“My grootste doel met onderhoude is nie om mense bang te maak met die dood nie, want die dood is eintlik ’n wen.”
So sê Jean du Plessis, beter bekend as musikant Jan Bloukaas, wat op die stoel in die LiG: God se krag in my krisis-studio in Kaapstad sit.
Sy energie en positiwiteit sit met die intrapslag ’n groot glimlag op elkeen in die ateljee se gesig.
“Dankie vir die groot voorreg om hier te wees. Dis vir my lekker om vandag te kom praat oor dit wat regtig saak maak …”
Hy vertel sy storie en so word elkeen se glimlag ’n knop in die keel en moet die boks met snesies nadergetrek word.
LEES OOK: ‘Hy huil van dankbaarheid omdat hy nou tyd het om sy sake reg te maak,’ vertel Jan Bloukaas se ma
Want dié musikant van Bellville veg die afgelope twee jaar teen breinstamkanker. En Jean “fight” sonder vrees.
Hy vertel: “Dis die grootste ding wat vir my verander het. Jy het heeltyd aanvanklik hierdie vrees vir die dood … Maar toe dink ek as ek doodgaan gaan ek by Jesus wees in ’n cool lyf. My ma en pa gaan ook daar kan wees. Jy weet, ’n dag is soos ’n duisend jaar en ’n duisend jaar is soos ’n dag. So, ek gaan so twee sekondes daar wees dan is my ma-hulle daar. Daar is niks om oor te worry nie …”
Maar, erken Jean, daar was ook ’n baie donker dag.
“Dis rof om daaraan terug te dink … Dit was omtrent maand twee van chemo. Ek was so vet opgepof van kortisoon. Ek het badkamer toe gegaan. Ek gaan nou baie eerlik wees. Ek het gedink hoekom eindig ek dit nie net nou nie. Ek was regtig op ’n moeilike plek … Daardie dag het ek gedink ek gaan liewers nou stop as om aan te hou met hierdie fight … Omdat die dokter gesê het dat net 5% van mense dit maak, het ek myself afgevra: Wat is die punt?
“Maar na hierdie gedagtes het ek op die bed gaan lê en gebid: ‘Liewe Here, ek gee nie om of ek dit maak of nie maak nie. Kan ek net weet watse een … Kan ek net weet gaan ek doodgaan as gevolg van hierdie (die kanker) of gaan ek lewend bly?’ Ek het gebid en gebid en gebid …”
Jean vertel hy het daarna ’n visioen gesien, wat vir hom te persoonlik is om te deel. “Sy antwoord aan my was basies ‘Jy hoef nie te weet nie.’ Dit klink dalk vir mense nie soos ’n satisfying antwoord nie, maar vir my het dit in die oomblik alles beteken.”
Jean plaas gereeld video’s op sosiale media. Hy het onlangs een gedeel nadat hy ’n MRI-skandering gehad het. Soos gewoonlik begin hy die video met “Hallo, al my katte!” Maar deel dan die nuus dat sy kanker ongelukkig 18% vergroot het. Ten spyte van behandeling. “God is nog steeds wonderlik. God is my Redder, God is al rede hoekom ek die lewe het, ek is ewig dankbaar aan God dat ek enigsins ’n sekonde gekry het in hierdie wonderlike lewe, met my wonderlike ma en pa en my broers, vriende …” vertel ’n emosionele Jean.
Hoe bly Jean so positief? Hy antwoord: “God gee vir jou krag in ’n situasie wanneer die situasie kom. Net soos ek … Ek het nie die krag ’n jaar voor my kankerdiagnose gehad om kanker te beveg nie. Maar toe ek kanker kry en ek vir krag bid, het die Here dit vir my gegee.
“Moet nooit bang wees vir enige situasie omdat jy dink jy is te swak nie. God gaan vir jou krag gee wanneer jy dit nodig het. Jy het nie al daai krag op stand-by nodig nie. Daardie krag kom wanneer die situasie kom. Ons is nie bang mense nie, ons glo in God.”
Jean vertel hy het die vorige aand aan iets gedink wat hy graag wil deel. “Ons as Christene moet maklike en vriendelike mense wees. Dit staan so in die Bybel. Nie baie mense vang dit nie, maar jy moet so vriendelik wees soos wat jy kan. Jy moet altyd maklik wees om mee te werk en basies deur jou lewe ’n voorbeeld wees vir die mense wat nie Christene is nie.”
En met daardie kosbare raad stap dié wyse 24-jarige uit die studio na waar sy “Davelduif”, sy meisie Jana Davel, vir hom in ’n koffiewinkel wag.
Later laat weet hy via WhatsApp: “Julle is ’n fees! Baie dankie vir die lekker gesels.”
Maar, die voorreg is LiG s’n.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.