My kinders was die afgelope naweek by ’n kinderpartytjie, waar elkeen ’n plastiekswaard as geskenk gekry het. Sondagoggend voor kerk sit een van my seuntjies op my bed en speel met sy swaard.
Hy bekyk die speelgoedwapen vanuit elke hoek, en dan laat vlieg hy dit kamma deur die lug asof dit ’n vliegtuig is. Eensklaps vra hy: “Mamma, hy het vlerke soos ’n vliegtuig, hoekom kan hy dan nie vlieg nie?”
Ek probeer hom antwoord: “Want dis nie ’n vliegtuig nie, dis ’n swaard. ’n Vliegtuig is gemaak om te vlieg, ’n swaard is gemaak om mee te veg. Jy onthou tog Dawid en Goliat se storie …?”
LEES OOK: Wees ‘n stem vol hoop en moed
Ek vertel hom dat ook hy deur God vir ’n sekere doel gemaak is. Ons almal is geskape om ons eie, unieke doel te verwesenlik. Dis waarom ons so baie van mekaar verskil. Elkeen word met eie talente en gawes gebore, en wanneer ons dit doen waarvoor ons geskape is, vul dit ons hart met vreugde.
Hy lyk tevrede met die antwoord. Dan spring hy van die bed af en gaan roep sy boetie: “Kom ons fight!”
Op dié manier stel hy toe vas dat die swaard inderdaad die beste werk as dit gebruik word om mee te veg.
Ons is met ’n doel geskape
God het ons in die moederskoot aanmekaargeweef. Daar is niks toevalligs aan sy werkwyse nie. My twee seuntjies, byvoorbeeld, is in presies dieselfde moederskoot gevorm, hulle deel dieselfde genetika en word in dieselfde huis groot – maar hulle verskil soos dag en nag van mekaar.
Al is ons almal na God se beeld en as sy verteenwoordigers geskape (Gen 1:26), verskil ons steeds baie van mekaar. Al is ons geskape om God te behaag en te verheerlik, het elkeen ’n bepaalde funksie.
Hoor hoe omskryf Paulus dit: “Daar is ’n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Want soos die liggaam ’n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus” (1 Kor 12:4-7, 12).
Dis ’n heilige opdrag
James Russel Lowell het gesê: “Geen mens word in hierdie wêreld gebore wie se werk nie saam met hom gebore word nie.” Toe ons gevorm is, het God reeds hierdie werk in sy gedagtes gehad. As ons bely dat God liefde is en dat dit ons opdrag is om ander lief te hê, kan ons daardie liefde die beste uitleef deur te doen waarvoor ons geskape is. Jakobus het immers gesê: “Geloof wat nie tot dade oorgaan nie is sonder meer dood” (Jak 2:17).
Dis my oortuiging dat ons lewensdoel nie enkelvoudig is nie; die doel waarvoor jy geskape is, kan verander namate jou lewensfase verander en jy groei. Maar ek is ook daarvan oortuig dat jou doel altyd in ooreenstemming met jou sterkste eienskappe is, jou gawes en talente, en jou unieke persoonlikheid. Wanneer jy ander mense se lewe verryk deur te doen waarvoor jy geskape is en waaroor jy passievol is, volg daar altyd vreugde.
Die voëltjies sing vol blydskap; die stroompies vloei en loop uit in die see; die son kom op en gaan weer onder – alles gebeur in ooreenstemming met hul doel op aarde. Die befaamde Michelangelo het eens gesê dit gaan slegs goed met hom as hy ’n beitel in sy hand het.
Dis ’n groot genade as jy jou skeppingsdoel vind en dit beoefen. Dan besef jy dat geen takie te klein of te gering is nie. Dit word ’n spirituele saak, niks minder nie as ’n heilige opdrag. Jy sien reeds in die klein dingetjies wat jy doen die uiteindelike doel daarvan raak. Joseph Addison het gesê: “Die sleutel tot geluk in hierdie lewe is iets om te doen, iets om lief te hê en iets om op te hoop. Hoe wonderlik is dit vir ’n gelowige om te weet dat ons ’n wêreld het om lief te hê, om ’n spesifieke doel na te jaag, en om ons hoop op Christus te bou.”
Dank God elke oggend vir dit wat jy het om te doen. Mag jy dit wat jy doen as ’n genadegawe beskou, veel meer as ’n blote plig. En mag jy vreugde vind in die wete dat jy doen waarvoor jy geskape is.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.