Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Fay van Eeden gaan in vyf artikels haar gesin se reis na eenvoud en ’n meer volhoubare lewe met LiG-lesers deel. In dié tweede aflewering kyk sy na idees hoe om minder te maak.
DEUR FAY VAN EEDEN
Om minder te maak (Verminder/Reduce)
“It seems that if you have a little in life, you have little to worry about. If you have much, it seems you have much to lose.”
Dink ’n bietjie na oor dié aanhaling uit Rick Ray se dokumentêre fliek 10 Questions for the Dalai Lama …
Wonder jy ook soms hoe jou kombuis en klerekas so vol geword het? Sukkel jy ook om dinge in jou huis op te spoor?
LEES OOK: \’Ons leen die aarde by ons kinders\’
Op ons reis na ’n meer volhoubare lewe het ek besef ons het eenvoudig te veel. Het ek regtig drie stelle maatbekers nodig, veral as ek nie eintlik ’n bakster is nie?
Om dit wat ons verbruik, te verminder, het dadelik ’n uitwerking op ons planeet. In teenstelling met weier, is vermindering eiesoortig. Elkeen se vermindering sal anders as ’n ander een s’n lyk. Om fiets te ry werk toe, is byvoorbeeld nie vir almal moontlik nie; ’n saamry-klub werk in sommige gevalle beter.
Een van die wonderlike voordele van vermindering is die eenvoudiger leefwyse wat dit tot gevolg het. Dit nooi ons uit om ons eerder op gehalte as getalle of hoeveelheid toe te spits.
Om te verminder, is wel vir die meeste mense ’n pynlike proses. Niemand wil van Boeta se eerste paar vellies ontslae raak of afstand doen van die gerief van ’n mikrogolf-ete nie. Maar dis die moeite werd. Dit bevry ons nie net van ons verknogtheid aan bepaalde dinge nie, dit verseker ook dat ons kinders en kleinkinders ’n gesonder planeet by ons erf.
DIE NEGE VERMINDERINGSVRAE
NEGE vrae om jou af te vra indien jy wonder of jy régtig daardie artikel of kledingstuk nodig het: 1. Is dit in ’n werkende toestand? Is dit heel? 2. Gebruik/dra ek dit gereeld? Het ek dit in die afgelope jaar gedra/gebruik? 3. Het ek meer as een van dieselfde produk/kledingstuk? 4. Is die materiaal of bestanddele waarvan dit gemaak is skadelik vir my of my gesin se gesondheid? 5. Behou ek dit omdat ek reken ander mense sê ek moet dit hê? 6. Is dit die tyd werd wat dit duur om dit skoon te maak of af te stof? 7. Kan ek hierdie plek of ruimte vir iets anders gebruik? 8. Behou ek dit vanweë skuldgevoelens? 9. Ken ek iemand wat hierdie artikel beter sal kan benut of meer sal waardeer? · Uit Zero Waste Home van Bea Johnson. |
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …
Hoe vaar ons?
Ons gesin het gekies om op VIER plekke te probeer verminder:
- Ons aankope
Ons almal het ons al daaraan skuldig gemaak: daardie artikel wat ons impulsief in die trollie laai, sonder om seker te maak dat ons dit werklik nodig het.
Hoe begin ’n mens met die vermindering?
By die aankoop van klere, meubels of huisware vra ek my drie dinge af:
- Het ek hierdie artikel regtig nodig, of koop ek dit omdat almal dit het?
- Pas hierdie artikel by my leefwyse en lewensfilosofie?
- Is dit ’n artikel van goeie gehalte wat lank gaan hou?
Indien ek “nee” op slegs een van hierdie vrae antwoord, heroorweeg ek die aankoop daarvan.
Wat ons elkedagse inkopies betref, het ons ook vir onsself ’n klompie doelwitte gestel. Ons probeer byvoorbeeld sover moontlik produkte vermy wat in plastiek verpak is. Tot ons groot teleurstelling moes ons uitvind dis byna onmoontlik om by ons plaaslike supermarkte plastiekvrye inkopies te doen. Selfs die groente en vrugte word hoofsaaklik in plastiek verpak.
Dit het ons genoop om alternatiewe te begin soek, en ons het verskeie klein aanlyn ondernemings ontdek wat droë bestanddele, koffiebone, los tee en ’n verskeidenheid ander produkte in onder meer glasbottels, papiersakke en selfs lapsakke verkoop.
