Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ek en my maat het verskillende ouerskapstyle, en ons baklei daaroor

Ek en my maat het verskillende ouerskapstyle, en ons baklei daaroor

Ons ouerskapstyle bots | Hoe om die konflik te hanteer en as ’n span saam te werk

Botsende ouerskapstyle kan aan kinders teenstrydige boodskappe stuur. Dit kan kinders verwar oor hoe om op te tree en wat van hulle verwag word. Verskille in ouerskapstyle kan maklik die vonke tussen huweliksmaats laat spat. Ouerskap is nie maklik nie, en as julle nog verskil oor ouerskapstyle kan dit ‘n bron van konflik raak.

Dit is normaal dat mense verskil, solank dit konstruktief bestuur word. Ons eie grootwordjare speel ‘n rol, ons kultuur, ons drome en verwagtinge van ons kinders, ons persoonlikheid, die artikels en boeke wat ons lees. Daarom is dit belangrik om te weet hoe om daardie verskille te hanteer, en die konflik wat daaruit mag spruit. En om dan ‘n gesamentlike front voor die kinders te hou.

Hoe hanteer ek konflik wanneer ons style bots?

Botsende ouerskapstyle kan ’n wig tussen twee huweliksmaats in dryf. Dit is heel aanvaarbaar om te besluit om van mekaar te verskil, maar as verskille konstant en vyandig raak, moet daar iets aan gedoen word.

Die terapeut Kathryn Guthrie meen in die artikel When parents disagree on different parenting: “As julle vir mekaar oë rol, die ander een sommer afmaak of mekaar minag, voel julle nie naby aan mekaar nie. As julle nie nabyheid ervaar nie, is julle minder geneig om kompromieë aan te gaan wat ouerskap betref.” Soek professionele hulp voordat hierdie ‘n groter probleem raak. Hou ‘n gesamentlike front voor die kinders, en probeer om die verskille eerder agter toe deure te bespreek.

Wat as ons geskei is en verskil oor ouerskapstyle?

Hier kan die opstel van ‘n ouerskapsplan ‘n deurslaggewende rol speel. Kliek hier om te leer hoe om so ‘n plan op te stel. 

Dit is ook so dat, indien daar konflik is tussen twee ouers waar een bloot ‘n ondeurdagte verwerping slinger na die ander se standpunt, die kind altyd ly. Want dan gaan die konflik oor die ouers, en die kind se belange en opvoeding word nie geag nie.

Watter effek het verskillende ouerskapstyle op kinders?

Baie kenners is dit eens dat variasie in ouerskapstyle voordelig vir kinders kan wees. Die sleutel sal altyd liefde en ‘n vertroostende verhouding wees. Tussen ouers onderling, maar ook tussen ouer en kind.

Dr. Marisa van Niekerk, opvoedkundige sielkundige van die Paarl meen dat die gevolge van botsende ouerskapstyle die volgende kan insluit:

  • Die kind raak verward oor wat reg en verkeerd is, en wat nou die “eintlike” reëls is;
  • Die kind word een of albei ouers se vertroueling, omdat die ouers teen mekaar ten velde trek. So ‘n kind voel verantwoordelik vir die konflik tussen sy/haar ouers en ontwikkel onnodige skuldgevoelens;
  • As die ouers gereeld in konflik is, kan ‘n kind as gevolg daarvan angs en/of depressie ontwikkel. Weereens as gevolg van die verwarrende skuldgevoelens wat hy/sy ervaar;
  • Die kind kan een van die ouers minder ag, en hom/haar by die ouer skaar wat volgens hom/haar die beste styl het en/of die meeste voordele gee;
  • Uiteindelik is die kind se siening van homself in gevaar as gevolg van die toutrekkery wat hy/sy tussen die ouers ervaar;
  • Die kind word ‘n slagveld tussen die ouers in plaas daarvan dat sy/haar ontwikkeling deur die ouers ondersteun en begelei word;
  • Hierdie kinders kan volwassenes word wat negatief teenoor ‘n huwelik is of kies dikwels om nie kinders te hê nie. Hulle herhaal selfs die sinnelose patroon om met iemand te trou met ‘n ouerskapstyl wat radikaal van hulle s’n verskil, en begin sodoende die hele negatiewe proses van voor af;
  • ‘n Kind wat grootword in ‘n huis met botsende ouerskapstyle kan as volwassene depressie of angstigheid ervaar, omdat die voortdurende konflik sy psige negatief beïnvloed.

