Daar is drie dinge, nee vier, wat van haar ’n buitengewone vrou maak: haar opregtheid, haar liefde vir God en sy Woord, haar slag met woorde. Daar is ook die wysheid wat in haar leef. Dis wysheid wat veral nou, in ’n nuwe seisoen, vir haar rigting en ritme gee.
DEUR FRANCINE PRINS
Lindie Strydom stel ’n koffieplek in die Strand voor waar ons kan gesels. En dit word regtig ’n geselsie, nie ’n onderhoud nie. ’n Kuier saam met ’n vriendin.
Lindie praat geesdriftig oor die nuwe seisoen in haar en haar gesin se lewe. Ná 15 jaar in Centurion het hulle hulle nou in Somerset-Wes kom vestig. Haar man Johann se werk het hulle hierheen gebring.
Hart uitpak
“Dis nie slegs jou adres wat verander wanneer jy trek nie,” sê Lindie. “Ons vind nog ons voete. Ons bokse was vinnig om uit te pak, maar daarna moet jy jou hart begin uitpak. Gelukkig is die Here se genade baie in so ’n nuwe seisoen.”
Sy vertel van die aanpassings wat haar kinders in die nuwe omgewing en skool moet maak. “Sommige dae is maklik; ander is nie so maklik nie. Ons probeer wel om alles wat ons kan, te vier. Ons vier die klein dingetjies én die groot dinge.”
LEES OOK: ‘Ek wens Ruben kon hulle sien,’ sê Lize Kruger oor hul dogters
Die tweeling, Nina en Hugo, is in graad 8. “Ons vier Nina se nuwe vriende en al die nuwe dinge wat sy probeer,” vertel Lindie. “En ek is so bly as Hugo deur al die veranderings heen so gelykmatig is. So asof niks hom van stryk kan bring nie.”
Paul is in graad 10. Dis nie maklik om graad 10 in ’n nuwe skool te begin nie. “Hy is boonop die atleet in ons gesin,” vertel sy ma. “En ons was só bang dat daar as gevolg van die pandemie nie atletiek sou wees nie. Gelukkig was daar byeenkomste, en Paul kon daaraan deelneem. Dit was nou iets om te vier!”
Vastigheid
“My rol is tans om vir my gesin ’n rustige en veilige atmosfeer by die huis te skep, ’n plek waar ons eerlik mag wees.
“Ons almal moet nuwe vriende maak – ek, Johann en die kinders. Ons nuwe seisoen dwing ons uit ons gemaksone. En nou dra al die vreemdelinge boonop maskers, en ons weet nie altyd of daar ’n frons of ’n glimlag agter die masker skuil nie!
“Maar ons sou die dinge wat ons nou moet deurtrap nie beleef het as dit nie vir die verandering was nie. Ons sou nie op dié manier gegroei en geleer het nie.
“Ek weet ook, al het slegs ons groottone nou vastrapplek, daar is darem ’n bietjie bestendigheid te midde van die veranderinge. Juis daarom wil ek ons huis ’n plek maak waar almal ’n stukkie vastigheid kan beleef.
“Ons eet byvoorbeeld elke aand saam aan tafel – ’n gesinstradisie wat vir ons almal vastigheid bring. Deesdae se gesprekke klink egter anders as voorheen. Dis iets wat beslis nie so sou gebeur het as dinge soos altyd verloop het nie.”
Dis lekker vir die Strydomgesin om hul nuwe omgewing te leer ken. “Ons noem onsself ‘inwonende toeriste’,” sê Lindie. “Ons ontdek en sien plekke wat selfs vir baie Kapenaars onbekend is.
“Ons het die bietjie genadetyd so aan die begin van die jaar, voor ons tienerkinders se naweke en programme begin vol raak, ten volle benut. Dis lekker as ons al vyf gesinslede die uitstappies saam kan meemaak.”
Lindie dink terug. “Ek het bitter hard gewerk toe my kinders klein was,” sê sy. “Maar ek is baie dankbaar dat ek hier kan wees noudat hulle groter is. In hierdie tyd kan ek dieper delf in hoe elkeen van my kinders die verandering ervaar.
“Die afgelope tyd besef ek die Here doen nie dinge in ons lewe sodat ons ‘eendag’ dit of dat kan begryp, of dit of dat kan beleef nie. Dinge gaan nie slegs ‘eendag’ sin maak nie. Die Here se werk maak vandag sin en saak. Dit wat Hy doen, is ook vir nou. Die vaardighede wat Hy ons leer, is ook vir nou.”
