Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Gebede om te bid: Om van sug tot sug te leef

Om te sug is een van vele gebede om te bid.

Die lewe is nie eenvoudig nie, en vir seker nie ons lewe in hierdie tyd en in hierdie land nie. Gelowiges voel soms wel skaam omdat hulle so negatief is, omdat hulle saam praat en saam skel. En saam sug. Maar oor laasgenoemde, die gereelde sugte, kan daar ’n hele storie vertel word.

Ons lag nie eintlik meer nie. Ons sê deesdae vir onsself dat daar eerlikwaar nie veel is om oor te lag nie – nie in hierdie wêreld nie en nie in hierdie land nie. En, sal baie byvoeg, vir seker ook nie in ons eie lewe nie.

Ons sug eerder. Dit doen ons trouens gereeld. Soms voel dit asof ons van sug tot sug leef.

En die Here weet ons het genoeg om oor te sug …

Waarvandaan kom hierdie geneigd­heid om te sug?

Het dit jou oorval toe dit geblyk het dat beurtkrag nie binnekort iets van die verlede gaan wees nie? Dat die ko­mende winter dit selfs sal vererger?

Is dit die nuusdieet van korrupsie en diefstal en geen aanspreeklikheid nie wat jou laat sug? Die politieke speletjies, die gekoes vir slaggate, jou kinders se besluit om die pad te vat na Anderland?

Of is dit doodgewoon jou lyf wat ouer word? Die beeld in die spieël wat na jou kyk, wat jou laat sug omdat die verweer so sigbaar geword het.

Daarby ontstel die dood van tydgen­ote en die besef van jou eie verganklik­heid jou mateloos. Die besef dat jy nié hierdie lewe sal oorleef nie. Ag, en die verlammende wete dat jy toe nie alles bereik het wat jy wou nie. Dat jy soveel van jou drome moet afskryf en etlike ideale finaal prysgee.

Ja, dalk is daardie twee groot v-woorde, verganklikheid en veryde­ling, die grootste aanstigters van ons knaende gesug. Met die ander ellendes wat dit aanblaas, dag na dag, sug na sug.

Ons kom boonop agter dat sug aansteeklik is. Dat ons swaarmoedigheid gou-gou ’n algemene gesug op tou sit – vriende om die vuur, bure by die tee. Gesinslede. Medegelowiges.

Gebede om te bid in ons swakheid

Intussen het ook ons gebede in sugte ontaard. Dit is moontlik ook die gevolg van ’n gelowige se oorgawe aan ’n sug-sug-bestaan.

Sien, ons het verleer hoe om die Here te loof en te prys. En ons weet nie meer hoe dit is om voorbidding te doen nie, hoe om vir ander mense en hul swaar en seer by die Here in te tree nie.

Al wat (dalk) van ons gebedslewe oorgebly het, is lysies, lysies, lysies. Gee my dít, Here. Maak my só, Here. Voorsien hier. Help daar. So tussendeur kry ons darem “asseblief” en “by voorbaat dank” uitgesug.

Maar omdat ons vermoed dat ons gebede ontoereikend is, probeer ons daarvoor vergoed deur baie woorde te gebruik. Dalk ook deur al ons goeie hoe­danighede voor die Here op te noem. Miskien sal dit vir al ons sugte vergoed …

Mettertyd besef ons egter dat dit alles ook simptome van ons bid-onvermoë is. Ons luister weer na Jesus se bestraff­ing van die godsdienstige Jode omdat hulle gedink het hul baie woorde sal God beïndruk.

Dan word ons stiller. Ons gebedslewe verskraal tot skietgebede, nood-gebe­de. Dalk hou ons heeltemal op om te probeer bid.

Nou sug ons net.

Miskien help dit ons dat die apostel Paulus hierdie bloedarmoedige gebedslewe beskryf as “ons swakheid”. Klaarblyklik, en dit is beslis ’n troos, sluit hy homself daarby in as hy sê dat ons nie weet wat en hoe ons behoort te bid nie.

Hier breek die eerste flentertjie lig deur in dié donker prentjie: Ons leer dat die groot gesug nie in ons tyd ontstaan het nie. En dat dit nie as gevolg van ons huidige omstandighede sulke afmetings aangeneem het nie. Nee, om te sug, is so oud soos die Bybel.

Waar sal ons hulp vandaan kom?