Hoe werk ons saam om ons botsende style te versoen?

Ouerskap is ‘n intense emosionele reis. Dis harde werk. Wanneer ouers verskil oor ouerskap, kan dit moeilik wees om ‘n gesamentlike front voor te hou. Dit kan selfs in probleemgedrag by kinders ontaard.

Maar julle kan as ‘n eenheid saam werk. Jou kind het dit nodig! Hier is ‘n paar strategieë wat kan help:

  • Probeer uitvind hoe julle ouerskapstyle mekaar komplementeer.
  • Gesels en onderhandel met mekaar as dinge kalm is. En vermy dit om oorkrities of aanvallend te wees.
  • Luister na mekaar. Gee die ander genoeg tyd om hom-/haarself uit te druk, en moenie onderbreek nie. Julle albei sal weet wanneer julle gehoor is.
  • Probeer om toe te gee aan die ouer wat die sterkste oor ‘n saak voel. Onthou dat die doel is om goeie ouers te wees sowel as om ‘n goeie verhouding met jou maat te bou. Dit gaan nie daaroor dat jy altyd jou sin moet kry nie.
  • Ontwikkel ‘n stel reëls vir julle gesin waaroor almal saamstem. Dit kan reëls vir die kinders insluit, sowel as hoe om hulle te dissiplineer.
  • Moenie mekaar ondermyn nie. Julle is ‘n span. Bespreek eerder die verskille later en agter toe deure. (Behalwe as die kind in gevaar is van ‘n ouer wat hom/haar kan beseer.) Jy kan natuurlik empatie betoon aan jou kind, maar by jou maat se standpunt bly.
  • Ondersteun mekaar se besluite, al is dit nie ‘n besluit wat jy sou gemaak het nie. Hierdie kan bv ‘n reël wees wat julle altyd toepas: Indien een ouer dissiplineer, moet die ander ouer ondersteun al is dit nie hoe hy/sy sou straf nie. Indien julle dit nie doen nie, kan dit julle outoriteit as ouers ondermyn.
  • Probeer om jou maat se familie-agtergrond te verstaan. Help mekaar om te begryp dat hierdie nou julle gesin is, en die reëls mag dalk anders lyk as in julle eie grootwordjare.
  • Toets watter styl of optrede die beste werk. Wanneer julle oor ‘n spesifieke saak verskil, toets dan die hantering daarvan. Albei moet dan vir ten minste 3 maande dié manier van hantering toepas, en kyk of dit werk. Indien nie, kan die ander ouer se benadering probeer word.
  • Lees saam op oor ouerskap of raak deel van ‘n ondersteuningsgroep.
  • Onthou, as die ouers argumenteer, skuif die fokus van die kind na die ouers. Die fokus moet op die kind en sy/haar gedrag wees – hou dit daar.
  • Oorweeg terapie of berading indien julle nie jul verskille self kan hanteer nie.

Bronne geraadpleeg:

https://www.todaysparent.com/family/different-parenting-styles/

https://www.empoweringparents.com/article/when-parents-disagree-how-to-parent-as-a-team/

https://www.goodtherapy.org/blog/when-parents-clash-managing-differences-in-parenting-style-0616187

https://childmind.org/article/conflicts-over-parenting-styles/

http://www.educationalpsychologisttherapist.com/konflik-tussen-ouers-wanneer-hulle-ouerskapstyle-verskil/

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.