Wanneer jou kinders eksamen skryf, is jy dalk die een wat die meeste stres. Ons kan ons kinders help leer en die regte omgewing skep om te leer. Maar ons grootste taak is om vir hulle te bid. Hier is 4 kort gebede wat jy as ‘n eksamengebed vir jou dogter kan gebruik.
Eksamengebed vir my dogter | As sy gespanne is
Here, U weet hoe angstig my kind kan raak wanneer sy eksamen of toetse skryf. U ken haar deur en deur. U ken haar vrese en haar hoop.
Ek bid dat Jesus se vrede oor haar gedagtes en haar hart die wag sal hou. Dat sy ‘n rustigheid en kalmte sal ervaar, omdat sy weet dat U met haar is.
Help my kind om hard te werk aan haar voorbereiding, en dan te rus in die feit dat sy haar deel gedoen het. My eksamengebed vir my dogter is dat haar harde werk sal vrugte afwerp wanneer sy haar eksamen aflê.
Amen.
Eksamengebed vir my dogter | As sy in haar eie vermoëns twyfel
Here, U het my dogter geskape met elke mooi detail en al die vaardighede wat sy vandag het. My God, my eksamengebed vir my dogter is dat sy nie sal twyfel in haar vermoëns nie. Dat sy sal raaksien wat U so uniek en besonders in haar geskape het.
Mag sy altyd roem in dit wat U vir haar gegee het, en dankbaar wees vir al haar talente en geleenthede. Skuif haar perspektief sodat sy dankbaar en vol vertroue in U sal wees. Vat van haar af weg enige vrees, negatiwiteit en onsekerheid. In Jesus se Naam.
Amen.
Eksamengebed vir my dogter | As sy sukkel met tydsbestuur
My Here God, U het vir elke ding ‘n vaste tyd gemaak. U gee vir ons genoeg ure in die dag om ons dagtaak te voltooi. Soms sukkel my kind om haar tyd reg te bestuur. Here, gee vir haar die wysheid en selfdissipline om haar tyd goed en effektief te bestuur.
Here, gee ook vir my wysheid om haar te lei en aan haar ‘n goeie voorbeeld te stel. Help my om op ‘n praktiese manier my dogter by te staan in haar tydsbeplanning.
Amen.
Eksamengebed vir my dogter | As sy nie gemotiveerd is nie
Dankie, Here, dat dit U is wat ons gewillig en bekwaam maak om u wil uit te voer. Ek weet nie hoe om my dogter te motiveer nie, maar my eksamengebed vir my dogter is dat U haar sal motiveer om hard te werk.
Help my dogter om die regte prioriteite te hê en gee vir haar ‘n groter perspektief sodat sy kan weet wat belangrik is en wat nie.
Mag haar geloof in en kennis van God elke dag toeneem sodat sy haar lewe rondom God se koninkryk sal bou en inrig. Mag sy u koninkryk eerste stel, en dan ontvang van U wat U graag aan haar wil skenk.
Amen.
Hier is nog gebede vir jou gesin.