Op die dag van LiG se gesprek met Stephan Malherbe het daar presies vyf jaar, vier maande en sewe dae verloop sedert Zara haar eie lewe geneem het. Dié pa sê hy hou vas aan wyse raad wat hy op die dag van sy 17-jarige dogter se gedenkdiens gekry het.
“Dit het baie vir my beteken, die woorde van iemand wat ’n seuntjie in ’n ongeluk verloor het. Dié persoon het vir my gesê: ‘Stephan, moet net nie bitter word nie. Moenie bitter word teenoor jouself nie, want jy kan jou oor ’n klomp dinge verwyt. Moet ook nie bitter word teenoor jou God nie, want Hy laat ons toe om keuses te maak, al is dit verkeerde keuses.’
“Dit wás Zara se keuse. Dit was onteenseglik haar besluit; dit was nie ’n invloed van buite nie. Hoewel ek vir haar die dinges in is, en vir haar ’n pak slae belowe het as ek daar Bo kom …”
Stephan Malherbe van Wellington wil ook dié wyse raad aan ander ouers gee wat hul tiener aan selfdood moes afstaan. Want dis maklik om verbitterd te word as jy jou 17-jarige dogter, sterwend aan ’n skietwond, op ’n kombers iewers buite die huis aantref.
‘Wanneer die alleen te groot word’
Stephan se eerste woorde tydens ons gesprek verklap iets van sy swaarkry: “Dis vandag presies vyf jaar, vier maande en sewe dae sedert Zara weg is.”
Hy sê hy veg elke dag teen die bitterheid. Hy sê hy kan nie die presiese besonderhede van daardie Vrydag die 13de in 2020 vergeet nie. “Ek sê altyd vir my vrou Nixi: ‘Ek ruik nog die gras.’
“Daardie laaste oomblikke steek in jou geheue vas; jy kry dit nie uit jou kop nie. So graag soos wat jy dit uit jou verstand wil kry, kry jy dit nie uit nie. Sy het onder ’n boom gesit, op ’n kombersie. Haar radio was daar en haar speaker. Sy het nog gelewe. Ek het haar hand vasgehou totdat die ambulans gekom het.
LEES OOK: ‘Dis moeilik om die verskrikking van ons Simeon se selfdood te beskryf’
“Jy soek hard na antwoorde, na foute wat jy gemaak het …”
Antwoorde vir die “hoekom?” kon hy ook nog nie vind nie. “Ek kon nog nie tot insig kom oor waarom sy dit gedoen het nie. My gevolgtrekking kan ek só verwoord: Jy sit op ’n plek, en al is daar mense om jou, is jy só alleen dat die alleen te groot word. Dit was Covid-19 en dit was alleen. Ons was almal afgesonder.
“Ek dink dit was maar die emosionele plek waar sy haar toe bevind het. Sy het dit in haar briefie ook geskryf. Sy het nie meer daarvoor kans gesien nie.

“Zara was ’n fenomenale kind – soos wat elke ouer seker van hul kind sal sê. Sy was intelligent, sy het baie goed presteer op skool, sy wou medies gaan swot. Een van die dinge wat nie gehelp het nie is dat sy gedink het sy sal die wêreld kan verander … en sy het haarself nie genoeg tyd gegee nie.
“Sy was baie vasbeslote, ’n lekker mens met ’n klomp maats. Sy het hard baklei vir die regte van gay mense, sy het opgestaan teen rassisme. Sy was mal oor diere en daarom ook ’n vegan. Ek hou van kosmaak en dit was nogal ’n uitdaging. Sy het élke dag gedraf, iets wat ek steeds nie regkry nie.”
Stephan vertel van ’n radiogesprek waarna hy ’n paar dae ná sy dogter se dood geluister het. “Die gesprek het oor Zara gehandel en oor die redes waarom iets wat só tragies is gebeur. Die mense wat deelgeneem het, het onder meer gesê dat ’n gesin dinge moet saam doen, hulle moet saam eet. Ons was ’n normale gesin wat al daardie dinge gedoen het. Ja, sy het aan depressie gely, maar ons het dit bestuur so goed ons kon.”
Geen tekens nie, behalwe dalk ’n opstel
“Tot op daardie noodlottige dag was daar geen aanduiding dat sy so iets beplan het nie. Sy was nie rebels nie. Ons het nog die Donderdagaand gesels oor ’n ander leerling by hul skool wat enkele dae tevore selfdood gepleeg het. Zara het gesê dat dit nie vir haar lekker is nie.

“Maar sy was opgewonde oor dinge wat later daardie jaar op haar gewag het.”
Stephan sê hy kon wel later ’n moontlike teken vind in ’n opstel wat sy vroeër die jaar as graad 11-leerling aan die Hoër Meisieskool La Rochelle geskryf het. “Sy het geskryf oor hoe almal aandag gee aan Covid-19, want jy kan dit sien. Maar niemand het in al die jare soveel aandag aan depressie gegee nie.
“Sy het gesê dat buitestanders reken jy moet jou regruk – en dit bloot omdat die simptome nie regtig sigbaar is nie. En dat dit nie is hoe depressie werk nie. Sy het ook daarin geskryf dat baie mense dan selfdood as ’n uitweg kies. Ek dink sy het 90% vir die opstel gekry.”
‘Hulle weet nie hoe jy voel nie – aanvaar dit’
Ons gesels oor ’n 14-jarige jong seun wat ook onlangs sy eie lewe geneem het. Watter raad sal hy vir sulke ouers gee?
“Ek wens ek het die regte raad gehad voor dit met my gebeur het, want dan sou ek daardie raad vir myself gegee het. Dit is slegs jou verhouding met jou Skepper wat jou dra. Maar ek sou sê: Koester jou familie en jou vriende. Ek reken dit is God se manier om na ons om te sien, deur hierdie mense. En moenie jouself verwyt nie.

“Onthou ook: Ander mense verstaan dit nie altyd nie. Aanvaar die feit dat hulle nie weet hoe dit is of hoe jy voel nie. Jy is met ’n pyl geskiet – en dit bly seer. Dis nie iets wat weggaan nie. Dis nou al so lank, en ek sukkel steeds om daaroor te praat.”
Stephan vertel hoe hierdie tragedie hom verander het. “Dit verander ’n bietjie aan jou siel omdat jy ’n seer saam met jou dra. Ek besef nou hoe onnodig die klein dingetjies is wat my in die verlede gepla het. Mense stry oor nonsens. Hulle fokus op verkeerde dinge, want dis nóú vir hulle belangrik.
“Ek kyk nou anders, en ek redeneer anders. Want ek weet wat dit is om die helfte van myself te verloor …
“Maar ek het steeds ’n pragtige vrou, ’n seuntjie en ’n beautiful dogter. Hulle bring vir my hoop. Jy moet sterk wees vir jou kinders, al is dit ook hoe moeilik.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.


















