Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

‘Dis scary om te dink ons kan dalk nie oorleef nie’

“In my kop voel hierdie vir my die naaste aan oorlog wat ek moontlik in my leeftyd mag beleef.  En die “scary” deel is dat niemand van ons (jonk of oud) verseker is dat ons dit gaan oorleef nie.  Tog baklei ons steeds braaf voort,” vertel arbeidsterapeut Nandri Cronje wat nou soos ander gesondheidswerkers die Covid-19-pandemie help beveg.

DEUR JACOBIE M HELENA

Hoe beleef jy as arbeidsterapeut die Covid-19-krisistyd?

Hierdie tyd is vir my onstuimig, onseker, uitdagend, vreesaanjaend, maar tog ook opwindend en ’n voorreg om van deel te wees. Waar my werk vroeër net op arbeidsterapie-dienslewering veral met ortopediese- en handbeserings, asook sensoriese integrasieterapie gefokus het, het my rol nou ook na ’n “screener” (by die hospitaal se screening sentrum) verander. En in die nabye toekoms kan dit selfs na hulp vir verpleging of hulp in die palliatiewe sorgeenheid verander, soos die nood hom voordoen. My rol as arbeidsterapeut is nou veel meer vloeiend en rolle word nou as “gesondheidswerker” benodig (binne jou vermoëns natuurlik), maar nie noodwendig waarvoor jy primêr aangestel is nie. 

In my kop voel hierdie vir my die naaste aan oorlog wat ek moontlik in my leeftyd mag beleef.  En die “scary” deel is dat niemand van ons (jonk of oud) verseker is dat ons dit gaan oorleef nie.  Tog baklei ons steeds braaf voort.

Vrou wat glimlag.
“Ek het in hierdie tyd net weer opnuut daarvan bewus geword dat my God werklik almagtig is, groter en magtiger as enige iets op aarde – ook groter en kragtiger as die nuwe koronavirus, vertel Nandri.

Wat is die grootste uitdagings?

Die uitdagings wat ek as arbeidsterapeut tans beleef, lê nie nou meer in komplekse beserings en ingewikkelde rehabilitasieplanne nie, maar eerder hoe ek arbeidsterapeutiese-dienste by pasiënte kan uitkry wat dit steeds benodig, sonder dat hulle my fisies by die hospitaal besoek.  Baie veranderinge en herstrukturering is in die hospitaal aangebring om die veiligheid van pasiënte en personeel te verseker. Ekstra tyd word bestee om oppervlaktes en om apparaat skoon te maak.  Die aansit en monitering van my eie PPE (personal protective equipment) neem tyd voordat ek pasiënte kan begin sien. Ons departement volg pasiënte ook nou meer telefonies met konsultasies op, om fisiese kontak te beperk en te verhoed dat pasiënte na en van die hospitaal moet reis. Die aanhoudende aanpassings wat gemaak moet word, ekstra voorsorgmaatreëls wat getref moet word en die konstante bewustelike higiëne- en kontamineringsmaatreëls eis beslis ’n fisiese en ook emosionele tol op ons as gesondheidswerkers. 

Hierdie tyd vereis van enige gesondheidswerker om nou selfs nog meer aanpasbaar, plooibaar en gedissiplineerd te wees as voorheen. Kortom is my werksplek heeltemal anders as die dag tot dag arbeidsterapie-ervaring in ’n akute hospitaal waaraan ek in die begin van Januarie 2020 nog gewoond was. Selfs asemhaling en kommunikasie word drasties bemoeilik met al die maskers en “visors” of beskermde brille. Ek besef nou eers hoeveel kommunikasie met my mond en gesig kompenseer vir pasiënte met gehoorprobleme en pasiënte wat nie dieselfde tale as ek praat nie. Dit is vir my ’n groot verlies om daarsonder te kommunikeer. Ten spyte van soveel uitdagings en hindernisse is ek geweldig dankbaar dat ek is waar ek is en deel kan wees van hierdie geskiedkundige ervaring en soveel innovasie.

Wat het jy van God in dié mediese krisistyd geleer?

Ek het in hierdie tyd net weer opnuut daarvan bewus geword dat my God werklik almagtig is, groter en magtiger as enige iets op aarde – ook groter en kragtiger as die nuwe koronavirus.

Hierdie tyd was ook vir my ’n tyd om in ’n gejaagde lewe tot stilstand geruk te word en tyd te maak vir die dinge waarby ek nie in die elkedagse gejaag uitkom nie. Dit het my tyd gegee om na te dink, tyd om te luister en tyd om te groei. Tyd om bewus te word van God se almag en Sy teenwoordigheid binne-in ons krisistyd. Hy laat ons nooit los nie. God is so getrou en só groot! 


Lees nog getuienisse hier.