Is daar vir ons, die skare sugtendes, ’n uit­weg? Ons weet tog dis nie ’n manier om hierdie lewe voor God se aangesig te leef nie. En ons besef ons kan nie ons gebed­slewe al sugtend verkwis nie.

Wat sal moet gebeur sodat ons van hierdie doodsbestaan verlos kan word? Waar sal ons hulp vandaan kom?

Weer help Paulus ons om ’n antwoord op hierdie vraag te kry. Einste hy, wat destyds self die woord “doodsbestaan” gebruik het om sy eie worsteling met verydeling en verganklikheid en mislukking en magteloosheid te beskryf.

Ons hulp, sê Paulus in sy brief aan die gemeente in Rome, kom uit ons eie hart. Van nêrens anders nie – om die een­voudige rede dat die klank van ons sugte toe verder getrek het as ons vriende en bure en familie se ore, en ons susters en broers in die gemeente s’n.

Ons sugte het tot in ons hart geval – daar waar God se Gees sy intrek geneem het.

En só gebeur die wonder: Ons weet regtig nie hoe nie (wie kan in elk geval ’n wonderwerk verduidelik of verklaar?) maar die Gees neem ons sugte vir Hom.

Hy omvorm dan hierdie sugte – en ons weet steeds nie hoe nie – sodat dit in ooreenstemming met ons Vader se wil is. Op dié manier word ons kruppel gebed­jies met die Gees se asem voor die Vader uitgesug.

Reg gehoor: Al ons pogings om te bid – die “gee my”-lysies; die ydele, herhal­ende woordevloed; die skietgebedjies; die noodroepe; die stilstuipe; elke enkele sug – word volwaardige gebede voor God. Dit alles is die Gees se werk.

Ja, dit is wat die Gees met hierdie skrynende swakheid van ons doen. Dis byna soos ’n ma wat vir ’n pa verduidelik presies wat dit is wat die kind wil sê, die ou kleintjie wat tog so sukkel om reg te praat.

Laat hulle maar kom!

Wanneer ’n gelowige iets van hierdie wonderwerk snap, gebeur daar ’n verdere wonder: Te midde van al ons sugte oor beurtkrag en politiek, oor verydeling en verganklikheid, hoor ons die eerste fluis­teringe van ’n derde v-woord – vooruitsig. Oftewel, hoop-wat-nie-beskaam-nie.

En waar hoop is, dit weet ons tog, is daar lewe.

O, al die hedendaagse ellendes maak ons steeds moedeloos. Maar die hoop-wat-nie-beskaam-nie, waarvan ons opnuut bewus geword het, laat ons nou op ’n ander manier kyk.

Ons hoor ook Paulus se uitroep: Laat hulle maar kom! Lyding, vervolging, honger, gevaar – laat hulle kom! Niks hiervan, of enige van hulle mislike meelop­ers, kan ons van God se liefde skei nie.

Ons sien nou wat ons so dikwels mis­gekyk het. Ons beleef hoe sy liefde ons toevou. Ons ervaar dit as ’n skans teen ons radeloosheid.

En ons besef opnuut dat hoop-wat-nie-beskaam-nie eintlik met ’n hooflet­ter-h gespel moet word. Want hierdie Hoop is ’n Persoon. Hy is niemand minder nie ons Here, Jesus Christus.

Ons leef dus nie regtig van sug tot sug nie, al voel dit dikwels so.

Iewers tussen ons baie sugte deur vind ’n ingryping plaas, eintlik ’n hele reeks ingrypings. En op dié manier maak God Hom telkens aan ons bekend. Word Hy sigbaar en hoorbaar in ons lewe. Sommige gelowiges – hoe geseënd is hulle nie! – is ook daarvan oortuig dat God voelbaar teenwoordig is in hul lewe.

Sug dus maar met oorgawe wanneer hierdie lewe jou onderkry; jy weet nou van die hemelse sug. En daarom weet jy ook dat jou sugte nie tevergeefs is nie. Inteendeel.

Skrifgedeeltes oor gebede wat ons bid:

Romeine 8:26-27

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, vol­gens die wil van God, vir die gelowiges.”

Romeine 8:38

“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Romeine 7:24-25

“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doods­bestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”

Matteus 6:7-8

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

Hierdie artikel is deur Barend Vos geskryf.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►