Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek is nie meer bang vir die dood nie’ – gewese dwelmslaaf met terminale kanker

“Moenie wag totdat jy tot stilstand geruk word voordat jy die Here se heerlikheid ervaar nie.” Martin Niemandt, vasgekluister in sy bed en permanent aan suurstof gekoppel, se lewensdoel is nou om God se Woord te verkondig.

“Ek is 24 uur van die dag in die bed, met suurstof en morfien.”

Martin Niemandt (35), op sosiale media ook as Boerseun Ysterman bekend, praat met moeite. Hy is bedlêend en is voltyds aan ’n suurstofpyp gekoppel. By hom op sy bed lê sy geliefde toypom-hondjies, Coco en Killer.

Ironies genoeg is dit nie die jare lange dwelmmisbruik wat sy liggaam so afgetakel het nie; hy het terminale kanker.

‘Here, bestaan U?’

Agter sy bed hang ’n groot houtkruis. Dis ’n stille getuienis dat die Here sy anker is.

“Vier jaar gelede het ek my hart vir die Here gegee. Ek is kort daarna met borskanker gediagnoseer. Tans klou ek vas aan die Here se goedheid en genade. Hy dra my en hou my positief.”

As 11-jarige plaasseun was Martin lief vir die Here. Maar sy ouers het geld nagejaag, al hoe minder kerk toe gegaan en al hoe minder tyd saam met die Here deurgebring. Dit het, uiteraard, ook op die jong seun afgevryf.

Martin vertel hoe hy op ’n keer op die skoolpawiljoen gesit en gevra het: “Here, bestaan U? Bestaan die duiwel?” Hy het die vraag herhaal.

LEES OOK: Jan Bloukaas: ‘Doodgaan is nie verloor nie’

“Toe was daar ’n harde slag, en ek het aangeneem dis die Here.

“Maar die duiwel het my begin teister. Ek was 21 jaar oud toe ek weens groepsdruk by ’n partytjie dwelms gebruik het. Mettertyd het ek aan ‘crystal meth’ verslaaf geraak – dit is tik.

“Dit het my baie gelukkig laat voel, vol energie. Dit het so goed gegaan dat ek deurnag aan mynmasjiene gewerk het. Ek het drie dae en nagte lank hard gewerk, en dan drie dae en nagte geslaap.

“Toe verloor ek my werk.

“Die tik het my baie aggressief gemaak. Maar ek was ook depressief. Ek het selfdoodgedagtes gehad en wou my op ’n dag teen ’n brug te pletter ry.

“In daardie stadium het my ma Marthie en sussie Christelle, asook ’n gebedsgroep, vir my gebid. Hulle was baie bekommerd oor my.

“My ma-hulle se gebede het my van selfdood gered, want daar was die keer toe my kar op ’n onverklaarbare wyse gebreek het toe ek my lewe wou neem. En die volgende dag was daar geen fout met die kar nie.”

Selfdood of omdraai?

Die keerpunt het op 23 Augustus 2023 gekom toe hy besluit het om tik te laat staan. Martin vertel: “Alles het vir my net te veel geword, en ek moes ’n besluit neem: Óf ek draai om en maak iets van my lewe, óf ek moet weer probeer om my lewe te neem.

“Ek het my ma en pa en sussie gekontak en gesê ek kan nie so aangaan nie, en dat ek daardie einste dag my hart vir die Here sal gee. Ek is na my ma se huis toe, en daar het ek op die sitkamermat gekniel en my hart voor die Here oopgebreek en dit vir Hom gegee.

“Dit het gevoel asof ’n berg van my skouers af is. Ek het ’n nuwe visie gehad. My ou vriende het hulle van my gedistansieer; die Here het vir my nuwe vriende gestuur. My verhouding met my ma het ook baie verbeter. Dit was asof ek my ou klere uitgetrek en net daar gelos het, en nuwe klere aangetrek het. Ek het my laat doop.

“Ek was jare lank aan pornografie verslaaf. Dis baie erger as om aan dwelms verslaaf te wees. Maar sedert my bekering het ek nooit weer na pornografie gekyk nie.”

