My oudste seuntjie is mal oor krieket. Elke middag, as ons van die skool af kom, wil hy krieket speel. Dis verstommend om te sien hoe gou sy vaardighede ontwikkel het. Hy kolf beter, vang beter en boul beter as ’n week of twee gelede. En ek kan sien hoe sy selfvertroue toeneem. By hom is dit ook soos Gary Player eens gesê het: “Hoe meer ek oefen, hoe meer geluk het ek.”
Ek kry soms die gevoel ons dink dat ons geestelike groei bloot die swaai van ’n towerstaffie nodig het en dan sal alles reg wees. Ons verwag dat die vrug van die Gees ons s’n word bloot deur “ja” te sê vir ’n lewe in Christus. Ons ignoreer die Bybelverse en -verhale oor uithouvermoë en uitdagings en reken dis nie nodig om ons in dié dinge te oefen nie.
LEES OOK: Laat ander mense wees wie en wat hulle is
Woestyntye is noodsaaklik
Ons groei tog in die nuwe lewe in. En dan dikwels deur foute te maak. ’n Jong krieketspeler slaan en vang meer mis as raak, en hy boul meer wydlopers as wat hy gehoop het.
My seuntjie, byvoorbeeld, slaan gereeld die bal oor ons buurman se muur. Dié is ’n afgetrede dominee, en toe ons op ’n keer daar aanklop om die bal te gaan haal, staan en gesels ons sommer oor die lewe en sy dinge. Hy sê dat hy geleer het daar kom altyd, ongeag wie of wat jy is, ’n woestyntyd in jou lewe.
Die woestyn, sê hy voorts, is noodsaaklik vir ’n mens se groei. En as jy eers deur die woestyn is, kan jy nooit weer terugkeer na hoe dinge vroeër was nie. Die woestyn verander jou. Dit maak jou sterker.
En, belangrik, die Here is saam met jou in die woestyn.
Luister wat sê die profeet Hosea in die Here se Naam oor die Ou Volk: “Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het” (Hos 2:13-14).
Daar wag meer as een woestyn op jou
In sommige woestyne leer ons om geduldig op die Here te wag. In ander om op sy liefde staat te maak en om nie van mense se liefde afhanklik te word nie. Daar is woestyne waarin ons leer hoe om vreugde te ervaar, daardie heilige emosie wat nie deur ons omstandighede of ander faktore geblus kan word nie. Nog ander woestyne leer ons om God se bonatuurlike vrede te ervaar, ten spyte van wat ons om ons sien en ervaar.
En dan is daar dié woestyne wat ons hard terug aarde toe bring, waar ons leer om nederig en afhanklik van God te leef. Hier leer ons dalk ook die selfbeheersing en uithouvermoë wat noodsaaklik is vir ’n nuwe begin. En die vriendelikheid, goedhartigheid en medelye wat ons aan die ander mense verskuldig is wat hulle in dieselfde woestyn as ons bevind.
God is daar, by die lering en die loutering
Hier is die heel grootste troos: Waar die woestyn ook al is en wat dit ook al aan ons doen, ons kan altyd weet dat God saam met ons daar is. Daar praat Hy met ons en berei ons voor op die toekoms wat Hy vir ons beplan.
Juis in die woestyn vind jy daardie water wat jou dors vir ewig les (Joh 4:13-14). Jy leer eerstehands dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar van elke woord wat uit die Here se mond kom.
Hier vind jy uit dat die ou psalmdigter dit reg het: “Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd” (Ps 121:6-7).
Mag jy jou oorgee aan die verandering en die loutering wat die woestyn bring. Mag jy fyn luister sodat jy God se woorde aan jou kan hoor. Mag jy vorentoe kyk na die nuwe toekoms. En mag jy groei in sy liefde.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.