Ons koop nou ook ons vars groente en vrugte, sonder enige plastiekverpakking, by ’n klein onderneming in ons omgewing.
Daar is verskeie sulke moontlikhede in en om die meeste van ons groot stede. Dis die moeite werd om op jou omgewing se gemeenskapforums en sosiale media-blaaie daarna te soek. Jy spoor dalk ook ’n tuinier of twee op by wie jy groente sou kon koop of ruil.
Ons het ’n plaas gevind waar ons vars melk kan koop. Wanneer ons in daardie omgewing is, neem ons ons eie vyf liter-emmer saam en koop ons melk vir die week.
Wanneer ons wel by ons plaaslike supermark gaan inkopies doen, probeer ons om ons eie herbruikbare inkopiesakke saam te neem. Ons neem ook lapsakkies saam (’n kussingsloop werk net so goed!) sodat ons nie los groente, vrugte en gebak in dun plastieksakkies hoef huis toe te karwei nie.
Ons het ook reeds met ons eie glasbak by ons plaaslike slagter opgedaag.
Wanneer ons wel produkte in plastiekverpakking moet koop, maak ons seker dat die verpakking herwinbaar is.
Om te wil verminder, moet jy met ’n kreatiewe oog na geleenthede kyk waar jy anders en beter kan koop. Wanneer die lus vir ’n lekkerny byvoorbeeld by ons kom aanklop, soek ons na die skrapste moontlike verpakking. Of, nog beter, in ’n kartonverpakking wat herwin kan word.
- Ons kombuis
Waar kan jy in die kombuis begin verminder?
’n Goeie plek is daardie laai waar alles beland wat nie ’n ander plek het nie. Ons noem dit die “alles-laai” – en jy sal verbaas wees wat jy alles in daardie laai aantref …
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik
Jou kleuter kom hier handig te pas. Ek was nie regtig bewus van al die onnodige dinge wat ons met verloop van tyd versamel het nie, totdat my dogtertjie dit begin uitpak het. Met ongeveer die helfte van ons kombuis op die vloer kon ek die afgelope tyd ’n hele paar keer bogenoemde nege vrae aan myself vra. Met elke “nee” moes daardie artikel waai. Dit het beteken dat ons plaaslike hospies se winkel onlangs ’n hele paar bokse kombuisware ontvang het.
Dit was ’n bevrydende oefening om my kombuisware te verminder. Ons kombuis is nou aansienlik leër en beter georganiseer. En dit vergemaklik die kos- en skoonmaak.
Ons het ook gekies om minder kleefplastiek in ons kombuis te hê. In die plek daarvan het ons “beewax wraps” begin gebruik. Laasgenoemde word van byewas gemaak en is ’n wonderlike alternatief vir kleefplastiek. Dit kan byvoorbeeld met jou hande se hitte om enige soort bak gevorm word, en dit kan herhaaldelik gebruik word. Dit werk ook baie lekker vir toebroodjies.
Lapdeksels is ’n ideale alternatief om bakke oorskietkos mee toe te maak.
Ek het ook ons eie skoonmaakmiddels* begin maak, asook ons skottelgoedwasser se seepblokkies. Die aanvanklike rede hiervoor was om die hoeveelheid enkelgebruikplastiek wat ons in ons huis inbring, te verminder. Die ander voordeel van hierdie tuisgemaakte produkte is dat dit veilig is.
* Daar is verskeie resepte op die internet beskikbaar, waarvan sommige beter werk as ander. Toets dit uit en kyk wat vir jou werk.
- Ons badkamer en smuk-laai
Ons het met vier houers in ons badkamer ingevaar: een vir produkte wat ons wou behou, nog een vir medikasie wat verval het en wat ons by ons plaaslike apteek wou ingee, ’n derde vir alles wat ons kon herwin, en ’n laaste een vir alles wat weggegooi moes word.
Ons was verbaas oor alles wat ons in ons badkamer kon verminder. Wat my die meeste geskok het, was die groot hoeveelheid enkelgebruikplastiek – van pilhouertjies tot plastiektandeborsels.
Ons het tot op hede nie daarin geslaag om al die oortollighede en enkelgebruikplastiek in ons badkamer uit te skakel nie; ons het wel ’n paar stappe in die regte rigting geneem.