Borspyn, moegheid – en skoknuus

’n Jaar later het Martin (toe 33) erge borspyn ervaar. Hy het ’n knop in sy bors gevoel en begin moeg word. Die dokter het hom vir verskeie toetse, biopsies en bloedtoetse gestuur. Die nuus dat hy borskanker het, het hom soos ’n skoot koue water getref.

“Dit het onwerklik gevoel, onwaar. Ek het aanvanklik geen emosie beleef nie. Eers toe daar met die behandeling begin is, het dit tot my deurgedring.

“Dié nuus het my lewe radikaal verander. Maar ek het nie opstandig geraak nie, want ek het geglo dat as die Here my tot nou toe versorg het, Hy my ook verder sou dra.

“Daar was oomblikke dat ek bang was. Ek het alles moontlik probeer: die sterkste chemoterapie, bestraling. Ek het nie aan ’n mediese fonds behoort nie en al ons vriende het finansieel bygedra om die onkoste te dek. Ons kon die Here se hand duidelik in dit alles sien.”

Toe kom daar nog ’n terugslag: Martin moes verlede jaar November Botswana toe gaan om aan ’n groot mynvoertuig te werk. Daar het dié voertuig op sy knie beland.

Hy vertel: “Daar was nie behoorlike mediese hulp in Botswana nie. Hulle het wel X-strale van my knie geneem en ek het steke gekry. Niemand het besef dat my L5-werwel en heup ook beseer is nie.

“Ek het so verswak dat ek sedert daardie Desember met ’n loopraam oor die weg moes kom. Ek kon nie meer werk nie.”

Maar verdere ellende het op hom gewag: “Ná ’n val in my kamer, waar my kop die stort se muur getref het, is ek verlam. Die kanker het ook versprei – van my bors na my rugmurg en my rugwerwels. Dis nou terminaal.

“In daardie tyd het ’n klompie aardse engele my finansieel gehelp. Ná die val moes ek my lewe op die plaas naby Brits opgee en Pretoria toe trek, na my ma toe, wat my versorg.

“Die aanpassing was vir my baie swaar. Ek mis my geestelike vriende by die mynmasjien-onderneming. Maar die Here se planne is nie myne nie.”

Boerseun Ysterman

Deesdae verskyn daar gereeld inspirerende boodskappe uit die Woord op sy Facebookbladsy. Die naam Boerseun Ysterman het ontstaan nadat ’n groep mans by ’n Mighty Men-konferensie, op wie Martin ’n groot impak gemaak het, hom so begin noem het. “Ja, dít is waar ‘Boerseun Ysterman’ vandaan kom. Ek wil net vir die Here werk. Ek het ’n kans gekry om reg te maak met my Skepper. Ek verduur pyn, en ek hanteer elke dag soos dit kom.

“Ek is positief en sien alles raak wat die Here elke dag vir my doen. Daarom gee ek nou al my liefde en tyd vir Hom. Ek luister graag lof- en aanbiddingsmusiek, ek doen Bybelstudie en ek bid. Daar is ’n groot span Christuskrygers wat vir my bid en die Woord oor my spreek.

“God se Woord maak my opgewonde. Ek is omring deur my vriende en familie wat my emosioneel en finansieel dra. Dis die wonderwerke wat ek elke dag aanskou.

“Ek het ’n Bybelvers, Matteus 5:14: ‘Julle is die lig wat die wêreld verlig.’ En ’n liedjie wat spesiaal deur Cois Claase vir my geskryf en gesing is. Dit alles dra my deur hierdie tyd.

“Daarom wil ek graag ander mense waarsku om tog nooit in ’n situasie te beland waar jy eers tot stilstand geruk moet word voordat jy die Here se heerlikheid ervaar nie.”

Oor wat alles vir hom voorlê, sê Martin: “Ek was eers bang om dood te gaan. Maar nie meer nie. Die Here het sy heerlikheid oor my uitgestort. Ek glo dat Hy my kan gesond maak. Ek sien elke dag die wonderwerke in my lewe.

“En ek het ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit kom net van Hom af.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►