God se genade en voorsienigheid is net só ongelooflik. Ek wens ons kon sien hoeveel mense het Hy al van die virus gered wat met ons menslike agterlosigheid so byna byna geïnfekteer is.  Ek wens ons kan almal se stories van hoe hulle God in hospitale se ICU’s en isolasie-vertrekke beleef neerpen. God is ongelooflik aan die werk en aan die genees – fisies, maar ek glo ook emosioneel. Hierdie grendeltyd was vir my die mooiste voorbeeld nog (in my lewe) van genadetyd. Die toekoms is vir ons almal so onseker en hier kry ons tyd wat ander mense nie voor ongelukke of skielike onverwagse dood het nie.

God is getrou. Hy gee ons krag. Hy maak gesond. Hy maak mense innoverend. Hy gebruik mense om te dien in hierdie tyd en so lewens te red met elke kospakkie, elke handgemaakte lapmasker en elke skenking wat in hierdie tyd uitgestuur is. Dis nie net “essential workers” wat lewens red nie. God gebruik mense … in die frontline, maar ook by die huis en in die gemeenskap daarbuite. 

God is verseker aan die werk. Wat Sy Upper Story-plan met ons in hierdie pandemie is, is ek baie nuuskierig oor. Die rede waarom God hierdie pandemie toelaat, verstaan ek nie, maar ek wil saam met Paulus bely: “Om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins”. 

Ek is so dankbaar vir die genade dat God hierdie pandemie op hierdie tydstip (in 2020) in die geskiedenis eers toelaat met soveel gevorderde medici, tegnologie en sisteme wat daar nie was met die Groot Griep in 1918 nie – ons het soveel om voor dankbaar te wees.  Net die krag wat God elke gesondheidswerker en werkers van noodsaaklike dienste gee, die krag wat Hy mense in grendeltyd gee om hulleself op te pas en tuis te oorleef in ‘n totale vreemde wêreld van lockdown. Ek sien Sy genade ook in mense wat gesond word en hulle families se getuienis.  

Masker vir web
Nandri vertel: “En in die nabye toekoms kan dit selfs na hulp vir verpleging of hulp in die palliatiewe sorgeenheid verander, soos die nood hom voordoen. My rol as arbeidsterapeut is nou veel meer vloeiend en rolle word nou as “gesondheidswerker” benodig (binne jou vermoëns natuurlik), maar nie noodwendig waarvoor jy primêr aangestel is nie.”

Ek moet sê dat ek nooit gedink het dat iets die vermoë het om die moderne wêreld soos ons dit ken, regoor die wêreld so tot stilstand te ruk soos wat COVID-19 pas aan ons bewys het nie.  En ek weet my God is besig binne-in hierdie krisis, besig om mense se lewens radikaal te verander en Homself te openbaar.

Waarvoor bid jy as arbeidsterapeut en voorste linie-werker in dié tyd?

Ek bid dat mense, hierdie genadetyd, sal gebruik om hul saak met die Here reg te maak en terug te draai na God toe. Ek bid dat mense sal seker maak dat hulle die kern van die Christelike geloof verstaan en glo – dat ons vrygespreek is deur Jesus Christus se kruisdood en dat geloof in Jesus en wat Hy vir ons gedoen het die enigste weg is na die ewige lewe. Ek wil ook bid dat mense sal tyd maak vir God en hul geestelike lewe sal verdiep. Ook dat God Homself sal openbaar aan mense wat Hom nog nie aangeneem het nie.

Ek bid dat families en vriende na mekaar sal uitreik en omsien na mekaar se geestelike welstand dat die wat God nog nie aangeneem het nie na Hom toe sal draai. Dat families kontak sal behou met hul naastes en enige onvrede sal vergewe, oplos en aanbeweeg. Ek wil bid vir deernis vir mekaar – deernis vir mense wat onsekerheid, depressie, angs en erge finansiële druk beleef. 

Ek bid ook dat mense verantwoordelik sal optree met hul eie en ander se gesondheid, in hierdie tyd. Dat almal vasberadenheid behou om met volgehoue hande was, social distancing en maskers dra voort te gaan tot hierdie virus uitoorlê is, aangesien enkele kere se verslapte beskerming dalk vir jou of jou geliefdes fataal kan wees.

Ek wil ook bid dat mense se hoop herstel sal word en dat mense nie vrees sal beleef nie. Mag ons ook hierna rustiger en minder materialisties lewe. Ek bid vir ons persoonlike beskerming; dat ons gesond sal bly en dat daar \’n oplossing sal kom vir hierdie pandemie.


Lees ook: Verlede week se LiG-inspirasievrou van die week: Dr Anke Portwig 

Verwante Artikels

© Lig 2023 | All rights reserved.

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.