Jesus het vir sy dissipels ’n eenvoudige gebed geleer nadat hulle Hom gevra het hoe hulle moet bid. Ook ons, die Jesusvolgelinge van nou, kan só bid met woorde wat ons eiesoortige situasie voor God se aangesig bring. Hier is ‘n gebed vir pa’s.
Die Onse Vader vir pa’s
Ons Vader wat in die hemel is, U wat ook mý Pa is, laat u Naam geheilig word.
Gee my insig in u koninkryk sodat ek kan leef soos U wil. Sodat my kinders in my lewe kan sien hoe u koninkryk lyk.
Laat u wil in my lewe geskied. Laat my ambisie en drome en planne wees soos wat U dit wil hê.
Alhoewel ek vir my gesin voorsien, weet ek dat U die eintlike Voorsiener is. Gee my wat ek nodig het vandag, en help my om te rus in die wete dat U aan my vrou en kinders sal gee wat hulle nodig het.
Here, help my om te vergewe. Help my om dinge in liefde te verdra en nie my hart te verhard nie. Vergewe my my sondes, my ongeduld, my strewe na status en rykdom. Help my om te sien watter van my doelwitte nie binne u wil is nie.
Sterke God, beskerm my teen versoekings. U weet hoeveel daarvan elke dag oor my pad kom. Bewaar my oë, my hart en my gedagtes. Lei my weg van donkerte en dood na die lig en lewe wat slegs in U te vind is.
Want aan U behoort die krag en die sterkte. Nie aan my nie. Aan U behoort die koninkryk en die beheer. Nie aan my nie. Aan U kom toe die aanbidding en al my vertroue.
Vir ewig en altyd.
Amen.





















