Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die Oos-Kaapse boksbiblioteek groei deur God se genade

In die verre Oos-Kaapse platteland is daar ’n paar mense wat ’n liefdesdiens verrig: Hulle behartig ’n projek wat klein en beskeie tussen arm mense begin is, en wat deesdae saam met die kindertjies blom wat die voordele daarvan geniet.

Nienkie Grobler doen een ding reeds sewe jaar lank: Sy deel haar liefde vir boeke en stories met voorskoolse kinders in ’n verafgeleë gedeelte van die Oos-Kaapse platteland.

“Die kinders het dit so nodig …” vertel hierdie sestigplusser. Die afgelope klompie jare ry haar 23-jarige dogter Anke saam as haar ma die pad vat met hul VW Caddy. Nienkie het nog ’n kollega, Ntombomzi Monica Kanzi, wat op die dorpie Khowa die skooltjies bedien.

Nienkie het jare se onderwyservaring in vroeëkinderontwikkeling (VKO). Anke het enkele jare gelede haar VKO-opleiding voltooi. Saam-saam hou dié twee ’n projek aan die  gang wat ’n predikant so tien jaar gelede met ses boeke in ’n leë bierkrat op Cala begin het, ’n dorpie waar vele sendelinge se voetspore lê.

Dié liefdesdiens word onder die vaandel van die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling verrig. Ds Melanie Thirion, wat deel vorm van hierdie vennootskapinisiatief van Badisa en Diaconia van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk, noem dit “ons Oos-Kaapse biblioteekboks-projek”.  

Little Seeds bestempel hierdie projek in hul 2023-verslag as een van hul suksesstories. Dit word só gestel “The latest statistics from Cala and Elliot coordinator (Nienkie Grobler) is cause for celebration. Currently 92 daycare centers are part of our program, with approximately 2 000 children benefiting from the power of storytelling.”

Bogenoemde behels weeklikse besoeke aan dagsorgskole in hierdie omgewing, en die ondersteuning en die toerus van dié skole. En, natuurlik, die afgee van boeke vir die kinders in een van die armste dele in ons land.

Die personeel by die dagsorgskooltjies is vol lof vir die projek. “Dit help ons báie,” sê hulle vir my nadat ek in Maart vanjaar ook in die, soos dit daar genoem word, “taxi library” geklim het.

Nolubabalo Zathu sê sy hou die meeste van die Bybelstories. “I strongly believe that this is a good thing for them to get to know Jesus this early in their lives. It is good for them to know that there is a Jesus Christ who can save us.”

LEES OOK: Van sekuriteitsbeampte tot onderwyser: ‘Soos ’n ossewatrek oor die berge, in volkome afhanklikheid van God’

Nolufefe Mababa sê: “I like this project so much. It protects the kids from child abuse and teaches them new skills.”

Die eerste biblioteek-boks

Alles het begin met iemand wat gevra het: “Wat kan ek doen?”

Dié woorde was ds Derick Myburg s’n, wat 33 jaar lank die VGK-predikant by drie gemeentes in die Oos-Kaap was. Hy het in die Cala-gemeente se pastorie gebly. Ek het hom besoek voor ek Oos-Kaap toe vertrek het en hom oor sy baanbrekerswerk uitgevra.

“Kinders wat in boeke belangstel, stel belang om meer te lees en te leer,” het hy gesê. “En ek het besef dié kindertjies het glad nie boeke nie. Dit het my aan die dink gesit.

“Ek het met ses boekies in ’n bierkrat begin, en 20 skooltjies daarmee bedien.”

Hy sê wat hom betref is dit die uitleef van liefde teenoor die naaste. “En ek wens elke gemeente wil op so ’n manier uitreik.”

In 2019 het Nienkie saam met hom in sy ou wit Nissanbakkie begin rondry. Sy en haar gesin is lidmate by die NG Gemeente Elliot op Cala se buurdorp, Khowa. Ná ds Myburg se aftrede in 2024 gaan sy voort met die werk.

Die sigbare armoede

Vir baie skoolkinders is die middagete wat hulle by die skool kry die enigste ordentlike ete vir die dag. Die meeste kinders woon by familielede wat van maatskaplike toelaes leef, en dalk ’n geldjie wat die kinders se ouers uit die stede stuur of bring.

