was ons nie altyd ’n volledige gesin om die eetkamertafel nie, was ons nooit gebroke nie. En al kon ons nie elke verjaardag of Moedersdag of Vadersdag of Kersfees saam deurbring nie, het ons heel gebly.

Hulle sal onthou dat ons liefhet omdat Christus ons eerste liefgehad het. Dat hul pappa die mantel van Christus gekies en aangetrek het, en die kruis daarvan met waardigheid gedra het.

Hulle sal onthou dat hul mamma, net soos Rut, lojaal en getrou aan die oesland en haar Boas was.

Om die regte ding te doen is nie altyd maklik nie. Om die moeilike ding te doen is nie altyd eenvoudig nie. As ons presies kon weet hoe God oor die verkeerde dinge sou oordeel, sou ons dit steeds gedoen het?

Maar God se Woord maak geen geheim van die beloning en die beloftes wat op die gehoorsames wag nie. En daarom kies ons die regte dinge, ook dié wat bitter moeilik is.

Die huwelik is ’n heilige instelling, ’n lewenslange verbond van onvoorwaardelike liefde en eenwording tussen man en vrou. My status as ekspat-vrou mag dalk nie binnekort verander nie, maar ek kies om elke dag die karakter en verantwoordelikhede van ’n getroude vrou te eer, te respekteer en uit te leef.

‘Dit is wat ek kies’

Ek kies een man, een bed, een groot nalatenskap vir ons seuns.

Ek kies die verbond met God en die moeilike lewe wat Hy ons saam-saam laat bou. Die lens van die hart is bedoel om swaar en hartseer dinge, moeilike dinge en allerlei lewensspatsels, vas te vang, en om dit te deel met ander wie se lens dalk ’n aanpassing en miskien selfs vernuwing nodig het.

’n Gesonde huwelik in God bou op die fondament wat Hy vir ons is, sodat dit kinders voortbring en grootmaak wat gesond is in Hom.

Ons kan nie altyd kies wat met ons gebeur nie. Maar wanneer ons God gekies het, verander die manier waarop ons op uitdagings reageer.

En daarom sê ek: Dankie, Here, vir my storie as ekspat-vrou. Mag dit tog, daar waar dit nodig is, ander vroue se lens verskuif en dalk selfs aanpas. Aan U alleen al die lof en die eer!

  • Vanessa Grimsdell het 15 jaar lank by Sasol in Secunda gewerk voordat sy kort ná haar eerste seun Aiden (nou 18) se geboorte bedank het. Haar jongste seun is Reegan, en hy is nou nege. Tans bestuur sy haar en haar man se logistieke maatskappy wat hulle in 2020 tot stand gebring het. Sy het ook die afgelope klompie maande aan die konsep vir ’n realiteitsreeks gewerk, gebaseer op “Jesus se hart vir die huwelik”. Sy woon in Vanderbijlpark.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►