31 Maart 2021
DEUR SIMONE GAUCHE
Iewers op die lang pad luister ek na ’n radiopraatjie. Dit handel oor die dinge wat ons van Hanna, die priester Samuel se ma, oor ouerskap kan leer. Dit het so ’n indruk op my gemaak dat ek weer na haar verhaal in die Bybel gaan kyk het.
Hanna was kinderloos. Niemand het haar hartseer verstaan nie. Haar man verstaan nie haar begeerte om kinders te hê nie. Hy vra haar of hy dan nie genoeg vir haar is nie. Is hy dan nie meer werd as tien seuns nie?
LEES OOK: Waar die liefde woon
Haar man se ander vrou dryf die spot met Hanna en verneder haar. Selfs die priester Eli dink sy is dronk toe sy by die tempel gaan hulp soek.
Ek wonder vandag of Hanna nie depressief was nie. Sy was bedruk, sy het gehuil en wou nie eet nie.
Maar te midde van dit alles, is daar baie wat ons by Hanna kan leer:
Waarheen gaan ek met my hartseer en pyn?
Hanna se leed dryf haar na God toe. Sy stort haar siel voor Hom uit. Sy is eerlik en opreg. Haar emosies is rou, sy huil onophoudelik. En sy bid só lank dat die priester Eli dink sy is dronk. Sy vertel God waarmee sy worstel en dat sy swaarkry. Sy is eerlik oor haar behoeftes en lê haar hart bloot.
Op wie moet ek vertrou?
Nadat Hanna met Eli gepraat en hy haar geseën het, het haar gemoedstoestand verander. Sy het op God vertrou, en sy het begin optree asof haar gebed reeds verhoor is. Sy het weer geëet en was nie meer bedruk nie. Sy het geweet dat sy daardie dag in die tempel ’n ontmoeting met God gehad het, en dit het haar lewe verander. Sy was nie meer dieselfde Hanna nie.
Aan wie behoort my kinders?
Hanna het haar seun vir God gegee. Letterlik so. Ek wonder dikwels hoe sy dit kon regkry, veral nadat sy so lank vir hom moes wag.
Hoe gee ’n mens jou enigste kind vir die kerk, boonop so jonk? Samuel sou dalk sy roeping gemis het as sy ma nie sterk genoeg was om haar gelofte gestand te doen nie.
Ons moet voortdurend vir ons kinders bid. Ons kinders behoort nie aan ons nie. Ons moet hulle binne God se wil grootmaak en voortdurend seker maak dat ons nie ons eie behoeftes op hulle projekteer nie.
Met wie moet ek praat?
Moenie alleen worstel nie. Kies iemand wat jy vertrou en vertel dié persoon wat alles op jou hart lê.
Vra iemand om saam met jou te bid.
Maak soos Hanna gemaak het. Eerlikheid is niks om oor skaam te wees nie. Moenie stilbly nie. Erken dat jy swaarkry, of dit nou kommer oor jou kinders is en of jy doodgewoon moeg is. Hanna het onmiddellik beter gevoel nadat sy haar seer met iemand anders gedeel het.
Hoe lank moet ek wag?
Wees bereid om te wag. Dis nie vir almal ewe maklik nie, ook nie vir my nie. Ek is ’n doener. Ek wil hê dinge moet bewéég, ek wil sien dat iets gebéúr.
LEES OOK: Die kruis – Jesus se skande
Ek is ten volle daarvan bewus dat die seisoene waartydens die grond voorberei word voordat daar geplant kan word uiters belangrik is – maar ek sukkel steeds met “wag” en wil dikwels jaag na “saai”. Die Here vermaan my gereeld om ’n bietjie rustiger te word. Om stil te word, te wag, te luister.
Aan wie kom die eer toe?
Ons lees in 1 Samuel 2 hoe Hanna die Here dank en aan Hom die eer gee. Sy sê dat sy sterk is in Hom. Hier lê die geheim van haar storie.
Mag ons altyd onthou aan wie die eer behoort in ons kinders se storie.
Liewe mamma, mag jy hierdie week inspirasie vind in Hanna se storie. Ek bid daagliks dat ek my seuns sal grootmaak soos dit God behaag. Nie my wil nie, maar sy wil moet geskied.
Uit die Woord
1 Samuel 1:1-28
- Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral sedert haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.