Hier plant mense mielies en hou bokke, skape en beeste aan. Daar is slegs huiswinkels in die gemeenskappies. ’n Enkele Usave-winkel in die omgewing het sy deure gesluit. En hier is beslis nie biblioteke nie.

Uiteraard kry die meeste skooltjies bitter swaar. Hulle het nie elektrisiteit nie, en ’n hele gemeenskap word dikwels deur slegs een kraan bedien. Almal gebruik puttoilette.  

Jy ken sommige skole slegs uit aan die ry kleurvolle plastiek-“potties” in die gras. Die kindertjies is nog te klein om ’n puttoilet te gebruik …

Gelukkig het een ding meer geword: die kratte vol boeke. Daar het boeke uit gemeentes by Nienkie-hulle aangekom, en hulle kry ook boeke deur borge en by uitverkopings.

Deesdae bestaan die “boksbiblioteek” uit 100 plastiekkratte, elk met 20 boeke. Elke skool kry drie sulke kratte op ’n keer, wat ná ongeveer drie maande omgeruil word.

By elke krat is ’n lys met al die boeke wat binne-in is. Dit sluit in: ’n kleurvolle boek met Kinderbybelverhale, storieboeke (Engels en isiXhosa) en boeke oor die natuur. Daar is ook ’n boekie met illustrasies oor hoe om na die boeke om te sien en dit op die regte manier te versorg.

Nienkie vertel dat sy by ds Myburg geleer het om nie Kersvader te wil wees wat poog om aan elke behoefte by die skooltjies te voorsien nie. “Ons probeer wel help waar ons kan. Ons is die skole se vriende.”

Die lekkertes

Ek het een hele dag by Nienkie en Anke deurgebring. Ek het gesien hoe Anke die administrasie hanteer – boekkratte omruil en inhoud nagaan. Nienkie het die kleintjies met ’n sagte nqo-nqo gegroet, en toe ’n prenteboek gegryp en op die vloer gaan sit om vir hulle daaruit voor te lees.

Later vra ek: “Wat is so lekker aan wat julle doen?”

Nienkie sê sy is mal oor boeke en sy is baie lief vir kinders. En dis vir haar lekker om in die natuur te wees.

Nadat sy ’n rukkie gedink het, voeg sy by: “Dis vir my goed en lekker. Dis nie ’n werk wat my ‘druk’ nie. Dis net God se genade. Dis Hy wat my hier help. “Dis nie Nienkie nie, dis God.”

*Little Seeds behartig ook vroeëkinderontwikkelingprogramme in die Noord- en Wes-Kaap. Kontak Erica Hougaard as jy meer wil uitvind by ‎erika@littleseeds.org.za. Nienkie Grobler kan by 061 502 8478 bereik word.

Bybel-Media se Kinderkerskous

Bybel-Media se Kinderkerskous-projek wil die reusetekort aan prenteboeke vir kinders help regstel. Een manier is om projekte soos Little Seeds te ondersteun, en daarom is die boek Die klip in Lisa se borskas een van dié wat die Groblers met hul boekprojek versprei. Dié kleurvolle boekie, geskryf deur die predikant en spelterapeut dr Siegfried Louw, wil kinders help om deur die swaar gevoel van verlies te werk wanneer ’n geliefde sterf.

*Die klip in Lisa se borskas vorm deel van ’n reeks boekies wat almal deur Siegfried Louw geskryf is. Elkeen hanteer ’n aktuele tema. Sofia en die grot: Kyk in die oë van die mense vir wie jy lief is handel oor alleenwees; Ben en die drakie: Hoe om jou drakie mak te maak oor angstig wees; Kolle en die gif: Die liefde is sterker as bangwees oor vrees.

– Al dié boeke is ook in Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar en almal kan by Bybel-Media se aanlyn boekwinkel bestel word. Klik hier om meer uit te vind oor hoe jy die Kinderkerskous kan help.

*In vennootskap met die Nal’ibali Trust onderneem die nasionale biblioteekdiens elke paar jaar ’n opname van leesgedrag in Suid-Afrika. Die bevindinge van die jongste een is in 2023 gepubliseer, en het uitgewys dat slegs 35% Suid-Afrikaanse huishoudings waar kinders teenwoordig is ’n kinderboek besit. Minder as 10% het meer as tien boeke.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►