Dis ook so dat Lindie-hulle die nuwe ervaring een dag op ’n slag hanteer. Sy gebruik die beeld van ’n mat wat uitgeskud word om hul nuwe seisoen te beskryf. “Ons is nog op ’n ontdekkingstog. Die mat word uitgeskud, en ons kyk hoeveel stof weer gaan lê, en waar …”
Ritmes
Hoe vind Lindie self vastigheid?
“Ek probeer om ritmes te skep wat my daardie vastigheid gee. Ek vra twee dinge: my draftyd en my stiltetyd. Dan is ek weer reg om in my gesin se behoeftes te voorsien.
“My man praat dikwels oor energiebestuur. Mense fokus graag op tydbestuur, maar as ons ons energie reg bestuur, sal ons beskikbaar wees vir mekaar. Sal ons regtig hoor wat ons kinders sê as hulle met ons gesels.
“Ek wil ‘dáár’ wees vir my man en kinders. Met my hart en my mond. Met liggaam, siel en gees. Daarom probeer ek om nie energie op onbelangrike dinge te vermors nie. My rol is om helper vir my gesin te wees.”
Vir Lindie lê vastigheid ook in die daaglikse ritme van haar huishouding. “Wanneer jy verhuis, hersien jy alles: die huisskoonmaak, wasgoed was, die tuinwerk.
“Ek soek veral nou daardie bekende ritme, al voel dit soms asof dit alles take is wat alledaags en sieldodend is. Maar juis dit help my om koers te hou.”
Stiltetyd
“Ek soek dikwels temas in my stiltetyd waardeur die Here met my praat. Ek is geneig om op die kleinste stukkie detail te fokus. Soms haak my kop dan vas, en kom ek agter dat ek nou net woorde rondskuif met te veel klem op die kleinste detail. Ek is naderhand nie seker watter punt moet eerste of laaste kom nie …
LEES OOK: Maak heerlike Goulash-sop
“Maar dan gaan draf ek – saam met die Here – en Hy maak vir my nuwe wêrelde oop. Dis asof ek dan beter kan ‘hoor’. Allerlei gedagtes kom by my op terwyl ek draf. Dis dan deel van my stiltetyd – vrydenkend, en deur die Heilige Gees geïnspireer.
“As ek tuis is, sal ek soms stemnotas maak of ’n spinnekopdiagram teken van alles wat by my opgekom het. Dit vorm dan die tema waaroor die Here met my praat.
“Ek beleef hoe die Here my bewus maak van dinge wat Hy wil hê ek moet raaksien. Om dan daardie dinge vir ander aan te gee. Ek leef om te leer, en leer om te leef.”
Lindie inspireer weekliks duisende luisteraars met haar “inspirasie-minuut” vir Radio Tygerberg 104fm en GROOTfm 90.5. “Aanvanklik het ek gewonder hoe op dees aarde ek elke week ’n sinvolle boodskap sal kan bring. Maar dit het, vreemd genoeg, ook ’n ritme in my lewe gebring wat my vastigheid gee.
“Vir my is die gedagte van consume en connect van die grootste belang. Ek wil graag aan luisteraars iets gee waarmee hulle kan connect, en daarom moet ek self iets in God se Woord vind waarmee ek connect. As ons God se Woord bloot consume, bly die Woord op ’n afstand. Maar as ons met God en sy Woord connect, dan verander dit ons hart en ons lewe.
“Die wonderlike besef in my geloofslewe is dat ek na die Here kan gaan net soos ek is. Ek is nie ’n goeie bidder nie. My stiltetyd is maar baie ongestruktureerd. Ek sal soms bloot stil sit met my oë toe. Dan ’n bietjie praat, dan ’n bietjie dink. ’n Stukkie lees, weer ’n rukkie stil word.
“Ek hou daarvan om die Bybel te bestudeer. Om verskillende Bybelvertalings te lees, om ander mense se kommentaar daarop te lees. My stiltetyd is nie vol ‘bosse wat brand’ en ‘hoendervel-oomblikke’ nie. Maar dis hoe die Here my gemaak het, en dis wonderlik dat ek Hom só kan ontmoet.”
Sy bly ’n oomblik stil – en voeg dan by, haar gesig vol lag: “Weet jy, ek geniet dit dat ek die Here mag geniet!”