Adéle Botha het gesien hoe ’n getraumatiseerde seuntjie eers met prentjies en toe met woorde weer geleer het om te praat. Daarom wy sy haar lewe daaraan om kinders met lees- en skryfvaardighede te help. Hiérvoor, sê sy, het God haar geroep.
’n Graad 1-seuntjie het weens verwaarlosing en trauma nie ’n woord gepraat toe hy in Adéle Botha se klaskamer beland nie.
Adéle sê sy was toe ’n jong onderwyseres, en sy het snags wakker gelê oor die trauma waaraan dié kind, en so baie van die kinders in haar klas, blootgestel is. Hulle het niemand gehad om mee te praat ten einde hierdie ervarings te probeer verwerk nie. Geld vir terapie was daar ook nie.
Sy wou graag help. Sy wou hulle bevry van die trauma wat hulle moes deurmaak. Sy wou nuwe drome help skep.
En sy het vasgestel dat lees en skryf kinders help om die woorde te vind vir dit wat in hul hart leef.
Die krag van woorde
Ongeveer 20 jaar gelede het Adéle by dr Sue Duncan, ’n Amerikaanse geletterdheidspesialis, ’n gebalanseerde geletterdheidsbenadering geleer en gevolg wat ook skryfwerksessies in die grondslagfase behels het. Adéle was toe ’n onderwyser by Tereo Sendingskool in die Strand. Sy het haar Grondslagfase-leerders op kreatiewe maniere geleer hoe om woorde vir hul gevoelens te vind deur eers prente te teken. En daarna woorde by die prentjies te voeg, totdat hulle later breedvoeriger daaroor kon skryf.
LEES OOK: ‘Ek is meer as wat mense sien’ – vrou maak haar hart oop oor moeilike pad met neurofibrome
Wat sy gesien het, het haar asem weggeslaan. Daardie stom graad 1-seuntjie het sy stem gevind. Aanvanklik het hy net prente geteken, maar ’n paar maande later het hy sy eerste woorde gesê.
Adéle werk vandag voltyds vir Write2BU, ’n NPO waarvan sy die stigterslid is wat kinders met skryfvaardighede help. Sy vertel graag wat sy gesien gebeur het met die kinders vir wie sy skoolgehou het, en wat vandag ’n blink nuwe toekoms vir hulleself bou. Dit is kinders wat uit ’n omgewing kom waar hulle aan armoede, trauma en geweld blootgestel is.
“Ek het al soveel wonderwerke beleef!”
‘Die Here voorsien altyd’
“Ek is daarvan oortuig dat ’n mens deur skryf baie kan regkry,” sê hierdie dinamiese vrou. Dit is waarom sy destyds eers Uyavula Leesprojek begin het, die voorloper van Write2BU. Uyavula is geregistreer by Helderberg Uitreik NPO wat onder die NG Helderberg en Omgee Gemeente val. Hulle fokus is daarop om kinders aan die wonderwêreld van boeke bekend te stel deur vir hulle stories te lees.
Adéle was ook betrokke by die Project Literacy (ABET), vir volwassenes wat matriek voltooi het.
Daar was nie altyd geld vir alles wat sy wou doen nie, maar sy het geleer om geduldig te wag. “Die Here voorsien altyd – al is ‘wag’ nie iets waarmee ek goed is nie!”
Adéle onthou ook dat haar pa aanvanklik nie te gelukkig was oor die plekke waar sy dogter gekies het om te werk nie. Maar sy het geglo dit is haar roeping om aan hierdie kinders liefde te gee. En hoop.
Sy was daarvan oortuig dat dit die plek is waar God haar geroep het om te wees. Een van haar geliefde tekste is Jesaja 43:1-3 wat só begin: “‘Maar nou,’ so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, ‘moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep.’”
Jare later het haar pa, net voor sy dood, in ’n brief aan haar geskryf hy reken sy moet die werk doen waaroor sy passievol is. “Dis wonderlik hoe die Here in sy hart gewerk het,” sê Adéle.
Sy het nooit getrou nie. Die skoolkinders oor wie sy haar ontferm, is haar kinders. Baie van hulle hou steeds kontak met haar.
Sy is maar te bewus van hoe swaar onderwysers kry wat in staatskole werk. “Ek weet hoe dit voel om met 45 kinders in die klas en weinig hulpbronne oor die weg te moet kom. Maar ek het ook gesien hoe die krag van woorde kinders vry maak om vir hulle ’n nuwe beter toekoms te verbeel.”
Ahisha Samson se storie
Ahisha Samson was destyds een van Adéle se Grondslagfase-leerdertjies. Sy is tans die borrelende ma van ’n eie dogtertjie vir wie sy ywerig stories voorlees en rympies en liedjies leer.
Adéle is vir haar soos ’n tweede ma, vertel sy. “Sy is ’n engel wat die Here op my pad geplaas het. Sy het my geleer om my gevoelens in woorde om te sit. Sy het my laat glo ek het skryftalent.”

Heel onlangs het Ahisha ’n digbundel uitgegee. Sy is ook ’n ambassadeur vir Write2BU. Hier vertel sy die kinders, wat, soos sy, uit moeilike omstandighede kom, dat hul woorde saak maak. Hulle storie tel.
In ’n land waar gereken word dat meer as 80% laerskoolleerders nie met begrip kan lees nie, herinner Adéle en Ahisha se storie jou aan die praktiese wyse waarop gewone mense dié haglike situasie kan help omkeer. Adéle sê: “Ek glo God gebruik ons storie om ander te bemoedig. Ek glo dat niks in ons lewe sommer net ‘gebeur’ nie. Daar is ’n groter plan daaragter. Ek het deur die jare talle geleenthede (en mense!) gehad wat my drome help verwesenlik het. En ek wil dieselfde vir ander doen.”
In haar bundel, So deur die lewe, sê Ahisha in een van haar gedigte wat skryf vir haar beteken.
Dagboek van ’n insecure dame
Ek hoop ek verloor nooit my stem,
die vermoë om te kan skryf,
die vermoë om op te staan vir myself
en die vermoë om myself uit te druk op papier.
Woorde was nog altyd vir my ’n toevlug,
’n vel papier was nog altyd ’n goeie luisteraar,
die pen soms my beste maat.
Mag my woorde my nooit verlaat.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















