Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die stem in die stilte

My oudste is die afgelope tyd vol vrae oor God: Waar bly God? Hoe lyk sy huis? Hoe klink Hy? Kan ons by Hom gaan kuier?

Al sy vrae is baie konkreet. Dis egter moeilik om ’n vyfjarige te help verstaan dat God alomteenwoordig is. Dat een van sy verstommende eienskappe dié is dat Hy intiem betrokke is by die kleinste dinge in ons lewe. Hy sit nie bloot op ’n troon in die hemel nie; Hy is oral om ons. En ons hoef nie vir Hom te gaan kuier nie; as ons bloot ons oë oophou en ons ore spits, sal ons Hom oral kan hoor en sien, waar ons ons ook al bevind. 

Die probleem, selfs vir volwassenes, is dat ons dit dikwels vergeet. Dat ons God in groot wonderwerke gaan soek. Maar Hy is nie ’n bombastiese God nie; Hy praat sag en Hy werk saggies met ons.

Elia was ’n profeet, ’n man van God. Dit was sy werk om na God se stem te luister en dan alles wat Hy hoor aan God se kinders oor te dra. Ons lees dat Hy werklik suksesvol daarmee was. Hy kon God se stem goed hoor en sy boodskap treffend oordra.

LEES OOK: Die najaag van jou lewensdoel verryk ander mense se lewe

Daarom gryp dit my so aan dat God met hom gaan praat het toe dié profeet in ’n grot weggekruip het. Eensklaps was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het. Maar die Here was nie in die wind nie. Ná die wind was daar ’n aardbewing. Maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Ná die aardbewing was daar ’n vuur. Maar die Here was nie in die vuur nie.

En ná die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte. “Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan” (1 Kon 19:13). 

Volgens die 1953-vertaling was daar ’n gesuis soos dié van ’n sagte koelte, amper soos ’n koel briesie. En Elia het oplaas iets van God se sagtheid begryp. Uit respek vir God se heerlikheid het die profeet sy gesig met sy mantel bedek en God tegemoet gegaan. Nou het hy verstaan dat God nie slegs in die buitengewone gesoek moet word nie, nie net in die skouspel van die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie, maar in die fluistering van die windstilte. 

Ons kan heelwat hieruit leer. Ons weet reeds God is kragtig en almagtig – maar Hy is nie net sigbaar en hoorbaar in die tekens van sy mag en krag nie. Hy ontmoet ons ook in die intimiteit van stilte.

Elia het heelwat skouspelagtige wonderwerke beleef. Nou het hy geleer dat God nie net daar te sien en te hoor is nie. Hy het geleer om mooi te kyk en fyn te luister. Om die stem van God se fluisterende Gees te onderskei van al die ander stemme wat hulle aan hom opgedring het.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.