Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Dié aan wie geraak word

Verlede week kom spreek ’n bejaarde man my. Hy is swak, uitgeteer, afgemat. Die kanker het al wyd versprei. Medies gesproke is daar nie veel wat ek vir hom kan doen nie; ek kan maar probeer om sy pyn te verlig. Seker maak dat hy gemaklik is.

Sy dogter, wat hom vergesel, se oë is donker. ’n Terminale siekte raak ’n hele familie. 

Ek sit my hand op sy skouer terwyl ek met hom en sy dogter praat oor die pad wat voorlê. Vroeër jare het ek probeer om ’n afstand tussen my en so ’n pasiënt te handhaaf, ten einde myself te beskerm. Deesdae sorg ek doelbewus dat ek aan sulke mense raak. Dikwels is dit die enigste ding wat ek vir hulle kan doen, daardie dag wanneer medisyne nie meer kan help nie.

Ek het besef dat sulke aanraking vir eers genoeg is wanneer jou woorde te min raak. Op dié manier wys jy aan sulke mense dat jy hulle werklik raaksien. 

LEES OOK: ‘God se wiskunde werk anders’

Hoe sou dit gewees het om Jesus se hande op jou te voel …?

Jesus was nie bang om aan mense te vat nie. Hy het hulle trouens genees deur hulle aan te raak. Daar was nie ’n morele of leerstellige “toets” voordat Hy aan hulle gevat het nie. Daar was ook nie ’n lysie voorwaardes waaraan eers voldoen moes word nie. Dit het nie saak gemaak of jy ’n Jood was of nie, besny of gedoop is of nie, en of jou waardes en leefwyse reg was of nie.

Daar was gewoonlik net een vraag. “Glo jy …?”

Markus vertel: “Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword” (Mark 6:56).

Ek dink ook aan die vrou met bloedvloeiing se desperate geloof toe sy vir haarself gesê het: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word” (Matt 9:21). Daarop het sy aan Jesus se klere geraak, en sy is genees.

En ek dink aan die blinde man met Jesus se hande op sy oë. Die doofstom man met Jesus se vingers in sy ore. Aan die melaatse man wat deur Hom genees is, en die soldaat wie se oor deur ’n dissipel afgekap is. Bloot deur aan hulle te vat, het Jesus hulle genees.

Mense het kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle moes raak (Luk 18:15). Jesus se aanraking het selfs mense uit die dood opgewek.

Ek wonder hoe dit was om Jesus se aanraking te voel? Sy hande op jou gesig, jou vel … 

Ons sal dit nooit weet nie. Wat ons wel weet, is dat ons die opdrag gekry het om uit te gaan en soos Hy te maak. 

Aanraking bring genesing

Om bereid te wees om aan geraak te word, veronderstel ’n soort weerloosheid. En vertroue. Maar weerloosheid kan nie voorgegee word nie en vertroue kom nie altyd maklik nie. Dalk het daar vroeër iets gebeur wat jou vertroue geskend het en wat tot gevolg het dat jy nie sommer aan jou laat vat  nie.

Om op jou beurt aan iemand anders te (wil) raak, is ook nie eenvoudig nie. Soms wil ons nie ons hande, spreekwoordelik, “vuil” maak nie. Ons verkies om in ons gemaksone te bly, dié plek waar ons veilig voel.

Maar dalk moes jy vandag hier lees sodat jy kan onthou om doelbewus aan iemand te raak. Aan ’n hand of ’n skouer. Jy weet nie hoeveel dit tot daardie een se genesing sal bydra nie.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF