“Ek word dikwels gevra waarom ek ander mense se stories skryf. Maar eintlik skryf ek God se storie; mense is bloot byspelers daarin.”
Benescke Janse van Rensburg wou aanvanklik ʼn ondersoekende joernalis word. Sy het egter tot die oortuiging gekom dat sy “God se storie” wil vertel toe sy destyds by ʼn Christelike radiostasie gewerk het. Dié skrywer en omroeper vertel: “Ek het die getuienisse sien inkom, gehoor van die wonderwerke wat gebeur, daardie dinge waarvan jy in die Bybel lees. Maar ek het besef niemand skryf dit neer nie.”
Met die skryf van haar eerste boek het sy geweet sy wil nie net vir mense raad gee nie, maar ook hul stories oor wonderwerke met lesers deel.
In haar jongste boek God kan wanneer ons bid, wat onlangs verskyn het, het sy op ouers en hul kinders gefokus. Die boek bestaan uit gebede, asook 80 ouers se onderskeie getuienisse. Benescke vertel: “Die getuienisse is so gekies dat ouers kan weet dat geen versoek te groot en geen gebed te onbelangrik vir God is nie.
LEES OOK: ‘As Jesus mý kon genees, kan Hy dit vir énigeen doen,’ sê tienerboekskrywer
“Ek het die gebede geskryf deur God se beloftes in gebede te omskep. Dit is dus nie mý gebede wat ons bid nie; ons bid God se Woord ‘terug aan Hom’ – en daar lê die geheim.”
Kapings, bloedklonte en die Kaapse Vlakte
Die getuienisse kom uit verskeie oorde: Daar is Alicia Lamprecht, ʼn ma wie se sewe maande oue baba in haar gekaapte voertuig was toe die kaper daarmee weggejaag het. Sy vertel hoe hulle hul kind teruggekry het. En Hardus Zevenster vertel hoe hul seun by die dood omgedraai het toe hy met lewensgevaarlike bloedklonte gediagnoseer is. En ʼn ma van die Kaapse Vlakte vertel hoe haar kind uit die kloue van bendes gered is. Al dié dinge was die gevolg van gebed.
Benescke vertel dis veral ná praatjies wat sy lewer dat mense gretig is om hul storie met ander te deel.
“Ek hou van mense, en dis vir my lekker om met mense te gesels,” sê sy. “Wanneer ek ʼn storie hoor, dink ek daaraan dat ander mense hulle dalk daarmee sal kan vereenselwig. Dan skryf ek dit neer.”
Sommige hoopgewende stories ontspring uit gewone gesprekke, en ander uit ʼn reaksie op ʼn storie of ʼn getuienis wat sy oorvertel het, of uit kommentaar op haar vorige boeke.
Sy sê: “Ek kon agterkom dat daardie mense self hoop dat God ʼn deurbraak in hul lewe sal bewerkstellig.”
‘Ek wou die krag van gebed toets’
Benescke het besluit om die krag van gebed “te toets”. Sy het na mense uitgereik en webinare aangebied – en uiteindelik het sowat 500 mense 21 dae lank saam gevas en gebid.
“Ek het verstom gestaan toe ek sien wat gebeur wanneer mense na God toe gaan. Daar is soveel krag in gebed, en soveel wat ons leer wanneer God ons wys wat Hy kan doen.”
Alles verander nie noodwendig dadelik nie. “Soms het iets onmiddellik verander; ander kere het dit maande geduur.” Selfs ʼn jaar later sou iemand haar kontak en vertel dat daar toe wel ʼn deurbraak gekom het.
Benescke vertel ook graag van haar eie ervarings oor die krag van gebed. Een so ʼn verhaal handel oor die keer toe sy haar been gebreek het. “Dit het gebeur in ʼn tyd toe ons moes trek.”
Sy het geweet sy sou iemand moes kry wat haar kon help. Daar was talle moontlike helpers, maar sy het uiteindelik op ene Veronica besluit, ʼn werklose joernalis.
“Veronica het bokse geskuif, sy het my rondgekarwei. Op haar laaste dag in my diens het sy my vertel dat sy werk gekry het.
“Jare daarna het sy my ook vertel dat sy in daardie tyd toe sy bokse rondgeskuif het werklik die Here ontdek het. En dat Hy steeds die anker in haar lewe is.”
Benescke se smeekgebed dat haar been gou genees moes word, is nie verhoor nie. Maar haar gebed het wel iemand anders se lewe verander. Sy sê sy het opnuut besef dat God weet wat Hy doen. “Soms het ʼn mens nie die antwoord nie. Jy staan met jou rug teen die muur en dinge werk nie uit soos jy gehoop het dit sou nie. Maar dan staan jy verwonderd oor hoe God werk.”
‘Jou gebed word gehoor’
Benescke se boodskap aan mense wat voel hul gebede is nutteloos, is dat God liefdevol is, almagtig en heilig. “Jou gebede slaan nooit teen die plafon vas nie; Hy is altyd bereid om te luister. Hy is ʼn bron van vertroosting en wysheid. Hy sal nooit sy rug op jou keer nie. Soms duur dit effens langer voordat jy bewus word dat daar ʼn verandering kom – maar dalk is Hy dán besig om aan jou hart te werk …”
Sy plaas klem op selfondersoek. “Vra jou af: Aanbid ek God vir wie Hy is, of aanbid ek Hom vir wat ek by Hom kan kry? Soms is krisistye juis die geleenthede waartydens ons karakter gevorm word, waartydens ons agterkom wat werklik in ons hart aangaan.”
Benescke praat graag oor prioriteite, en oor hoe belangrik dit is om doelbewus sekere sake in jou lewe, soos jou huwelik en jul gesinstyd, te prioritiseer. “Neem voorraad op, en besluite waar in jou lewe daar werk nodig is.”
“Onthou, niks is vir God onmoontlik nie.”
*Die boek God kan wanneer ons bid is in Afrikaans beskikbaar, sowel as in Engels as God Can When We Pray. Dit kan hier bestel word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.