Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Gebed vir vroue

Hier is ‘n gebed vir vroue in elke seisoen – vir ‘n ouma, ‘n ma en ‘n nuwe ma. Elkeen is ‘n verwerking van die Onse Vader. Jesus het vir sy dissipels ’n eenvoudige gebed geleer nadat hulle Hom gevra het hoe hulle moet bid. Nou kan ons met hierdie woorde bid om ons eiesoortige situasie voor God te bring.

(Die gebede is ook aflaaibaar – klik net op die foto’s.)

Gebed vir vroue: ’n Ouma se gebed

Ons Vader wat in die hemel is, U wat daar was toe elkeen van my kinders die eerste lewenslig aanskou het, laat u heilige Naam die middelpunt en anker wees vir elke gesin in ons familie.

Laat u koninkryk kom, in en deur my kinders se lewe. Laat u wil vir hulle geskied, net soos U in u heiligdom oor hulle gedroom het nog voor hul lewe begin het. 

Gee my kinders vandag die brood van die lewe, en wees vir hulle die Algenoegsame God.

Help my kinders om ’n sagte hart te hê sodat hulle maklik sal vergewe. Sodat hulle nie vol bitterheid leef nie en nie boekhou van die kwaad nie. Laat my kinders ook berou hê oor hul sonde sodat hulle u vergifnis kan ontvang.

My Leidsman, lei my kinders op die regte pad – weg van versoeking, weg van ’n wêreldse kultuur wat U nie eer nie, weg van die breë pad wat so aanloklik voor hulle uitstrek.

Want U is waardig om aanbid te word. U is die Koning van ons familie. U regeer in heerlikheid, krag en oneindige liefde. Vir ewig en altyd. Amen.

Gebed vir vroue: ’n Ma se gebed

Ons Vader wat in die hemel is, U wat my en my gesin soos ’n moederhen onder u vlerk neem, laat ons groot eerbied hê vir u Naam.

Laat u koninkryk kom, vol vrede en regverdigheid en heiligheid, hier tussen ons en in ons. 

Laat u wil geskied wanneer ons by die huis is, by die werk en by die skool. Mag dit waarvoor U my, my man en my kinders geskep het, gebeur soos U dit voorsien het. Laat dit so wees wanneer ons om die etenstafel sit en langs die sportveld staan. Wanneer ons hard werk en wanneer ons rus. In tye van voorspoed en in tye wanneer dinge verkeerd loop.

Here, U is my Voorsiener. Voed my vandag met alles wat ek nodig het, en help my om te rus in die wete dat U ook die brood van die lewe vir my geliefdes is.

Here, help my om mense wat lelik is met my kinders te vergewe. Help my om myself te vergewe vir my tekortkomings. Here, ek vergeef! Vergewe dan ook nou my sonde, my ongeduld, my kleingeloof, my geneigdheid om alles te wil beheer.

Kom red my wanneer ek versoek word. Verlos my daarvan om my met ander te vergelyk, om my kinders na my beeld te wil vorm.

U is die Koning wat oor alles regeer – my mawees, my huishouding, my verhoudings. Aan U behoort die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Gebed vir vroue: ’n Nuwe ma se gebed

Ons Vader wat in die hemel is, U wat my kind gevorm het en aanmekaargeweef het hier in my skoot, laat ons u Naam met heilige ontsag aanroep. U is Skepper van alles wat groot en klein en wonderbaar is.

Laat u koninkryk kom, hier by my en my baba. Laat u wil geskied, in my mawees, my verhouding met my man en in die jare wat vir ons voorlê saam met hierdie kind. Mag u roeping vir my kind gestalte kry namate hy grootword.

Gee my vandag die krag en geduld en wysheid om ’n goeie ma te wees. Voorsien in my behoeftes sodat ek my gesin kan dien.

Here, help my om deur u liefde alles te verdra wat mawees bring, altyd die mooiste van ander te glo en altyd hoopvol te bly. Hou my hart sag, en gewillig om maklik te vergewe. Dankie dat U my tekortkomings vergewe én dit met u genadige liefde bedek.

Almagtige Vader, U ken my sit en my opstaan. Keer my voordat ek afdraaipaaie kies, weg van U – in my gedagtes en in my lewenswandel. Bewaar my van die Bose. En wees U die skild en die skans wat my kind teen boosheid beskerm, al die dae van sy lewe.

Want aan U behoort my lofsange en my klaagliedere. Aan U behoort my dank en aanbidding. Aan U behoort my kind en my gesin en my hele lewe.

Heerlikheid en krag behoort aan U. Tot in alle ewigheid. Amen.

Lees ook gebed vir pa’s en oupas hier.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►