Chantell Hewitt van Bloemfontein se lewe was nog altyd vol uitdagings. Haar een oog, wat tot gevolg het dat mense gereeld na haar staar, is eintlik die minste van haar mediese probleme. Sy het boonop die grootste gedeelte van haar lewe gevoel dat sy nie goed genoeg is nie. Deur God se krag het sy haarself uiteindelik aanvaar. Maar dit het nie beteken dat sy sonder seerkry of vrese is nie.
Chantell Hewitt (41) is in Bloemfontein gebore en het daar grootgeword. Vir baie mense wat haar vandag ontmoet, is dit haar oog wat eerste hul aandag trek. Sommiges is gou om allerlei aannames te maak, maar die werklikheid lê baie dieper en is veel meer kompleks.
Chantell leef met ’n genetiese toestand, neurofibrimatose, wat tot gevolg het dat verskeie gewasse in en teen haar brein ontwikkel het. Een van dié gewasse is aan haar hoofslagaar gekoppel, terwyl ’n ander teen ’n oogbank druk. Die neurofibrome het, soos sy dit self beskryf, “in elke gaatjie en gangetjie van my skedel ingekruip”.
Daarby het sy ook verskeie siste en follikels aan haar liggaam, sowel as skoliose in haar rug. Al dié toestande hou nie direkte verband met mekaar nie, maar saam vorm dit haar daaglikse werklikheid.
“Baie mense dink my oog is die probleem,” sê Chantell, “maar my uitdagings is soveel meer as dit.”
Desperaat, en ’n dure les
Een van die grootste keerpunte in Chantell se lewe, en tegelyk ook een van haar grootste teleurstellings, het in 2000 afgespeel toe ’n pastoor, wat nie aan die familie bekend was nie, hulle genader het. Volgens hom het die Here dit op sy hart gelê om Chantell Nigerië toe te neem sodat die “profeet” TB Joshua vir haar kon bid.
In daardie tyd het die media baie aandag gegee aan sogenaamde wonderwerke in daardie geweste. Die familie het ernstig gebid oor die pastoor se voorstel. Hulle was vol hoop, eintlik ook desperaat. Binne ’n dag is genoeg geld ingesamel om alles, selfs ’n gedeelte van die pastoor se vliegkaartjie, te kon betaal.
Maar twee weke voor hulle sou vertrek, het ’n telefoonoproep alles verander: Daar is aan hulle vertel dat TB Joshua nie gelei is om vir Chantell te bid nie.
“Dit was ’n dure les,” sê Chantell vandag. “Ons het uit onkunde en desperaatheid ons geloof in mense geplaas.” Boonop is Chantell se ouma, met wie sy ’n baie noue verhouding gehad het, oorlede op die dag wat hulle sou vertrek.
Talle teleurstellings
In Chantell se skooljare het prestasies en applous ontbreek. Sy was nooit ’n uitblinker nie, op geen gebied nie. Selfs met dit waarvoor sy ’n groot passie gehad het, het sy dikwels gevoel sy skiet tekort. Sy het reeds op drie begin om moderne dans en klopdans te beoefen, en later ook hip-hop. Maar ongeag hoe getrou sy geoefen het, haar mede-dansers het telkens beter as sy gevaar.

Sy vertel: “Dit het gevoel asof ek altyd harder moes werk as ander, en dan vir minder erkenning as hulle.”
Een van die seerste oomblikke was toe sy, ten spyte van haar dansagtergrond en ’n suksesvolle eksamen, nie die skool se revuegroep gehaal het nie. Daar was ook die kere toe haar voorkoms, so reken sy, teen haar getel het.
“Dit alles het nie slegs teleurstelling meegebring nie; dit het my ook laat glo ek is net nie goed genoeg nie, vir niks nie.”
Uiteindelik: selfaanvaarding
Te midde van al die seer en swaar was daar een deurlopende positiewe faktor in Chantell se lewe – haar ouers. Sy is daarvan oortuig dat God, toe Hy hierdie “moeilike pakkie” aan haar uitgedeel het, presies geweet het wie die ouers is wat sy sou nodig hê.
Hulle het haar biddend grootgemaak en haar van jongs af geleer dat sy nie haar omstandighede kan verander nie, maar wel die wyse waarop sy reageer. “Ek is geleer dat ek nie ’n slagoffer van my omstandighede hoef te wees nie, dat ek kan kies hoe ek leef, al is dit nie maklik nie.”
Haar matriekjaar het vir ’n klompie hoogtepunte gesorg. Sy was ’n lid van die leerlingraad en ook voorsitter van die skool se VCSV. Dit was juis tydens ’n VCSV-leierskamp dat iets diep in haar verander het. Sy vertel dat daar ’n oomblik van stil gebed was waar sy intens gehuil en met God geworstel het. Later is die groep genooi om onder ’n stort deur te loop, as simbool van die reiniging van die verlede. “Daardie naweek het ek myself onvoorwaardelik aanvaar. Nie omdat my lewe verander het nie, maar omdat ek verander het.”
Maar selfaanvaarding het nie beteken dat seerkry en vrees eensklaps verdwyn het nie. Sy word steeds deur gesondheidsuitdagings gekonfronteer, en sy weet dat operasies deel van haar lewe sal bly. “Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet Wie dit vashou.”
In 2015 het sy ’n ernstige ooginfeksie ontwikkel, so erg dat bloed uit haar oog begin loop het. Die dokter het haar gewaarsku dat ’n operasie bitter gevaarlik sou wees.
Later, alleen in haar motor, toe sy sonder woorde of gebede was, het Joe Niemand se lied “Ek sal nie bang wees nie” begin speel, presies op die oomblik toe sy dit nodig gehad het. En Jesaja 41:10, ’n Skrifgedeelte wat haar al dikwels gedra het, het weer by haar opgekom.
‘Wie jy werklik is’
In 2019 moes Chantell ’n lewensgevaarlike operasie ondergaan. Vir die eerste keer het sy werklik besef wat haar ouers die eerste tien jaar van haar lewe moes deurmaak. Sy was baie bang. ’n Predikant het voorgestel dat sy vir ’n teken bid, vir iets so onwaarskynlik soos ’n pienk blom wat uit die niet verskyn. Sy het gedink dis onrealisties en het nie veel aandag daaraan gegee nie. “Maar God het my weer gewys niks is onmoontlik nie,” sê sy. Want daardie Juniemaand het ’n pienk blom sy verskyning op hul voorstoep gemaak.
Vandag is Chantell die trotse eienaar van haar eie dansskool, die Chantell Hewitt Academy of Dance (C.H.A.D). Sy werk met kinders so jonk soos 17 maande, en sy gebruik die lewenslesse wat sy geleer het om ander te inspireer. Sy leer hulle onder meer: “Moenie, soos ek, 18 jaar lank wag om te besef jy is jou eie grootste struikelblok as jy toelaat dat jou omstandighede jou definieer nie.”
Sy lewer gereeld motiveringspraatjies en leef met die oortuiging dat geloof nie beteken daar sal nooit weer swaarkry wees nie. “Maar,” sê sy, “jy is meer as die beeld wat jy in die spieël sien. Jou omstandighede is net tydelik, maar wie jy werklik is, dra jy vir altyd met jou saam.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















