Skerpskerts (oftewel “stand-up comedy”) is nie die soort vermaak wat in almal se smaak val nie. “Te veel vuil taal,” sal sommige hieroor sê. Maar deesdae trek daar ook ’n vars briesie oor hierdie verhoog.
Deur Conette le Roux
Mariette Loubser, die 34-jarige komediant wat die afgelope ruk naam maak op die skerpskerts-verhoog, is ’n kleurvolle mens. Van haar byderwetse kuif wat bo haar vonkelende oë rondwip, tot haar heerlike uit-die-maag-uit-lag.
En dan daardie bloedrooi lippe, groot oorbelle en die hande wat deurentyd saam praat. Ek verwys ’n keer na die prominente oorbelle en sy lag: “Hoe groter die partytjie aan my ore, hoe groter die partytjie in my hart!”
Grense
Dié Bolander het maar ’n bietjie meer as ’n jaar gelede op die skerpskerts-toneel verskyn – en sy was dadelik suksesvol. Daar was byvoorbeeld nie een leë sitplek by haar vertoning Wanneer trou jy? by vanjaar se US Woordfees nie.
Almal wat haar in aksie sien, stem saam: Mariette verskuif grense in die skerpskerts-bedryf omdat sy geen vuil grap vertel nie, en trots is daarop dat sy niemand wil aanstoot gee nie. “Ek gebruik nie ‘one-liners’ tydens my optredes nie; ek is ’n storieverteller. En ek dink almal kan hulle met my stories vereenselwig.”
Toe sy begin materiaal versamel het vir haar eerste vertoning, het sy die Here se hulp gevra. “Ek het Hom gevra om my te help om die afgelope tien jaar se ongemaklike situasies te onthou.”
Nou, lag sy, is daar báie sulke oomblikke wat sy met haar gehoor deel. En wat tot die lagwekkende situasies bydra, is die feit dat sy enkellopend is en met haarself en met mense se optrede teenoor haar – wat nog nie “die regte een” ontmoet het nie – kan gekskeer.
God se heelmaakproses
Maar haar lewe was nie altyd ’n komedieverhoog nie. Mariette vertel oor die swaar dae, die maande sonder werk.
Ná haar studies in musiekteater by die Pretoriase Technikon en in drama by die Universiteit Stellenbosch, het sy werk gekry as aanbieder vir die program Hosanna op SABC 2. Met sterre in die oë het sy toe gewag vir nog werk.
Tevergeefs. Twee jaar lank het sy van die een oudisie na die volgende geswerf. Niks.
“In dié tyd,” vertel sy, “was God se heelmaakproses vir my so belangrik. Hy het my gehelp om die verwerping wat ek ervaar het, te bowe te kom. Hy het my genees van soveel leuens oor myself – wat ek later begin glo het. Soos dat ek te hard lag, dat ek te veel praat.
“Ek onthou hoe iemand op ’n dag aan my gesê het ek lag lelik …
“Ek het besef dat alles waarvoor die Here my geroep het om vir sy koninkryk te doen, juis daardie dinge is waarmee ek gemaklik is. Soos om voor baie mense te kan praat, om mense te bemoedig, om vreugde te bring …”
In 2009 het Mariette ervaar dat die Heilige Gees haar vra om haar drome op te gee, soos Abraham vir Isak. Sy het toe begin om blomme en ander dekor vir troues te behartig. Drie jaar lank was sy by ’n Stellenbosse kerk se studentebediening betrokke.
In 2016 het sy egter ervaar die Here wil haar in Johannesburg hê, daar waar die verhoog op haar wag …
Sy vertel hoe sy in dié tyd erg uitgedaag gevoel het: “My vriendinne het almal ’n goeie werk, ’n huis, kinders. Ek moes my gedurig afvra wat mý waarde en identiteit is. En ek moes myself daaraan herinner dat ware sukses is om God te ken.
“Ek het toe leer coach surf – om by vriende as gas te woon,” lag sy. En weer gereeld vir oudisies gegaan. En toe, op ’n goeie dag, vra iemand haar: Het jy al aan komedie gedink?
Mariette sê sy het opgelet hoe ’n vriendin lag terwyl sy vir dié ’n staaltjie vertel, en sy het geluister toe hierdie vriendin óók vra hoekom sy nie skerpskerts oorweeg nie.
En dit was die begin van die nuwe hoofstuk in haar lewe. Haar eerste vertonings was in 2017 in die Ou Meulteater in haar tuisdorp, die Paarl, en by die Maboneng Pop Art Theatre in Johannesburg. Daarna het sy Suid-Afrikaners in Dublin, Londen en in Amsterdam laat lag.
“Alles vir die Here”
Tans bring Mariette en haar vertonings vreugde regoor Suid-Afrika. Namibië sal ook aan die beurt kom.
Sy het sopas ook ’n nuwe vertoning, Toeris-toeris, bekend gestel. Hieroor sê sy: “In plaas daarvan om kwaad te raak oor die verskille in ons onderskeie kulture, vier dié show dit deur daaroor te lag.”
Sy beskryf haar vertonings as ’n mengsel van vreugde, komedie en kabaret. By haar groter optredes is daar ook ’n orkes wat saam met haar optree.
En die grand finale by haar vertonings? Wanneer sy aan die einde almal saam nooi na “die glorierykste troue wat op pad is”?
Hieroor sê sy: “Ek kan dit nie help nie! Hoe kan ek nie my vreugde oor Jesus met ander deel nie? Dis so goed ek weet van ‘n onuitputbare bron van water in ‘n groot droogte, maar deel dit met niemand nie …
“Ek glo alle platforms is vir die Here,” bevestig sy. “Maar uiteindelik kies ons self waarvoor ons die platforms gebruik wat aan ons gegee is.”
Mariette sê … in een sin
- God wil ons intiem ken. Deel jou hart met Hom.
- Gee al jou vrese en teleurstellings aan God.
- God is die grootste bemoediger.