Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God se wiskunde werk anders

My oudste is in ’n “tel-fase”. Ons tel trappies wanneer ons op of af moet gaan; ons tel hoeveel happies in sy bord oor is, en trek happies af soos ons verder eet; ons tel die saadjies in sy appel; ons tel hoeveel minute oor is totdat die uur verstreke is. Hy stel in sport belang … bloot omdat daar ’n telbord is wat die sekondes aftik. Ja-nee, ons tel op en ons trek af, die hele dag lank!

My seun se beheptheid met syfers het my daaraan laat dink dat God se optel- en aftreksomme … wel, anders is as wat ons dink. Trouens, sy soort wiskunde maak glad nie vir ons sin nie. Hy gebruik nie plus en minus soos ons nie. Hy tel nie ons sondes en oortredings bymekaar nie; Hy trek ook nie sondes en oortredings af as ons goeie dade doen nie. Hy werk nie, kan ons maar sê, volgens meriete nie. 

Daar is by Hom nie sprake van rekeningkunde nie, van debiet en krediet nie. Jou “bates” word nie met jou “laste” gebalanseer nie, ongeag hoe hard jy probeer. Jy kan nooit sy vergifnis verdien nie. Jy kan tog nie iets verdien wat jy reeds ontvang het nie!

Jy kan ook nie iets bereik wat reeds, uit vrye wil en in al sy volheid, aan jou geskenk is nie. Jy het geen skuld om af te betaal nie; Hy het die skuld lankal afgeskryf. 

LEES OOK: ‘Die hoop wat die manne in groen-en-goud bring’

Slaan jou hande saam!

God se vergifnis is radikaal. Dit word nie verdien of verwerf nie. Die buitengewone aard daarvan het tot gevolg dat ons nie daaroor kan onderhandel nie. Ons kan dit nie manipuleer nie. Ons kan dit bloot aanvaar, soos ’n mens met ’n geskenk maak.

Sy genade werk soos ’n sleutel. Hiermee sluit Hy ons mensgemaakte tronke oop. Ons met ons merietelyste, ons “balkie-mentaliteit”, ons reg-en-verkeerd-merkies, ons plusse en minusse. 

’n Mens kan net jou hande saamslaan wanneer jy voor hierdie raaisel tot stilstand kom. En dit toets ons vermoë om te glo dat die onmoontlike tog moontlik kan wees. Dit stel ons wel in staat om ons skuldgevoelens en skaamte by die deur te los. Om ons dankbaarheid-kleed aan te trek en ons vryheid vas te gryp.

Genade in al sy werklikheid

Vind jy dit, ná alles hierbo, steeds moeilik om te glo?

Kyk dan hoe Jesus deurgaans die uitgeworpenes betrek, die sondaars en tollenaars, die randfigure en buitestanders. Hoe Hy hulle omhels en volledig deel maak van sy nuwe verhaal.

Ja, ons ego sukkel hiermee. Ons hoor Hom nie; ons sien Hom nie raak nie. Ons glo dalk in God se genade … maar dan skep ons nuwe grense daarvoor. Ek kies om op mý manier lief te hê, ’n liefde wat dikwels bepaal en beperk word deur hoe ek ander mense beoordeel. Is hulle my liefde werd? vra ek.

Die omgekeerde is ook waar: Ek betrap myself dikwels dat ek hard probeer om my skoon te skrop en om my aantreklik te maak, sodat dit darem kan lyk asof ek die Here se genade verdien.

Wanneer gaan ek dit ooit regkry om my selfgeskepte “standaarde” te laat vaar en die genade in al sy werklikheid te omhels?

Hoor wat skryf Paulus: “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie” (Rom 11:6).

Anders is die genade nie meer genade nie …

Ons moet aan  onsself sterf. Ons moet ons ego prysgee. As ons deur ons goeie dade gered sou word, sou die ego wen. Ons sou ons daarop kon beroem, onsself op die skouer kon klop en sê: “Ék het dit gedoen! Kyk wat het ek reggekry!” 

Genade is die laaste spyker in die ego se doodskis.

Weer Paulus: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef 2:8-10).

Onthou tog: Wanneer jy weer al jou sondes wil “optel”, of probeer om sondes “af te trek” deur goeie dade te doen, kyk dan hoe genade by jou opdaag. Dit is op ’n plek ánderkant ons logika. Dis waar voorwaardes of vergelykings geen sin maak nie. Dit is die plek van Goddelike vrygewigheid.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF