Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek het gedink liefde lyk só, nou ken ek God se liefde’ – gemolesteer ná aanneming

Erika Geldenhuys het as tienjarige kind geleer dat mense wat veronderstel is om jou veilig te hou, jou ook kan seermaak. Sy het jare lank ’n verwronge beeld van liefde gehad. Maar vandag ken sy God se liefde, en dit het vir haar bevryding gebring.

Twee lede van my aanneem-familie het my gemolesteer. Ek was ongeveer tien jaar oud toe een van hulle dit ’n tweede keer gedoen het. Die ander een het my twee jaar lank gereeld betas.

Maar daardie dag toe die betaster ’n kondoom uit sy sak haal, het ’n erge vrees my beetgepak. Dit was só erg dat ek weggehardloop het. Ek is daarvan oortuig dis die Here wat my laat vlug het.

Sover ek kan onthou, het die misbruik daardie dag opgehou. Omdat ek ’n lang pad van vergifnis moes stap, verkies ek om daardie twee mense se identiteit te verswyg.

Ek het wel, toe ek nog jonk was, iemand vir wie ek vertrou het van die molestering vertel, maar dis glad nie goed hanteer nie.

Al het die aanslae teen my liggaam tot ’n einde gekom, is my onskuld my ontneem. En ek is blootgestel aan dinge waaraan geen tienjarige blootgestel moet word nie.

’n Ouerhuis sonder water of elektrisiteit

Ek is die derde van agt kinders, gebore uit ouers wat ongelukkig nooit geweet het hoe om ouers te wees nie.

LEES OOK: ‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Die meeste van ons is uit die huis verwyder en in pleegsorg geplaas. Ek was 22 maande oud toe ’n Pretoriase egpaar my eers in pleegsorg geneem het, en my en my een sussie later wettig aangeneem het.

Ek onthou niks van ons eerste huis nie. My susters het my later vertel daar was geen bestendigheid nie, en geen water of elektrisiteit nie. Ons ouers sou ons saans in die motor los terwyl hulle iewers baljaar. Al wat ek onthou, is die krulhare op my pa se agterkop toe hy op ’n keer van my af weggestap het.

Vandag het sewe van ons agt op die een of ander manier kontak met mekaar. Ons moes sosiale media inspan om mekaar op te spoor. Ek is baie na aan twee van my susters.

Ek weet ek het ’n keuse: Ek kan bitter wees teenoor my biologiese ouers, maar ek het gekies om dankbaar te wees vir my aanneemhuis. En vir die feit dat een van my sussies daar saam met my grootgeword het.

Ons aanneemouers was liefdevolle, godsdienstige mense, maar ook streng. Hulle het vir ons bestendigheid gegee, ons kerk toe geneem en na CSV-kampe gestuur.

Hoeveel anders sou my lewe daarsonder gewees het …

’n Losbandige jong mens

Maar in daardie tyd was my aandag nooit by my skoolwerk nie; dit was deurentyd op seuns toegespits. Ek het nie aan sport of kultuuraktiwiteite deelgeneem nie, en ek het min skoolvriende gehad.

Ek was 16 toe ek my hart vir die Here gegee het. Maar hierna was dit asof die vyand sy aandag op my toegespits het, want ek het ’n losbandige jong mens geword. Daar was oomblikke waarin die Here hard probeer het om my weer by Hom te kry, maar dan het ek opnuut afgedwaal.

Ek vermoed ek het dié soort leefwyse gekies om liefde te ervaar. Diegene wat veronderstel was om vir my lief te wees het my in die steek gelaat.

Die keerpunt

Ek dank die Vader dat ek met Marthinus Geldenhuys getroud is toe ek 21 jaar oud was. Hy is geduldig, kalm, hy verstaan my. Ag, en hy is net so oulik! Hy is regtig deur God na my toe gestuur.

Met sy hulp kon ek al my woede verwerk. Ek kon op ’n manier vrede maak met hulle wat ek kleintyd moes vertrou, dié wat my liederlik misbruik het.

Ons is nou byna 18 jaar getroud en het ’n pragtige 16-jarige seun, die sesde geslag MJ Geldenhuys in die familie. Hy is so lief vir die Here!

Hy weet alles van my verlede. Hy weet ook dat ’n mens se lewe nie afdraand hoef te loop vanweë die verlede se foute nie, want God help regtig.

Wanneer ek op alles terugkyk, weet ek God het met my huwelik verklaar dat ek Syne is. My verhouding met Hom was jare lank net “af-en-toe”, hoofsaaklik vanweë my hardkoppigheid. Asook al die negatiewe invloede wat my soms oorweldig het. Maar ‘n stemmetjie in my agterkop het my telkens teruggeroep na Hom toe.

Vandag beskik ek oor drie kwalifikasies, en ek studeer steeds. Prys die Here daarvoor!

Ná matriek het ek in somatologie by ’n internasionale vel- en skoonheidsorg-akademie in Kaapstad gestudeer, en ook my internskap in die eiendomsmark voltooi. Nadat ek nege jaar lank ’n suksesvolle skoonheidsalon op ons dorp bedryf het, moes ek dit weens Covid-19 sluit.

Deesdae bak ek tuis, en ek hoop om teen Desember my opleiding as tuisversorger te voltooi. Laasgenoemde is daarop gerig om bejaarde mense te ondersteun.

Ware bevryding

In 2020 het ek ’n eerstejaarskursus by Charis Bible College voltooi. Wat ’n belewenis was dit nie! Hier het ek geleer om God se stem te herken, asook om Satan se leuens en die twyfel wat hy saai te verwerp.

Hoewel ek lank daarvan oortuig was dat ek my molesteerders vergewe het, het Christus en hierdie kursus my gehelp om die lang pad van ware vergifnis en bevryding te loop.  

Ek het die negatiewe wipwaentjierit finaal agtergelaat, en ek kan getuig dat God werklik getrou is. Ek wil vir elke jong seun en meisie wat soortgelyke dinge deurmaak as wat ek moes, net dit sê: “God sal jou nooit verlaat nie. Neem sy hand en moet dit nooit laat los nie.”

Ek het onlangs, tydens ’n vrouekamp, vir die eerste keer in die openbaar vertel hoe God my gered het. Ek kon vertel dat ek soos die Here se lotusblom voel: My voete was in die modder, maar deesdae blom ek pragtig vir Hom.

Vandag weet ek: God is goed, ongeag waar en hoe ver jy geval het. Dit voel soms asof Psalm 23 en Psalm 91 spesiaal vir my geskryf is. Voorheen het ek dit bloot as gewilde en geliefde Skrifgedeeltes geken; nou weet ek dat niks my van die Here se liefde kan skei nie.

Inderdaad, sy liefde is die ware liefde waarna ek my lewe lank gesmag het.

Ek is nou byna 40 jaar oud. En ek kan getuig dat dit net deur God se genade is dat ek in staat is om my verhaal te vertel.

  • Erika Geldenhuys woon in Heidelberg in die Wes-Kaap.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►