Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma wat sy as vyfjarige moes deurmaak, en sy sukkel steeds om daaroor te praat.
DEUR DEONETTE DE KOCK
Amanda het op die familieplaas Protest by Morgenson in Mpumalanga grootgeword. Sy is een van vier kinders. Sy onthou hoe sy dikwels in ’n ou motorwrak by die melkstal gespeel het. Sy en haar maatjies, die swart dogtertjies op die plaas.
Sy vertel: “Op ’n dag is ek na die melkstal gelok. Ek was onskuldig, ’n kind, ek het nooit enige onderduimsheid vermoed nie. Maar ek onthou die twee plaaswerkers wat my probeer paai het, wat toegekyk het hoe een van hul seuns bo-op my gelê en my broekie afgetrek het.
“Ek was bang, ek het nie regtig geweet wat gebeur nie, ek het net geweet dis nie reg nie. Die twee groot mans het die seun aangemoedig en hom voorgesê wat om te doen.”
‘Ek was kwaad vir God’
Amanda het hierdie traumatiese gebeure onderdruk; sy kan slegs enkele flitse daarvan onthou. “Al wat ek vandag onthou, is hoe vuil ek gevoel het. Maar ek het eers ná ’n paar dae vir my ma gesê ek voel vuil by my broekie. Sy het gekyk en gesê dat ek seker ’n glipsie gehad het en my verseker dat daar niks fout was nie.
LEES OOK: Gesinsgeweld in die grendeltyd
“Ek het nie die woorde gehad om haar te vertel waarom ek vuil voel nie. Ek is baie beskermd grootgemaak, en godsdienstig. Ek het met God gepraat en Hom gevra waar Hy dan was toe dit gebeur het. Ek was kwaad vir Hom, en teleurgesteld.”
“Ek kan nie eens onthou hoekom ek vir niemand vertel het nie. En of die mans my gedreig het nie. Ná hierdie gebeure het ek hulle net gehaat. Eers toe ek ouer geword het, het ek van verkragting en molestering gehoor – en besef dat dit dít was wat met my gebeur het.
“Dit was toe dat my worstelstryd met die Here begin het.”
Hoe het dié gebeure haar lewe beïnvloed?
“Dit het iets by my wakker gemaak wat nie wakker gemaak moes word nie. Dit het my vuil laat voel.” Sy sluk die trane weg.
“Met verloop van tyd het ek ál meer bewus geword van hierdie monster wat in my ontwaak het. En van die behoefte aan selfbevrediging. Ek het daardie verkragters gehaat, want ek het geweet dis waar dit begin het.
“Dit het ook my sosiale lewe beïnvloed, dit het my baie eensaam gemaak, my minderwaardig laat voel. Tog was daar meisies wat saam met my in die skool was wat, sonder dat hulle geweet het wat met my gebeur het, dikwels vir my vertel het wanneer daar iets traumaties in hul lewe plaasgevind het.”
’n Man met ’n sagte hart
Ná skool het Amanda vir ’n kursus in kinderevangelisasie ingeskryf. Sy het in Reitz werk gekry en by die kerk betrokke geraak. Daar het sy met die jeug gewerk en Sondagskool gegee.
Sy het God gevra om vir haar ’n man te stuur met ’n mooi, sagte hart, een wat lief is vir kinders.
Dit was haar pa wat haar man Thys aan haar voorgestel het. Hy was die een waarvoor sy gebid het, dié sagte man wat haar teer behandel.
Nadat hulle getroud is, was Amanda soms terughoudend wat hul intieme lewe betref. “Hy moes so geduldig wees met my,” vertel Amanda. “Die vyand wou my ’n vals beeld van intimiteit gee. Ek moes Thys vertel waarom ek soms koud was.”
Amanda het twee kinders, Stephan (20) en Janke (17), en sy tree baie beskermend teenoor hulle op. Sy het hulle vroeg-vroeg reeds behoorlike seksvoorligting gegee sodat hulle meer ingelig oor die lewe is as wat sy destyds was.
‘Daar is genesing’
Kon sy ooit haar molesteerders vergewe?
Eers heelwat later, vertel Amanda. Eers toe sy na die bekende skrywer en spreker Joyce Meyer se CD’s geluister en haar boeke begin lees het. Meyer is ook as kind gemolesteer. “Ek het besef dat daar ook ander mense is wat so iets deurgemaak het.
LEES OOK: ’n Protes van ’n ander kleur
“Toe my sussie op ’n keer kom kuier, het ek haar van die verkragting vertel. Vir die eerste keer het ek gebid dat die Here daardie verkragters vergewe. Hulle het nie geweet wat hulle aan my doen nie.
“Eensklaps het ek ook besef wat Jesus bedoel het toe Hy aan die kruis gesê het: ‘Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.’
“Eers daarna kon ek myself in die spieël kyk en myself liefkry. Dit was die grootste bevryding ooit toe ek die verkragters kon vergewe. Ek het soos ’n nuwe mens gevoel.
Ná my genesing kon ek, ná 25 jaar, uiteindelik my ma vertel wat gebeur het.
“En eers toe kon ek verstaan wat die betekenis van intimiteit tussen lewensmaats is, en hoe kosbaar dit in die huwelik is.
“Ek wil ook hê dat mense wat seergekry het moet weet dat niks by God onmoontlik is nie. Onthou dat Jesus se bloed aan die kruis vir ons gevloei het, dat dit jou skoon gewas het sodat jy ’n nuwe mens kan word. Daar is genesing. Daar is ’n nuwe lewe waar jy geliefd kan voel, en ervaar hoe lief God jou het.”
- Deel jou getuienis in sowat 800 woorde met ons by lig@tydskrifte.co.za Stuur ook ’n goeie foto saam met jou storie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.