Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die Spreuke 31-vrou: ‘n Verskeidenheid van eienskappe in elkeen van ons

Spreuke 31-vrou

Die Spreuke 31-vrou is nie ‘n enkele historiese persoon nie, maar eerder ‘n samestelling van eienskappe wat gesonde, Godvresende vrouwees beskryf. Kyk ‘n slag nuut na hierdie gedeelte – dit stel nie aan ons die perfekte standaard nie. Maar bied eerder inspirasie uit dít wat vir God belangrik is.

Die Spreuke 31-vrou is nie een enkele vrou nie

Die gedeelte in Spreuke 31 is geskryf as ‘n akrostiese gedig – elke vers begin met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet. Dit is poësie, nie ‘n biografiese beskrywing nie. Dit is nie bedoel om ‘n werklike vrou se dagboek te wees nie, maar eerder ‘n loflied aan die verskeidenheid van eienskappe wat ‘n wyse, eerbare vrou kan besit. Geen enkele vrou leef elke aspek van hierdie teks elke dag ten volle uit nie. Dit is ook nie die Spreukedigter se doel daarmee nie.

Dit wys ons eerder watter waardes God as belangrik ag: integriteit, vrees vir die Here, wysheid, ywer, omgee vir ander en die vermoë om met visie te leef. Hierdie teks is nie ‘n aftiklysie van dinge wat ‘n vrou behoort te wees nie. Maar eerder ‘n inspirasie om op jou unieke manier vrou te wees, in die unieke seisoen waarin jy jouself bevind.

Die Spreuke 31-vrou is betroubaar en verantwoordelik

Vers 11 sê: “Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.” Hierdie vrou is nie manipulerend of onbetroubaar nie; sy leef só dat ander op haar kan staatmaak. Dit beteken nie dat jy getroud hoef te wees om waardevol te wees nie, maar dit onderstreep ‘n beginsel van betroubaarheid – of dit nou in ‘n huwelik, vriendskap, of werksomgewing is.

Dit is ‘n kragtige getuienis wanneer ‘n vrou haar beloftes nakom, haar pligte getrou uitvoer, en ‘n lewe van eerlikheid en egtheid leef.

Sy is hardwerkend, maar ook wys met haar tyd

Die vrou in Spreuke 31 is baie besig: sy weef, sy kook, sy beplan, sy doen besigheid, en sy sorg vir haar gesin en die armes. Maar haar ywer is nie doelloos nie. Sy werk met insig, nie uit pligsgevoel alleen nie. Sy weet wat belangrik is, en sy prioritiseer dit.

Vroue voel dikwels uitgebrand en oorlaai. Maar dit is belangrik om te onthou dat ware ywer beteken om te werk aan wat God vir jóú gegee het – nie om alles vir almal te wees nie. ’n Spreuke 31-vrou werk hard, maar binne die grense van haar eie vermoë en omstandighede.

Haar krag lê in haar vrees vir die Here

Spreuke 31:30 sê: “Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ‘n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word.” Hierdie vers is die sleutel tot die hele gedeelte. Al die ander eienskappe is gebou op hierdie een fondament: vrees vir die Here. ‘n Respek vir sy Naam, eerbied vir sy Woord, en vertroue in God se koningskap en voorsiening.

Dit beteken dat ‘n gelowige vrou haar identiteit nie vind in haar voorkoms, prestasies of goedkeuring van ander nie, maar in haar verhouding met God. God se krag gee aan haar stabiliteit en wysheid, selfs wanneer die lewe moeilik raak.

Sy leef met ‘n oop hand

Een van die opvallendste eienskappe van die Spreuke 31-vrou is haar vrygewigheid. Vers 20 sê: “Sy het ‘n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.” Sy leef nie net vir haarself of haar naaste kring nie – sy het ook ‘n hart vir die breër gemeenskap.

Vroue wat met ‘n oop hand leef , en wat hul tyd, hulp, wysheid, geld of aandag gee, wys iets van God se karakter aan die wêreld. Hierdie soort vrygewigheid vloei nie noodwendig uit oorvloed nie, maar uit vertroue dat God sal voorsien, en dat wat sy het, vir ‘n groter doel gebruik kan word.

Sy lewe in vertroue op God

‘n Spreuke 31-vrou is nie angstig oor die toekoms nie. Sy het ‘n rustige vertroue in God en kan selfs die onbekende met vreugde in die gesig staar.

Vandag is daar baie redes om angstig oor die toekoms te wees, maar wanneer ‘n vrou haar hoop op die Here plaas, kan sy met vrede leef. Sy kan beplan, droom en met afwagting leef sonder om verlam te wees deur bekommernis. Want haar anker is God en sy Woord.

Haar lewe spreek van haar liefde vir God

Vers 26 sê: “As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.”

Elke vrou het ‘n stem – of sy dit gebruik in die huis, tussen vriendinne, in die raadsaal of langs die sportveld. Wanneer daardie stem opklink in wysheid en liefde, bring dit lewe. Die wêreld het vroue nodig wat die waarheid in liefde spreek.

Die Spreuke 31-vrou is nie die ideaal van ‘n onbereikbare superheld nie. Sy is ‘n inspirasie vir wat moontlik is wanneer ‘n vrou in oorgawe aan God leef. Die gedeelte wys vir ons ‘n samestelling van eienskappe wat oor tyd groei, en in God se liefde gedy. Dit roep ons nie op om perfek te wees nie, maar om doelbewus te leef, met wysheid, genade, ywer en geloof.

Elke gelowige vrou kan haar eie unieke pad van Spreuke 31-vrouwees loop. Nie deur nabootsing nie, maar deur die Gees van God wat in haar werk om haar te vorm volgens sy wil.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►