Ek het onlangs alleen gevlieg en is alleen lughawe toe. Ek reis nie dikwels sonder geselskap nie, en die stilte op dié reis het my die geleentheid gegee om die mense om my dop te hou. Dit was net ek en ’n see gesigte, en my kop vol gedagtes …
’n Lughawe is ’n plek vol beweging. Dis vol mense, en die meeste staan in die een of ander ry. Jy moet noodwendig by ’n ry inval, en jy doen dit sonder om te veel daaroor te dink.
Nou volg jy die vloei: Jy loop vorentoe wanneer almal dit doen. Jy kom tot stilstand wanneer almal dit doen. Dis maklik. Jy hoef nie daaroor te dink nie.
Maar sê nou net …
Later neem ek my sitplek in die vliegtuig in, vroetel met die gordel se gespe toe die lugwaardin daaroor praat, en ek dink: Só lyk ons lewe. Ons volg die stroom, willens en wetens. Ons doen wat die kennisgewings ons aansê om te doen. Alles gebeur onwillekeurig, sonder weerstand. Want ons hoef nie oor ons optrede te dink nie.
LEES OOK: Stemme in die media: Getuig dit van Jesus se warmte?
Maar sê nou net ons bevind ons op ’n dwaalspoor? Sê nou net ons kom nie uit waar ons veronderstel is om uit te kom nie?
Sê nou net ons besef – te laat! – dis nie wat ons Vader vir ons in gedagte gehad het nie?
Kom ons ondersoek dan, voordat dit te laat is, waartoe Hy ons geroep het. Kom ons luister opnuut na Jesus se stem wanneer Hy ons roep: “Volg My!”
Ons kom baie gou agter dat ons nie geroep is om iemand of iets anders te volg as Hy nie. En dit beteken dat ons dikwels stroomop moet beweeg. Téén die koers in wat ons so maklik-maklik volg.
Dit vra keuses, die regte besluite. Dit vereis ’n doelbewuste leefwyse. En dis nooit maklik nie. Ons begin dalk ywerig en flink … en verloor dan ons entoesiasme wanneer die eise te veel word.
Luister dan na 1 Petrus 2:9 se troos: “Julle, egter, is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort, sodat julle die deugde kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Maak dit jou bang?
God roep ons uit die duisternis na sy lig. En hier, op hierdie moeilike, smal pad, is Hy die lig wat ons lei. Al stap ons alleen, is Hy daar om ons die weg te wys. Wanneer Hy roep “volg My”, belowe Hy om saam te stap. Tot by die eindbestemming wat Hy vir ons gereed gemaak het.
Die smal pad laat nie altyd toe dat ons twee-twee langs mekaar stap nie. Soms pas ander nie in nie. Ja, die smal pad is dikwels ’n stil pad, en soms ’n bitter eensame pad. Maar as jy jou daarop begewe, is jy nooit alleen nie, want Christus stap saam met jou. Hy dui die koers aan. Sy woord is die lig op ons pad.
Miskien is vandag die dag wat jy uit die ry uit moet beweeg, die dag wat jy ophou om die stroom te volg. Kan dit wees dat God jou vandag roep om die hoofstroom te verlaat en sy pad vir jou te volg?
En maak dit jou bang?
Luister wat moes die profeet destyds as jong man uit die Here se mond aanhoor: “Nog voordat Ek jou gevorm het in die moederskoot, het Ek jou geken; nog voordat jy gebore is, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem” (Jer 1:5).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