Die plastiekbottels met vloeibare seep in die stort en by die wasbak het vir koekies seep plek gemaak. Ons het ook onlangs sjampoe-seepkoekies begin gebruik. Dis fantasties om in ’n stort te klim waar daar geen sjampoebottels rondstaan nie.
Die sjampoe-seepkoekies wat ons tans gebruik, werk goed. Dit ruik lekker en dit hou regtig lank. Sommige sjampoe-seepkoekies word van klapperolie gemaak wat jou hare dalk ’n bietjie olierig kan laat lyk. Kry die een wat die beste vir jou werk.
Ons het ons plastiektandeborsels vir bamboestandeborsels verruil en oorstokkies van herwinde papier begin gebruik. Ek het ook die katoenballetjies waarmee ek my grimering verwyder met klein gehekelde lappies vervang. Laasgenoemde kan gewas en weer gebruik word.
Ons mees onlangse aanwins in die badkamer is tandepastapoeier wat van houtskool gemaak is. Dit word in ’n glasbotteltjie verkoop. Dit was vir my ’n groot aanpassing. Nie net vorm daar donkergrys skuim wanneer jy jou tande borsel nie, dit laat ook ’n ander gevoel in jou mond as wat by gewone tandepasta die geval is.
Dis nou drie maande later. Ek reken nie ek sal weer gewone tandepasta gebruik nie. Dis vir my lekker om te weet ek sal nie die einde van die maand ’n leë plastiekbuisie weggooi nie.
- Ons kinderkamer
Dié vertrek was verreweg die moeilikste. Ek kan steeds nie glo hoe vol ’n dogtertjie van amper twee jaar oud se kamer kan wees nie. En as sy net naastenby so sentimenteel soos die res van haar gesin gaan wees, wag daar groot moeilikheid …
Hoewel ek en haar pa feitlik geen speelgoed vir haar gekoop het nie, is haar kamer vol daarvan. Amper alles is geskenke wat van familie en vriende kom.
Ons het die opruimwerk begin deur ’n week of twee te kyk waarmee sy speel. Ons was verbaas om te sien dat sy eintlik net met ’n handjie vol van die baie speelgoed speel.
Gevolglik het dit waarmee sy nie gespeel het nie op die skenk-en-verkoop-hopie beland. Onder meer alles wat nie meer ouderdomgepas was nie. Ons was verbaas oor hoeveel van haar speelgoed nie meer volledig of heel was nie, en dit is op die herwinning-hopie gegooi.
Dit was moeilik om ontslae te raak van die speelgoed wat sy by familie gekry het. Ek het egter doodgewoon die nege vrae gevra. Ek het ook probeer om van baie van die speelgoed foto’s te neem wat in haar album kan kom.
Die uiteinde is dat my kind se kamer nou ’n veiliger en meer speelvriendelike ruimte is waar sy haar verbeelding en kreatiwiteit na hartelus kan gebruik.
ONS TOPWENKE
- Beplan die week se etes vooruit
Gebruik ’n halfuur tydens die naweek en beplan die week wat voorlê se etes. Koop ook alles wat jy gaan nodig kry oor die naweek aan. Goeie beplanning voorkom daardie “ek het nie tyd om te kook”- of “ek weet nie wat om te kook”- inkopies. Sulke kopies sluit gewoonlik klaarvoorbereide- of wegneemetes in plastiekverpakking in. Die voordeel van gereelde huiskos is dat jy en jou gesin gesonder eet en ook baie minder kos mors.
- Pak die spens reg
ֹ’n Spens kan maklik buite beheer raak. Maak tyd om jou spens reg te pak. (Jy sal verbaas wees oor wat jy alles daarin opspoor …)
Probeer om dit wat jy in jou spens het te gebruik voordat jy weer kos koop. Wanneer jy dan weer gaan inkopies doen, koop produkte wat jy weet jy gaan gebruik. Oorweeg inkopies by “weeg-en-betaal”-winkels wat jou sal toelaat om jou eie houers te bring.
- Koop soms groot hoeveelhede
Koop groot hoeveelhede van daardie produkte waarvan jy en jou gesin baie gebruik. Sulke aankope (“bulk buying”) is dikwels goedkoper én jy bring minder verpakkingsmateriaal in jou huis in.
- Eet ’n bietjie minder vleis
Word deel van die Vleislose Maandag-beweging. Miljoene mense reg oor die wêreld neem hieraan deel. Gaan loer gerus na hul webblad vir meer inligting. Jy sal ook hulpmiddels en resepte daar vind. (Hieronder is byvoorbeeld ’n nuttige kerrieresep – heerlik, en sonder vleis.)
