LiG Tydskrif

‘Die hartseer maak jou byna dood, maar ek moet nou vir twee leef en liefhê,’ sê vrou ná man se selfdood

Op Vrydag 4 Oktober 2019, ongeveer kwart voor agt daardie oggend, het ek my sielsgenoot Deon aan selfdood verloor.

Ons twee meisiekinders – Chloé, toe 20 en ’n tweedejaar BSc-student, en Kylie, toe 17 en in matriek – het die beste pappa verloor waarvoor enige meisie maar kon wens. Deon het die mooiste hart gehad, was saggeaard en wou altyd almal help. Sy broer het hom die “gentle giant” genoem.

LEES OOK: ‘Die lewe is nie maklik nie; kom ons help mekaar,’ sê vrou ná bejaarde pa se selfdood

Deon was my hoërskoolliefde. Ons het sewe jaar lank uitgegaan en was 27 jaar getroud.

Voor sy aanstelling by die universiteit het hy kliniese werk as ’n industriële sielkundige in die polisie verrig. Hy moes polisiemanne help wat trauma beleef het. Hy het in daardie tyd aan depressie begin ly en ongeveer drie jaar lank antidepressante gebruik.

Ongelukkig het ek dit nie destyds besef nie, maar ek het intussen geleer dat indien jy een keer met depressie gediagnoseer word, dit lewenslank gemonitor moet word.

Deon het die spreekwoordelike “perfekte storm” in 2019 beleef: Hy het in Februarie ’n mantelvliesbreuk-operasie ondergaan, en in Mei ’n knievervanging. In Juniemaand is sy mentor onverwags oorlede. Dié was vir Deon soos ’n tweede pa. En einde Julie het sy ma ’n rugoperasie ondergaan, waarna sy bedlêend was en nie meer kon praat nie.

Deon het met slapeloosheid gesukkel. Hy was ook in daardie stadium bekommerd oor ons finansies, al het ek hom daarvan probeer oortuig dat ons oukei sou wees aangesien een van my polisse sou uitkeer.

Hy het ’n hunkering na die Here gehad, en die Sondag voor sy dood het ons ’n oggenddiens op TV gekyk. Daardie aand is ons kerk toe; hy het gesê dit het gevoel asof die boodskap net vir hom bedoel is. Maar sy hartseer en kommer, en sy knie wat steeds gepyn het, én die wete dat sy ander knie ook aanstons vervang sou moes word, was vir hom net te veel.

In ’n oogwink is ons wêreld verpletter.

Hartseer het ’n krag waarvan jy nooit bewus is nie – totdat dit jou tref. Dit stroop jou kaal en dit laat jou alles bevraagteken. Die verlies aan ’n huweliksmaat tref diep: Jy verloor jouself, jou identiteit. Jy verloor ’n toekoms waaraan jy geglo het. Jy verloor die liefde van die mens wat jou geken het, die een wat jou verstaan het soos geen ander nie.

Ná jare se saam groei en saam gevorm word, moet jy eensklaps weer leer om asem te haal … op jou eentjie. Die hartseer maak jou byna dood, dit is pynlik, en jy sal enigiets doen om daarvan ontslae te raak.

Baie stadig, met die hulp van die Here, en met die wete dat jy vreugde móét vind, veral ter wille van jou kinders, word die hartseer ’n bietjie draagliker. In Julie 2021 het ek gevoel ons moet iets doen om ons groot seer in iets positiefs te omskep. Ek het Christia Uys op ’n Amerikaanse Facebookgroep genaamd “The Brave Ladies Club” ontmoet. Ek het haar genader om saam met my ’n staptog te reël vir ander mense wat ook dié hartseer dra, of vir dié wat reken dat selfdood ’n opsie is.

Christia was sommer uit die staanspoor baie opgewonde, en sy het haar vriendin Carla de Jager saamgebring. Carla het haar pappa ’n paar jaar gelede ná selfdood verloor.

’n Jaar ná ons drie se ontmoeting, op Saterdag 1 Oktober 2022, en ná baie gebede en met die Here se groot genade, het ons eerste YouMatterWalk plaasgevind. Nou sien ons uit na die tweede saamstap op 9 September by die Big Red Barn in Irene, Pretoria.

Vandag is my doel in die lewe om ons gesinnetjie na aan mekaar te hou, om ’n voorbeeld te stel en om vreugde te vind. En om eer te bring aan my man, wat ons grootste steunpilaar was. Deon het ’n beter nalatenskap verdien as wat hy homself gegee het, maar ek sal verseker dat hy een kry wat hy werklik verdien.

Hy het ons kinders aan my toevertrou. Ek moet dus nou vir twee leef en liefhê. Die Here is goed, en ek sal toekyk hoe Hy hierdie pragtige lewe voor ons laat ontvou. My motto is: Vind vreugde vandag! Vind dit in die kleinste dinge. Daardie klein vreugdes is die saad vir die groteres.

  • Ilse is die persoonlike assistent van ’n skoolhoof in Centurion.
  • YouMatterWalk gaan nie oor ons, die drie stigterslede, nie; dis wel uit ons onderskeie stories gebore. Ons kies om hoop te skep, al is ons hart steeds stukkend. Die doel is om ander mense te help, dié wat moet deurmaak wat ons deurmaak. Ons wil ook diegene help wat met selfdoodgedagtes stoei. Want dis in albei gevalle ’n baie eensame paadjie. Ons wil ook die stigma rakende selfdood help verwyder. Ons wil mense aanmoedig om gemakliker oor geestesgesondheid te praat, om dadelik hulp te soek.
  • Besoek http://youmatterwalk.co.za. Of soek “YouMatterWalk” op Facebook en You_matter_walk op Instagram.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.