“Ek het om hulp geskree en terselfdertyd probeer keer. Ek het dadelik besef dis ’n geveg om lewe en dood. Sy oë het soos die duiwel s’n gelyk.”
Andrew de Vries, besturende direkteur van Koelenhof-wynkelder naby Stellenbosch, dink terug aan 10 Desember 2021 toe hy deur ’n man wat destyds ’n tydelike werknemer by hulle kelder was, aangeval is. Hy is 15 keer met ’n mes gesteek – tien maal op sy rug, vier steke op sy arm en skouers. ’n Laaste messteek was in sy gesig. Sy lippe en tong was in die helfte gekloof, een van sy boonste tande was gebreek en twee ondertande is deur die mes uitgeruk. Ook Andrew se onderkaak was erg beskadig.
Iemand het met Andrew na die Cape Gate Mediclinic gejaag. By die ongevalle-afdeling het dit geblyk dat sy een long beskadig was en hulle het ’n dreineringspyp ingesit. “In ’n stadium het dit gevoel asof water in my borskas opstoot. Ek het geweet dat as die water tot by my hart opstoot, ek sal versmoor.
“Ek het gebid, die Here se Naam aangeroep en Hom gevra om in te gryp. Ek het vir God gevra om my vrou te seën, om my kinders te seën en te beskerm, want ek het gevoel ek gaan sterf,” onthou Andrew. Hierna het hy die Onse Vader-gebed probeer bid, maar kon tot sy ontsteltenis nie die woorde onthou nie.
“In my geestesoog het ek goue vuurwerke gesien wat hemel toe skiet. Ek het besef die Vader wys vir my die baie, baie smeekgebede van medegelowiges wat vra dat my lewe gespaar word,” vertel Andrew.
Klik hier om Andrew se volle video-verhaal te kyk.