Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die lewe in God se koninkryk, en ons keuses

Dis Maandagoggend en ek sit met my oop dagboek voor my en beplan vir die week wat voorlê. Ek kyk na al die lysies en al die afsprake – ’n afsluitingsfunksie hier, ’n skoolkonsert daar, sport vir die kinders, verjaardagpartytjies …

Ek sug. Ja, die jaar vermeerder spoed wanneer ons die laaste kwartaal betree. Oktober, daardie moeë maand tussen lente en Kersfees, is soos ’n warrelwind by ons verby.

Kersfees is nog ver, maar alles moet nóú gebeur.

Perspektiewe en prioriteite

Dis maklik om perspektief te verloor. Dis maklik om in dié tyd te vergeet wat regtig saak maak. Ek dink dikwels aan Jesus se woorde in Matteus 6: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (vers 33-34).

LEES OOK: Dalk is vandag die dag om die lang ry te verlaat

Om só te leef is nie eenvoudig nie, veral nie in ’n wêreld wat jou deurlopend herinner aan wat jy nog moet doen, moet koop, moet beplan, moet afhandel nie. En voor ons ons kom kry, het ons onsself vasgedraai.

Maar luister gerus weer na Jesus se woorde. Dis eintlik ’n belofte: As julle jul prioriteite agtermekaar het, sal die res volg. Al die dinge waaroor jy jou so bekommer, alles op jou lysie, alles wat jou wakker hou, sal op die regte tyd, God se tyd, na jou toe kom.

Keuses en opofferings

Toe Jesus destyds in die woestyn versoek is, het Hy ’n keuse gehad: die wêreld as sy koninkryk, of God se koninkryk. Jesus het geweet daar is nie ’n kompromie moontlik nie; dit is óf die een óf die ander. Jy kan nie al twee hê nie. Jy kan nie tegelyk op twee plekke woon en leef nie. En Hy het reg gekies.

Tog probeer doen ons so dikwels presies dit wat ons weet nie kan werk nie. Ons wil die wêreld as koninkryk hê, met al sy sekuriteit, al sy roem en ritme … en dan God se koninkryk iewers tussenin inpas. Soos ’n bykomende afspraak op ons kalender.

Ek dink aan mense wat asiel soek in ’n vreemde land en dan op ’n vliegtuig klim. Hulle gee hul land van herkoms prys en daag in die nuwe land op, vol hoop op ’n beter lewe.

Dis altyd ’n hartseerstorie. Wat die rede vir hul vertrek ook al is, hulle moet hul ou lewe agterlaat, baie van hul geliefdes, hul kultuur, hul gewoontes. Al wat saam met hulle gaan, is hul herinneringe. Maar hulle weet dat al die opofferings en prysgawes die enigste manier is om ’n nuwe lewe te kan bou.

Só werk dinge in sy koninkryk

God se koninkryk is ’n plek waar ek my angs en kommer kan agterlaat. Waar ek nie hoef te veg vir elke item op my lysie nie, maar kan vertrou dat “al die ander dinge” tot my lewe toegevoeg sal word. Dis ’n plek waar ek na God se dinge omsien, en Hy na myne.

Maar dit alles vra ’n keuse. ’n Daaglikse oorgawe.

Dink jy dat jy vandag, hier aan die einde van (nog) ’n gejaagde week, op daardie vliegtuig kan klim? Kan jy dit regkry om een afspraak te kanselleer? Kan jy ’n stille uur in jou dagboek opsysit? Kan jy vir eers die telefoon in jou laai toesluit?

Dalk sal jy dit dan regkry om te onthou wie die Koning is wat jy dien, en hoe dinge in sy koninkryk werk.

En dalk sal jy finaal besef dat jy nie tegelyk op twee plekke kan woon nie. Dat jy inderdaad kan kies om jou huis in te rig op die plek waar vrede heers.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►