- Jou vrieskas is jou vriend
Vries daardie groente of vrugte wat begin verlep of oorryp word. Dit kan later vir bredies, sop of smoothies gebruik word. Die meeste groente en vrugte vries goed. Laat vries dit eers op ’n oondplaat of ’n bord voor jy dit in ’n vrieshouer plaas.
- Gebruik minder water
Daar is baie eenvoudige maniere om water in en om jou huis te spaar, soos om die kraan toe te draai wanneer jy jou tande borsel.
* Gaan kyk gerus op my blog vir nog wenke in dié verband.
- Jou klerekas
Het jy al voor jou oorvol klerekas gestaan en gedink: “Ai, ek het níks om aan te trek nie”? Oorweeg dan ’n voorraadopname van daardie einste klerekas deur eenvoudig die nege verminderingsvrae aan elke item in jou kas te stel.
Een algemene wenk: Kies styl bo mode. Koop eerder stylvolle klere van hoë gehalte wat nie sommer gou uit die mode sal raak nie.
- Sluit aan by ’n koop-en-verkoop-groep
Daar is ’n bekende Engelse gesegde wat die spyker op die kop slaan: “One man’s trash is another man’s treasure.” Verkoop daardie dinge wat jy nie meer wil hê of bloot nie meer gebruik nie. Gebruik een van die baie koop-en-verkoop-platforms wat beskikbaar is.
Baie gemeenskappe het ook hul eie koop-en-verkoop-groepe waar jy byvoorbeeld iets soos tweedehandse speelgoed in die hande kan kry.
- Dink anders oor speelgoed
Ek is daarvan oortuig dat kwaliteit die vernaamste riglyn by speelgoed moet wees. Koop eerder vir jou kind minder speelgoed, maar sorg dat dit duursaam is. Kies eenvoudiger speelgoed wat jou kinders as ’t ware uitnooi om hul verbeelding te gebruik. Houtspeelgoed is byvoorbeeld ’n goeie keuse. Vermy sover moontlik speelgoed wat batterye benodig. Oorweeg ook om speelgoed soos fietse en Lego tweedehands aan te skaf.
- Deel jou volhoubaarheidsreis met ander
Deur jou familie en vriende van jou reis te vertel, maak jy dit vir hulle moontlik om jou daarin te ondersteun. Herinner hulle, byvoorbeeld tydens verjaardae, aan jou besluit om nie vir jou kind plastiekspeelgoed te koop nie.
MAAK DIT SELF
Mungboontjiekerrie
Mungboontjies is klein, groen boontjies wat baie vitamiene, minerale en vesel bevat. Hierdie heerlike kerriegereg is gesond en maklik om te maak. Die oorspronklike resep behoort aan Katie Trant.
Wat jy nodig het
4 eetlepels kanola- of sonneblomolie
1 eetlepel heel komynsaadjies
5 huisies knoffel, fyngedruk of baie fyn gekap
1 blik gesnyde tamaties
2 eetlepels gerasperde vars gemmer
2 eetlepels gemaalde koljander
1 teelepel borrie
1 teelepel seesout
1 teelepel rooipeper of ’n paar vars rissies
4 koppies water
1 blik klappermelk of -room
½ koppie gekapte vars koljanderblare
1-2 lemmetjies
Hoe jy moet maak
- Verhit die olie teen ’n medium tot hoë temperatuur in ’n groot swaarboompan.
- Braai die komynsade totdat dit donkerkleurig word.
- Voeg die knoffel by en braai dit totdat dit ligbruin is. (Moenie die knoffel laat brand nie!)
- Voeg die blik tamaties by en roer dit deur. Voeg nou die gemmer, koljander, borrie, sout en rooipeper/rissies by.
- Braai die mengsel ’n paar minute lank en roer dit gereeld.
- Voeg nou die water en die boontjies by die mengsel. Bring dit tot kookpunt, verminder die hitte, sit die deksel op en laat prut dit 30-45 minute lank, of totdat die boontjies sag is.
- Voeg die klappermelk by en bring die mengsel weer tot kookpunt. Verwyder die kerrie van die stoof sodra dit begin kook.
- Roer die koljanderblare en die lemmetjiesap by. Proe aan die gereg om vas te stel of daar nie nog sout of lemmetjiesap kort nie.
- Bedien dit met rys.